Skip to main content
A picture of a group of many African animals, including giraffes, lions, elephants, and monkeys standing together with Kilimanjaro Mountain in the background.
Image by: Adobe Stock
Persverklaring

Verskeie faktore dryf veranderinge in verhoudings tussen mense en natuurlewe

Alec Basson
21 Mei 2026
  • Meer as regstreekse ontmoetings dryf veranderinge in verhoudings tussen mense en natuurlewe.
  • Ook beïnvloed deur mense se waardes, praktyke en instellings wat bestuur van natuurlewe beheer.
  • Verafgeleë rolspelers, die media en storievertelling speel ook ʼn rol.

Menslike bevolkings brei uit en dring natuurlewehabitatte al hoe verder binne, wat dinamiese en ontwikkelende verhoudings tussen mens en natuurlewe meebring. Soos wat ruimtes toenemend op nuwe maniere gedeel word, is dit belangrik om te verstaan wat die dryfvere vir veranderinge in die verhouding tussen mens en naturlewe is.

“Om te verstaan hoe en waarom verhoudings tussen die mens en die natuurlewe verander, kan ons help om meer inklusiewe en doeltreffende benaderings tot hul saambestaan te ontwikkel. Dit vereis dat ons nie net aandag aan ekologiese verandering skenk nie, maar ook aan mense se waardes, praktyke en die instellings wat beheer hoe die natuurlewe bestuur word – veral op plekke waar daar ʼn skielike ekologiese verandering, verskuiwende openbare sienings en omstrede bestuur is,” sê dr Dian Spear van die Sentrum vir Volhoubaarheidsoorgange aan die Universiteit Stellenbosch (US).

In ʼn studie wat Dinsdag (19 Mei 2026) in People and Nature gepubliseer is, het Spear nege voorbeelde uit die kuswaters van Kaapstad en landelike Suider-Afrika ondersoek om beter te verstaan wat veranderinge in die verhouding tussen mens en natuurlewe aandryf en hoe hierdie dryfvere mense se interaksies met die natuurlewe vorm. Volgens haar bied Suider-Afrika ʼn diversiteit van natuurlewe en perspektiewe, gefragmenteerde landskappe en toenemende mensgemaakte druk, wat globale uitdagings in die verhouding tussen mens en natuurlewe weerspieël en ʼn nuttige konteks bied om dit te verken.

Die voorbeelde wat sy ondersoek het, het ingesluit ʼn uitbreking van hondsdolheid onder Kaapse pelsrobbe in en om die kuswaters van Kaapstad; die verdwyning van grootwithaaie uit hierdie waters weens orka-predasie; die wêreldwye reaksie op die doodmaak van Cecil die leeu in Zimbabwe; die invloed van die dokumentêr My Octopus Teacher (wat in die kuswaters van Simonstad naby Kaapstad verfilm is); die gebruik van nagemaakte luiperdpels in kulturele seremonies in Zambië en Suid-Afrika; asook die impak van renosterstropery en gemilitariseerde bewaring in die Nasionale Krugerwildtuin in Suid-Afrika.

Spear wys daarop dat veranderinge in die verhouding tussen mens en natuurlewe wêreldwyd aangedryf word deur verskuiwings in wat diere doen, wat mense doen, wat mense dink, en die reëls wat die samelewing instel. Sy voeg by dat hierdie dryfvere bepaal of mense en wildspesies mekaar sal ontmoet en wat die aard van hul interaksie sal wees.

Sy sê die gevalle wat in haar studie uitgelig is, toon gesamentlik dat mense se verhoudings met die natuurlewe in Suider-Afrika dinamies en dikwels omstrede is, en wyd tussen plekke, oor tyd heen en tussen verskillende groepe wissel. “ʼn Enkele spesie kan as ʼn kulturele simbool, ʼn bedreiging, ʼn bron van inkomste, ʼn gekoesterde buurman, of as al hierdie dinge tegelyk beskou word.”

Volgens Spear bied interaksies tussen mense en bobbejane in die Stad Kaapstad en in landelike Suid-Afrika ʼn duidelike voorbeeld van uiteenlopende verhoudings, omdat mense se houding en reaksie jeens bobbejane oor hierdie gebiede heen verskil. Hierdie verskille beïnvloed die aard van mense en bobbejane se interaksie.

“Van die gevalle toon die invloed van verafgeleë rolspelers en die rol van die media en storievertelling in die verandering van mense se denke en gevoelens oor die natuurlewe. Dit beteken dat die verhoudings tussen mens en natuurlewe deur veel meer as regstreekse ontmoetings gevorm word.”

As die mens sukses wil behaal in die bestuur van toenemend dinamiese en soms omstrede verhoudings tussen hulle en die natuurlewe, sal hulle buigsame, geïntegreerde benaderings in werking moet stel wat natuurlewestelsels én menslike instellings, sienings en praktyke in ag neem, voer Spear aan.

“Op omstrede gebiede verg hierdie dinamika deursigtige, kontekssensitiewe besluitneming, doeltreffende kommunikasie, belanghebberbetrokkenheid en konflikoplossingsmeganismes wat plaaslike én globale perspektiewe in ag neem.

“My studie bied ʼn manier om veranderinge in verhoudings tussen mens en natuurlewe te voorsien en te navigeer, terwyl die behoefte aan kontekssensitiewe benaderings wat emosionele, kulturele en institusionele faktore in ag neem, benadruk word.”

Spear benadruk die behoefte aan meer navorsing oor die verandering in die verhouding tussen mens en natuurlewe in die lig van die tekort aan studies oor sommige van die gevalle wat sy ondersoek het.

  • Bron: Spear, D 2026. “Drivers of change in human-wildlife relationships: Southern Africa as an example.” People and Nature. DOI: 10.1002/pan3.70340

Verwante stories