Prof Leslie Swartz en sy medenavorsers in Hamburg.
Navorsers van die Universiteit Stellenbosch en internasionale vennote ontwikkel wêreldwye ‘Verklaring oor Meertalige Gesondheidsorg’
- Hamburg-verklaring bied praktiese riglyne aan gesondheidsorgpersoneel vir lewering van meer taalkundig billike sorg.
- Sit spesifieke aanbevelings uiteen vir verbetering van taalkundig inklusiewe sorgstrukture.
- Wil pasiënte help wat nie dieselfde taal as hulle gesondheidsorgverskaffers praat nie.
Pasiënte wat nie dieselfde taal as hulle gesondheidsorgverskaffers praat nie, word wêreldwyd benadeel wanneer dit by toegang tot gesondheidsorgdienste en die versekering van sorg van ’n hoë gehalte kom. Gesondheidsorgpersoneel moet dikwels op familielede, kennisse of ander ongekwalifiseerde individue staatmaak om as tolke op te tree, of masjienvertaalinstrumente gebruik, waarvan die gehalte beperk is, veral vir minder algemeen gesproke tale.
Ondanks die verreikende gevolge vir pasiënte en gesondheidsorgstelsels, is daar op baie plekke steeds ’n gebrek aan strukturele oplossings en voldoende bewustheid van die probleem. Dit is die gevolgtrekking van ’n span internasionale navorsers, insluitende navorsers van die Universiteit Stellenbosch (US).
Om praktiese riglyne aan gesondheidsorgpersoneel wêreldwyd te bied oor die lewering van meer taalkundig billike sorg, het hulle die “Hamburg-verklaring oor Meertalige Gesondheidsorg” gepubliseer. Dit is een van die uitkomste van ’n vier jaar lange studie oor “Meertaligheid in die Lewering van Gehalte-geestesgesondheidsorg aan Migrante – Behoeftes, Hulpbronne en Praktyke (MiM2M)”, wat deur die Volkswagen-stigting gefinansier is.
Die verklaring, wat op die internasionale konferensie “Wêreldwye Perspektiewe op Meertaligheid in Gesondheidsorg” bekendgestel wat op 26 en 27 Junie 2026 in Hamburg, Duitsland, gehou is, sit spesifieke aanbevelings uiteen vir die verbetering van taalkundig inklusiewe sorgstrukture. Dit belig ook vyf strategieë om taalgrense in gesondheidsorgdienste te oorkom: aangepaste direkte kommunikasie tussen gesondheidsorgverskaffers en pasiënte, die gebruik van tegnologiese hulpmiddels, die gebruik van meertalige kommunikasiemateriaal, praktisyns wat verskeie tale praat, en professionele sowel as nie-professionele tolke.
Meer as 250 navorsers, gesondheidsorgpersoneel, beleidmakers, kunstenaars en verteenwoordigers van belangegroepe uit talle lande het die konferensie bygewoon om die uitdagings en potensiaal van meertaligheid in gesondheidsorg te ondersoek, asook hoe gesondheidsorgstelsels wêreldwyd taalkundig meer inklusief en regverdig gemaak kan word.
Een van die sleutelaanbevelings van die Hamburg-verklaring is dat alle gesondheidswerkers bemagtig moet word om hulle manier van direkte kommunikasie só te verander dat pasiënte wat nie dieselfde taal as die gesondheidsorgverskaffer praat nie, die gesprek makliker kan volg.
“Om bloot pasiënte se taalvoorkeure stelselmatig in hulle basiese mediese rekords aan te teken, sal reeds ’n belangrike stap in die rigting van meer pasiëntgesentreerde gesondheidsorg wees,” het prof dr Mike Mösko, projekleier by die Universiteits-Mediese Sentrum Hamburg-Eppendorf, gesê.
Nog ’n belangrike aanbeveling is dat elke gesondheidsfasiliteit moet beoordeel of personeellede, insluitende nie-kliniese personeel, enige vorm van tolkdienste aan kollegas binne die fasiliteit lewer. Waar dit wel gebeur, behoort opleiding van tolke, deurlopende toesig, afsonderlike kontrakreëlings en bykomende vergoeding vir sodanige tolkdienste voorsien te word.
“Daar is ’n dringende behoefte aan strukturele verbeterings in die gesondheidsorgstelsel – in die besonder toegang tot professionele tolke wat toepaslik vergoed word vir hulle veeleisende werk. Dit is die enigste manier om misverstande, onnodige toetse en foutiewe diagnoses te vermy,” het dr Jana Husemann, voorsitter van die Hamburgse Vereniging van Algemene Praktisyns, gesê.
