Van links na regs: Ezile Sokuto, Kim Delie, Chamell Johnson, Nosibulelo Kofito en Tenjiwe Mdudu.
Nuwe internskapprogram by US-klinieke open deure vir voornemende mediese ontvangspersone
- Die Kampusgesondheidsdiens van die Universiteit Stellenbosch het in vennootskap met Boland-kollege ʼn internskapsprogram van 18 maande vir voornemende mediese ontvangspersone van stapel gestuur.
- Die inisiatief rus kandidate met praktiese ondervinding in die werksplek toe en versterk tegelyk administratiewe ondersteuning by die Universiteit se besige gesondheidsklinieke.
- Vir die eerste drie interns verteenwoordig die program meer as net werksondervinding – dis ʼn geleentheid om ʼn loopbaan, selfvertroue en hoop te bou.
Vir baie jong Suid-Afrikaners is die verwerwing van ʼn kwalifikasie net die begin van ʼn moeilike reis. Die volgende struikelblok is om die werksondervinding op te doen wat werkgewers vereis, dikwels sonder dat enigeen bereid is om daardie eerste geleentheid aan te bied.
ʼn Nuwe internskapprogram by die Kampusgesondheidsdiens (KGD) van die Universiteit Stellenbosch (US) het ten doel om dié situasie te verander.
Die internskap vir mediese ontvangspersone, wat in vennootskap met Boland-kollege van stapel gestuur is en oor 18 maande strek, bied aan gekwalifiseerde kandidate die geleentheid om kennis uit die klaskamer in praktiese ondervinding te omskep terwyl hulle tegelyk twee van die US se besigste gesondheidsfasiliteite op die Stellenbosch- en Tygerberg-kampusse ondersteun.
Die inisiatief het kort ná dr Kathy Grammer se aanstelling as Senior Direkteur van die KGD in 2025 ontstaan, toe dit duidelik geword het dat die administratiewe eise van die US se multidissiplinêre klinieke aansienlik toegeneem het. Net in Maart vanjaar moes die twee ontvangspersone by die Stellenbosch-kliniek meer as 1 500 oproepe beantwoord. Benewens besige telefoonlyne het ontvangsdienste, asook die reël van afsprake en uitgebreide administratiewe ondersteuning vir kliniese konsultasies en beroepsgesondheidsdienste aansienlike druk op die personeel geplaas.
Grammar is deur ʼn soortgelyke inisiatief by die Wes-Kaapse regering se Departement van Gesondheid en Welstand geïnspireer en die KGD het Boland-kollege genader om ʼn vennootskap te ondersoek. Dié medewerking is vroeër vanjaar met die ondersteuning van die US se Afdeling Regsdienste geformaliseer, wat die weg gebaan het vir drie interns om in Junie by die span aan te sluit.
“Hierdie projek is die Kampusgesondheidsdiens se beskeie bydrae om een van Suid-Afrika se dringendste ontwikkelingsuitdagings – werkloosheid onder jongmense – aan te pak,” sê Grammer.
“Ons glo dat sodra ons interns werksondervinding opgedoen en hulle leerdoelwitte bereik het, hulle geleenthede om betekenisvolle werk te bekom aansienlik sal verbeter – veral as dit met ʼn positiewe CV en stewige verwysings van ʼn gerekende instelling soos die US gepaard gaan. Dit gee tasbare uitvoering aan ons verbintenis om ‘in diens van die gemeenskap’ te wees.”
Grammer meen die program toon hoe vennootskappe tussen hoëronderwysinstellings en beroepskolleges almal kan bevoordeel wat daarby betrokke is.
“Die wen-wen vir alle belanghebbendes is voor-die-hand-liggend. Boland-kollege verbeter gegradueerdes se sukses. Die Kampusgesondheidsdiens ontvang broodnodige administratiewe ondersteuning om kliënte se ervaring te verbeter. En die US ontwikkel volhoubare vennootskappe en ons jong interns het beter loopbaanvooruitsigte.”
Bou selfvertroue deur ondervinding
Hoewel die program help om die druk op administratiewe personeel in die voorste linie te verlig, is die hoofdoel daarvan opvoedkundig van aard.
