Skip to main content
A weeping bottlebrush (Melaleuca viminalis) along the Eerste River - this species has invaded a substantial stretch of the river and is spreading rapidly downstream from Stellenbosch.
Image by: Dave Richardson

’n Treurbottelborsel (Melaleuca viminalis) langs die Eersterivier – hierdie spesie het ’n aansienlike gedeelte van die rivier ingeneem en versprei vinnig stroomaf vanaf Stellenbosch. Foto: Dave Richardson

Persverklaring

Eersterivierstudie het jóú nodig: studente, stappers, grondeienaars en ander belanghebbendes

Wiida Fourie-Basson
Media officer, Faculty of Science
17 Februarie 2026
  • Die vorige norm-opname is meer as twee dekades gelede gedoen.
  • Die treurbottelborsel, ’n indringerplant, het alreeds ’n aansienlike gedeelte van die rivier ingeneem en is besig om vinnig te versprei.
  • Sleuteldata oor die inheemse spesies wat steeds binne en aangrensend aan hoofsaaklik uitheemse gemeenskappe langs die Eersterivier voorkom, sal insigte bied oor bestuursopsies.

Die Universiteit Stellenbosch se Sentrum vir Indringerbiologie pak ’n omvattende projek aan om die stand van inheemse en plantindringers oor en langs die volle lengte van die Eersterivier vas te stel, sodat hul dit in die toekoms as norm vir die toedrag van sake kan gebruik. 

Ten einde hierdie ambisieuse doelwit te kan bereik, word ’n beroep op die publiek gedoen om by te dra tot die rekordhouding/aantekening van uitheemse plante binne-in die rivier en ’n strook van 20 meter aan beide kante, al langs die rivier. ’n Projek  getiteld “Eerste River plant communities”, is op die burgerlike wetenskapstoepassing  iNaturalist geskep en het reeds meer as 8700 bydraes oor 660 plantspesies wat gesien is. Hierdie inligting sal as basis van die inventaris dien. 

Die Eersterivier ontspring in die Jonkershoekberge by ’n hoogte van 530 meter. Vanaf Jonkershoek vloei die rivier deur Stellenbosch-dorp voordat dit suid draai en uiteindelik by Macassar in die Atlantiese Oseaan in Valsbaai uitmond. Oor sy 42 kilometer lange reis, vloei dit deur verskillende landskappe  – van landbouareas (wingerde, boorde en landerye) tot kommersiële bosbou, gemeenskapsweiding, nywerhede en afvalwatersuiweringsaanlegte tot verstedelikte woongebiede.

Volgens prof Dave Richardson van die Departement Plant- en Dierkunde, is die eerste norm-opname ongeveer twee dekades gelede gedoen: “Ons moet verstaan hoe plantgemeenskappe oor tyd verander het, of daar nuwe indringers is en die mate waarin bestuursintervensies suksesvol was,” verduidelik hy. 

Sy eie waarnemings wat byvoorbeeld op die iNaturalist-toepassing oor die afgelope paar jaar vasgelê is, toon dat die treurbottelborsel (Melaleuca viminalis), ’n indringerplant, alreeds ’n aansienlike gedeelte van die rivier ingeneem het en vinnig versprei.

“Die Eersterivier is ’n klassieke voorbeeld van rivierstelsels in Mediterreenseklimaatstreke  wat dikwels relatief ongerepte boonste opvangsgebiede het, maar grootliks verander is deur menslike aktiwiteite in hul laer lope,” verduidelik Richardson.

Alhoewel dit onrealisties mag wees om erg versteurde gebiede tot hul historiese staat te herstel, bly dit belangrik dat oewer-ekosisteme nuttig bly om waardevolle ekosisteemdienste te kan lewer, soos om as korridors te dien vir die beweging van wild en die voorkoming van erosie. 

“Sleuteldata oor die inheemse spesies wat steeds binne en aangrensend aan hoofsaaklik uitheemse gemeenskappe langs die Eersterivier voorkom, sal insigte bied oor opsies vir herstel,” voeg hy by.

Alle belangstellendes word genooi om te help om omvattende data oor die verspreiding van inheemse en uitheemse plante oor die hele lengte van die rivier te bekom. Aangesien ’n groot gedeelte van die rekords bestaan uit die rivieroewerplantegroei in stedelike Stellenbosch, benodig die span veral hulp met die insameling van data van ander dele van die rivier, beide stroomop en stroomaf van Stellenbosch. 

Eienaars van grond wat aan die Eersterivier (en sy sytakke) grens, word versoek om hulp te verleen deur óf self rekords in te dien óf deur lede van die projekspan beheerde toegang tot hul grond te gee. Belangstellende wat betrokke wil raak, word versoek om HonsBSc-student, Me Raphaelle Moors by [email protected] te kontak vir registrasie. Verskeie  inligting- of opleidingsessies sal langs die rivier gehou word om te verseker dat data op ’n manier ingesamel sal word wat dit bruikbaar vir die projek maak. 

Kontak

Me Raphaelle Moors

E-pos: [email protected]

Verwante stories