Die verklaring beveel ook aan dat gebruikers van gesondheidsorgdienste ingelig moet word dat toegang tot gesondheidsorg ’n mensereg is, en dat suksesvolle kommunikasie die verantwoordelikheid van die gesondheidsorgverskaffer is.
Dit beklemtoon verder dat kinders verbied moet word om as tolke binne gesondheidsorgfasiliteite op te tree.
“Dit gebeur ongelukkig gereeld in mediese fasiliteite dat kinders as tolke vir hulle ouers optree. Dit kan ernstige gevolge hê vir die betrokke kinders,” het Houssie Shirin van die Federale Vereniging van Netwerke van Migrante-organisasies in Duitsland, gesê.
“Ek was veral verras deur die mate waartoe gesondheidsorgpersoneel wêreldwyd aan hulle eie lot oorgelaat word om taalstruikelblokke te hanteer, terwyl duidelik ontoereikende oplossings terselfdertyd aanvaar word,” het prof Leslie Swartz van die Departement Sielkunde aan die US, gesê
Swartz het opgemerk dat die verklaring veral op Suid-Afrika van toepassing is. Hy verduidelik: “Die kwessie van taalhindernisse in gesondheidsorg in die algemeen, en geestesgesondheidsorg in die besonder, is nie nuut in Suid-Afrika nie en hou nie net met migrasie verband nie. Hoewel isiXhosa en Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SAGT) byvoorbeeld amptelike tale is, kan ’n isiXhosa-sprekende persoon wat in Kaapstad gebore is en woon, in sekere openbare gesondheidsfasiliteite vind dat die klinici wat hulle behandel, nie in isiXhosa kan werk nie en geen toegang tot tolkdienste het nie.
“Oor die land heen kan ’n dowe persoon wat gesondheidsorg benodig, dit moeilik vind om ’n klinikus in die openbare gesondheidstelsel te vind wat in SAGT kan werk of wat ’n tolk kan ontbied. Ons Grondwet verbied diskriminasie op grond van taal en moedig insluiting aan.”
Swartz het gesê baie professionele opleidingsinstansies, insluitende die US, skenk aandag aan taalkwessies in sommige opleidingsprogramme vir gesondheidsorgwerkers, maar uitdagings en struikelblokke bestaan steeds.
“Daarom, en grootliks as ’n uitkoms van hierdie projek, was die US-span reeds konstruktief in gesprek met die Direktoraat Kommunikasie van die Departement van Gesondheid en Welstand van die Wes-Kaapse Regering. Die span werk ook saam met die Eenheid vir Gesondheidskommunikasie aan die Universiteit van die Witwatersrand om ’n bod in te dien vir ’n konsensusstudie vir die Wetenskap-akademie van Suid-Afrika (ASSAf). Indien dit deur ASSAf goedgekeur word, sal die bevindings nasionaal met die betrokke staatsdepartemente gedeel word.”
Die bevindings van die internasionale MiM2M-studie, wat deur Suid-Afrikaanse navorsers in samewerking met kollegas van Duitsland, Roemenië, Nederland en China gedoen is, is vir die eerste keer by die konferensie aangebied. Dit het onder meer ondersoek ingestel na die voorkoms en gehalte van die gebruik van ongekwalifiseerde tolke, die moontlikhede en beperkings van tegnologiese vertalingshulpmiddele in gesondheidsorg, asook die ontwikkeling, lewering en evaluering van ’n opleidingsprogram oor die bestuur van meertaligheid vir gesondheidsorgpersoneel.
“Die doel van ons finansieringsprogram ‘Global Challenges: Mobility – Global Medicine and Health Research’ was om nuwe insigte in wêreldwye gesondheidsuitdagings te fasiliteer wat tot dusver min navorsingsaandag geniet het. Dit is presies wat hier bereik is: Die projek het die belangrikheid van taal vir regverdige gesondheidsorg belig en konkrete oplossings in samewerking met internasionale vennote ontwikkel,” het dr Cora Schaffert-Ziegenbalg, die Volkswagen-stigting se programbestuurder vir dié befondsingsinisiatief, gesê.
Suksesvolle voorbeelde van meertalige gesondheidsorg in die praktyk is ook by die konferensie aangebied. Dit sluit onder meer ’n platform in wat deur die Duitse Federale Instituut vir Openbare Gesondheid bestuur word, wat inligting oor seksuele gesondheid en liggaamskennis in 14 verskillende tale beskikbaar stel.
- Die Hamburg-verklaring, tesame met verdere inligting oor die bevindings van die MiM2M-projek en die konferensie, is beskikbaar by www.mim2m.net.