Kim Delie, senior finansiële beampte van die KGD, en Valdene Southon, die praktykbestuurder, het ʼn gestruktureerde werkplekopleidingsprogram ontwikkel wat daaglikse praktiese verantwoordelikhede met formele leeruitkomste kombineer. Interns voltooi gedurende die 18 maande bevoegdheidsgebaseerde take, werk dagboeke by en werk saam met ervare ontvangspersone wat hulle in elke aspek van die rol begelei.
Volgens Southon sal dit een van die program se grootste belonings wees om te sien hoe die interns professioneel ontwikkel. “Vir my is die opwindende deel om die groei te sien – nie net by die interns nie, maar ook by die personeel wat as mentors vir hulle optree,” sê sy. “Dit was wonderlik om te sien hoe vinnig hulle leer en aanpas. Hulle dra vars idees, entoesiasme en nuwe energie tot ons span by.”
Die interns het volgens Delie ná ʼn maand reeds waardevolle lede van die KGD geword. “Ons administratiewe spanne het ʼn baie swaar werklas, so die ekstra hande het werklik ʼn verskil gemaak," het sy gesê. “Die interns het uitstekend aangepas. Hulle beantwoord reeds oproepe, skep lêers en reël afsprake op hulle eie. Nog belangriker is dat ons hulle wil ontwikkel en ondersteun om bekwame beroepswerkers te word. In die lig van Suid-Afrika se hoë werkloosheidskoers het jongmense geleenthede nodig om praktiese ondervinding op te doen en hulle vaardighede te ontwikkel.”
Steun van kollegas én pasiënte
Vir die drie interns verteenwoordig die program iets veel meer persoonlik as opleiding in die werkplek.
Nadat sy haar kwalifikasie as mediese sekretaris aan die Boland kollege voltooi het, het Ezile Sokuto gesukkel om ʼn plasing te vind, al het sy klinieke, hospitale en gesondheidsorgfasiliteite reg oor Stellenbosch genader.
“Wanneer mens werkadvertensies sien, soek hulle altyd kandidate met twee of drie jaar ondervinding,” sê sy. “Maar hoe doen mens ondervinding op?”
Sy beskryf haar aansluiting by die KGD as bevestigend én inspirerend. “Die personeel is baie ondersteunend en selfs die pasiënte toon begrip. Dis so ʼn groot eer om dít wat ek gestudeer het, in ʼn praktiese omgewing toe te pas. Hierdie internskap het my geïnspireer om verder te studeer en ek hoop om eendag ʼn verpleegkundige te word.”
Chamell Johnson se reis het ewe moeilik verloop. Nadat sy haar kwalifikasie in 2019 behaal het, het sy jare lank tevergeefs na werk in die mediese veld gesoek.
“Ek was met tye werkloos en dit het nie net gegaan oor die feit dat ek nie ʼn werk gehad het nie – dit het ook my geestesgesondheid beïnvloed,” het Johnson verduidelik. “Hierdie geleentheid het my hoop gegee dat ek sukses in die lewe kan behaal. Almal wil iewers wees waar hulle ʼn bydrae kan lewer en waar hulle tuis voel. Hierdie internskap bied vir my waardigheid en hoop.”
Belegging in die toekoms
By die US se Tygerberg-kampus het nog ʼn intern, Nosibulelo Kofito, ontdek dat selfvertroue met ervaring toeneem. Hoewel sy aanvanklik angstig was om telefoonoproepe te beantwoord en pasiënte te ontmoet, sien sy nou daarna uit om elke oggend werk toe te gaan.
“Die personeel verstaan dat ons interns is. Hulle oordeel jou nie – hulle help jou om te leer,” sê sy. “Nou staan ek altyd met ʼn glimlag op om werk toe te gaan.”
Net soos dié van baie jong Suid-Afrikaners, het Kofito se pad na die internskap struikelblokke soos finansiële terugslae, onderbroke studies en werk buite haar gekose veld ingesluit voordat sy uiteindelik die geleentheid gekry het waarop sy gehoop het. Sy droom steeds daarvan om eendag ʼn verpleegkundige of ʼn dokter te word. Intussen is sy vasbeslote om elke aspek van haar huidige rol onder die knie te kry.
Kofito se raad aan ander gegradueerdes weerspieël die gees van die program. “Ek wil studente aanmoedig om aan te hou probeer en nooit bes te gee nie, ongeag hoe lank dit neem,” het sy beklemtoon. “Ek het nooit gedroom dat ek by die Universiteit Stellenbosch sou werk nie. Moenie hoop verloor nie. Jou drome kán waar word.”