Glansryke gala gedenk WAT se eeufees en band met die US
- Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) het verlede week sy 100ste bestaansjaar met ’n glansryke gala-geleentheid in die Endlersaal gevier.
- Die woordeboek, wat sedert 1930 by die US gehuisves word, is die mees omvattende woordeboek van Afrikaans.
- Die US se steun aan die WAT vorm deel van die instelling se verbintenis tot die ontwikkeling van Afrikaans en tot meertaligheid.
’n Eeu se werk om die Afrikaanse woordeskat in al sy ryk verskeidenheid op te teken, is onlangs feestelik herdenk op die Universiteit Stellenbosch (US) se kampus. Taalfundi’s, akademici, skrywers, mediamense, sakeleiers, donateurs en vermaakkunstenaars het bymekaargekom vir die 100ste verjaardagviering van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT). Dié kroonjuweel van die Afrikaanse taal is die enigste omvattende, eentalige woordeboek waarin alle variëteite van Afrikaans gedokumenteer word.
Die makietie in die Endlersaal was heel gepas aangesien die WAT al vir meer as 100 jaar verbind is met die US en steeds op die kampus gehuisves word. In ’n volgepakte ouditorium het sangers soos Amanda Strydom, Lize Beekman, Brandon October, Joshua na die Reën, Coenie de Villiers en Karen Petersen die gehoor op ’n meesleurende musiek-en-woordreis van die Afrikaanse taal geneem.
Onder Anna Davel se behendige regisseurshand en Janine Neethling se musikale leiding is diep gedelf in die skatkis van Afrikaanse letterkunde en musiek. Danab Bradley van Sitters, ’n gemeenskapshistorikus, het die bydrae van Khoi- en San-tale tot Afrikaans poëties uitgebeeld. Chris van Niekerk en die skrywer Deon Meyer se voorlesings van die pennevrug van groot geeste soos C.J. Langenhoven, C. Louis Leipoldt, Olga Kirsch, Koos du Plessis, Adam Small en Diana Ferrus het ook die hartsnare geroer.
Die konsert is afgesluit met “Seëngebed”, ’n aangrypende Afrikaanse weergawe van die volkslied, gesing deur die hele geselskap. Tot groot vermaak van die gehoor wat teen dié tyd op hul voete was, het Meyer sy stem tot die koor gevoeg en gewys hy’s nie net ’n bobaasskrywer en voorleser nie, maar ook ’n nootvaste sanger.
US die WAT se ‘akademiese tuiste’
Die aand se seremoniemeester, die TV-aanbieder Kabous Meiring, het die WAT geprys vir die monumentale werk om ’n “reusagtige” woordeboek in stand te hou, terwyl daar voortdurend gepoog word om Afrikaans deur navorsing en ontwikkeling stukrag te gee.
Dr Ronel Retief, registrateur aan die US en voorsitter van die WAT-direksie, het gesê die “akademiese tuiste” wat die Universiteit sedert 1930 aan die WAT bied, behels nie slegs infrastruktuur en kundigheid nie, maar ook ’n intellektuele ruimte waarbinne die projek kon floreer.
“Ons kyk terug met trots, met waardering en selfs met nostalgie na ’n eeu van werk met woorde,” het Retief gesê. “Ons gedenk die WAT wat Afrikaans in sy wydste omvang weerspieël en ruimte skep vir al die taal se variëteite, streektaal en geselstaal.”
Retief het beklemtoon dat die vennootskap tussen die Buro van die WAT, die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT) en die US ’n hoeksteen bly van die WAT se voortbestaan en ontwikkeling. Sy het genoem dat die saamstel van ’n woordeboek ’n dinamiese proses is en dat die WAT in die toekoms nog opgedateer en bygewerk sal word om relevant te bly as ’n gesaghebbende akademiese naslaanbron vir taalkundiges en liefhebbers van Afrikaans.
Die voorsitter van die WAT Trust, Johan Holtzhausen, het die viering as ’n “ongelooflike mylpaal” beskryf. Hy het die uitgelese gehoor herinner dat só ’n “eeuspel” iets is wat ’n mens net een keer in ’n leeftyd sal ervaar. “Vanaand vier ons nie net 100 jaar van woordeboek maak nie, maar sê ons ook dankie aan soveel mense wat in hierdie tydperk ’n bydrae tot die taak gelewer het.”
Dr Phillip Louw, die WAT se hoofredakteur, het die US bedank vir dekades se volgehoue steun. “Aan prof Deresh Ramjugernath, die lede van die rektoraat en die ander personeel wat hier teenwoordig is vanaand, die WAT staan sterk danksy u,” het Louw gesê.
Hy het bygevoeg dat die vennootskap met PanSAT – waarvan die US deel vorm deur die huisvesting van een van die land se 11 Nasionale Leksikografie-eenhede – ’n deurslaggewende rol speel in die ondersteuning van funksionele veeltaligheid in Suid-Afrika deur taalontwikkeling en -beskerming.
Die WAT is veel meer as ’n woordeboek, het Louw benadruk. “Dit is ’n praktiese vergestalting van ’n betreklik klein taalgemeenskap se wil en deursettingsvermoë om ons mooie taal tot dieselfde mate te ontwikkel, beskerm en dokumenteer as die veel groter wêreldtale.”
Gebruikers se geesdrif vir hul taal
Die WAT is aanvanklik gekonseptualiseer as 20 boekdele, waarvan 16 – tot by die letter S – nou al in druk verskyn het. Die aanlyn weergawe van die WAT wat in 2023 bekend gestel is, trek nou by die letter U. Die redaksiespan beoog om die letter Z teen 2028 te voltooi, ’n teiken wat moontlik gemaak is deur ’n tienjaar-befondsingsplan wat in 2018 van stapel gestuur is ná kommer dat die WAT andersins nog twee dekades sou neem om te voltooi.
Volgens Louw is een van die merkwaardigste aspekte van die WAT die manier waarop gewone Afrikaanssprekendes die woordeboek help uitbrei het.
In die 1930’s het die WAT ’n beroep op Afrikaanse mense gedoen om te help om die taal se groeiende woordeskat te dokumenteer. Oor dekades het vrywilligers oor Suid-Afrika heen woorde, uitdrukkings en voorbeelde van taalgebruik op poskaarte neergepen en na die WAT-kantore in Stellenbosch gepos. Teen 1963 het die versameling reeds een miljoen kaarte beslaan.
Louw beskryf dit is as die “vroegste en grootste skare-werwingsaksie in Afrikaans”. Vandag word die ongeveer 3,5 miljoen indekskaarte steeds by die WAT-kantoor in Banghoekweg bewaar. “Die versameling is werklik Afrikaans in sy mees demokratiese vergestalting. Dit wys vir jou mense is lief vir hulle taal,” het Louw gesê.
Mense se sin vir menslikheid en waardigheid is nou gekoppel aan hul taalgebruik, glo Louw. “As jy mense se taalgebruik as minderwaardig afmaak of misken, skend jy hulle menswees. Daarom is ’n projek soos die WAT, waar al die variëteite van Afrikaans op gelyke vlak erken word, so belangrik. Dit skep ’n omvattende ruimte wat vir mense sê die taal wat jy praat is geldig.”
Louw het gesê die woord wat die WAT se 100-jaar-viering die beste vasvang is “trammakassie”, ’n dankbetuiging vir sorg en liefde. “Ons ontvang die mense wat vanaand hier sit se liefde al vir baie, baie jare. En hierdie viering is ’n klein blykie van waardering wat ons vir hulle kan gee.”