Skip to main content

Biochemie

Biochemistry​​​
Image by: SU

Wat is Biochemie?

Biochemie vorm die brug tussen chemie en biologie – dit ondersoek die molekulêre en chemiese prosesse wat lewe moontlik maak. Biochemici bestudeer molekules, hul strukture en hoe hulle met mekaar in wisselwerking tree om biologiese funksies te bewerkstellig. Hierdie insigte spoor vooruitgang in velde soos medisyne, farmaseutiese ontwikkeling, forensiese wetenskap en voeding vir mens én dier aan.

Die Departement Biochemie bied ’n dinamiese, navorsingsgedrewe leeromgewing waarin ons toekomstige wetenskaplikes toerus. Sedert ons stigting in 1974 is ons daartoe verbind om werklik betekenisvolle verandering te bewerkstellig – in ons studente, onsself, ons omgewing en in hoe ons lewe op molekulêre vlak verstaan. Vandag leef hierdie gees voort in ons laboratoriums en klaskamers, gegrond op waardes soos integriteit, respek, oop kommunikasie en aanspreeklikheid.

“Ons verbintenis tot vooruitgang blyk uit ons werk in onder meer steroïednavorsing, middelontwikkeling, immunologie en sisteembiologie – velde waar baanbrekersinsigte nie net ons onderrig beïnvloed nie, maar ook nuwe navorsing aanwakker.”

Ons Programme

Biochemie is ’n hoofvak in verskeie graadprogramme wat deur die Fakulteit Natuurwetenskappe aangebied word. Die volgende programme bied Biochemie as hoofvak aan:

BSc Molekulêre Biologie en Biotegnologie

Hierdie program rus jou toe met die nodige agtergrondkennis om lewende organismes op molekulêre vlak te verstaan. Dit bied ’n stewige basis vir ’n loopbaan waarin jy Molekulêre Biologie en die toepassing daarvan in Biotegnologie sal gebruik.

BSc Menslike Lewenswetenskappe

Fisiologie fokus op die menslike liggaam en die ingewikkelde biochemiese prosesse wat dit laat funksioneer. Hierdie program bied ’n grondslag om die werking van die liggaam – van molekulêre tot sisteemvlak – te verstaan.

BSc (Fokusgebied: Bioinformatika en Biologiese Rekenaarmodellering)

Hierdie program ondersoek biologiese vrae aan die hand van groot hoeveelhede data wat deur moderne navorsingsmetodes met hoë deurset gegenereer word. Jy leer hoe om hierdie datastelle te gebruik, databasisse te ontwerp om toegang tot inligting te vergemaklik en algoritmes of sagtewarenutsmiddels te ontwikkel om die data te verwerk en te interpreteer.

BSc (Fokusgebied: Biowiskunde)

Biowiskunde is ’n interdissiplinêre veld waar wiskundige, statistiese en rekenaarmetodes gebruik word om verskynsels en navorsingsvraagstukke in die biologiese, biomediese en omgewingswetenskappe te help verklaar. Dit sluit byvoorbeeld in hoe die verspreiding van MIV/Vigs, malaria en tuberkulose voorspel kan word, of wat die moontlike gevolge van klimaatsverandering is.

BSc Chemie (Fokusgebied: Chemiese Biologie)

Hierdie program lei jou op vir ’n loopbaan in sektore van die chemiese industrie waar die fokus op organiese en biochemiese aspekte van chemie val – soos voedselproduksie of mediese chemie. Dit berei jou ook voor op nagraadse studie en ’n navorsingsloopbaan in Organiese Chemie en/of Biochemie.

BSc Fisika (Fokusgebied: Laserfisika – Biologies)

Met die vinnige toename in die gebruik van lasers in mediese en biologiese velde, rus hierdie program jou toe met die kennis en vaardighede om as fisikus met kundigheid in optika, lasers en die toepassings daarvan in biologie en medisyne te werk — ’n kundigheid wat wêreldwyd in aanvraag is.

Nagraadse programme

BSc Honneurs in Biochemie

’n Geïntegreerde eenjaarprogram wat jou gevorderde opleiding in biochemie bied. Benewens inhoudskennis lê ons sterk klem op praktiese en rekenaargebaseerde vaardighede – beide vakspesifiek en generies.

MSc in Biochemie

As MSc-student voltooi jy ’n oorspronklike navorsingsprojek in een van ons navorsingsgroepe en stel jy jou bevindings in ’n tesis saam.

PhD in Biochemie

Hier voer jy ’n gevorderde navorsingsprojek uit in ’n spesifieke navorsingsgroep en dien jy ’n proefskrif in waarin jy jou resultate en bydraes tot die veld uiteensit.

2025 Honneurs Pryse

Befonds deur Innovative Research Solutions.

2025 Best Honours poster

Beste Honneurs plakkaat

Amaya Lakmeeharan

2025 Best Honours student

Beste Honneurs student

Amaya Lakmeeharan

2025 People's Choice Honours poster

People's Choice plakkaat

Noah Bauer

Komende Geleenthede

Woon ons geleenthede by en ontdek, groei, leer en raak betrokke by ons gemeenskap.

events photo

Kontak ons

Telefoon: +27 21 808 5862


Afdelingshoof:
Prof. Erick Strauss
[email protected]

Departementele bestuurder:
Me Gertrude Gerstner
[email protected]

Beampte: Nagraadse ondersteuning en navorsing:
Me Tarryn-Lee Kruger
[email protected]

Straatadres:
Departement Biochemie
Blok A, Groendvloer
JC Smuts-gebou 
Van der Bylstraat (toegang vanuit Banghoekweg)
Stellenbosch