Breadcrumb
Kortkursusse
As deel van ons mandaat om die professionalisering van die onderrigrol aan die US te bevorder, bied SOL tans vyf interne, US-geakkrediteerde kortkursusse aan. Dit is gratis vir US personeel. Ons bied ook die eweknieleerfasiliterings-kortkursus aan vir US-studente.
Die Assessering, Leer en KI-kortkursus is ’n nuut hersiene kortkursus wat inhoud kombineer uit die vorige Assessering-kortkursus en die vorige Kunsmatige Intelligensie (KI) Geletterdheid in onderrig-leer-assessering (OLA)-kortkursus. Dit het ten doel om geleenthede te skep om OLA in die era van KI te herbedink. Deelnemers sal sleutelkonsepte verken, soos die verskillende doelwitte van assessering, konstruktiewe belyning, terugvoer, portuur- en selfassessering, en die rol van akademiese navorsing in die vorming van doeltreffende praktyke.
SOL bied ook die jaarlikse Professionele Opvoedkundige Ontwikkeling vir Akademici (PRONTAK)-kortkursus aan vir nuut aangestelde akademici aan die Universiteit Stellenbosch. PRONTAK is ’n amptelike US-kortkursus wat gemik is op die professionele leer van akademici in hul onderrigrol.
Die kortkursus in die Akademieskap van Opvoedkundige Leierskap (in Engels "Scholarship of Educational Leadership", afgekort na SoEL) fokus op beide leierskap in en akademieskap van onderrig-leer-assessering (OLA). Die idee is om 'n kritieke massa OLA-leiers by die Universiteit Stellenbosch te kweek wat belyn met die professionalisering van die onderrigrol soos beskryf in die US Onderrig-Leer Beleid (2025). Die kortkursus put uit twee kennisgebiede: Akademiese leierskap (AL) en die akademieskap van onderrig en leer (AvOL, of in Engels "Scholarship of Teaching and Learning" afgekort as SoTL), met die doel om konseptuele raamwerke uit hierdie twee domeine met mekaar te verbind. Hierdie raamwerke bied aan deelnemers teoretiese lense om hul eie praktyke as opvoedkundige leiers te ondersoek en daarop te reflekteer. Die SoEL-kortkursus neem 'n breë beskouing van opvoedkundige leierskappraktyk en sluit ander ondersteunende praktyke in, soos refleksie, veranderingsbestuur, innovasie en kontekstuele bewustheid. Een deelnemer per fakulteit (senior akademikus) word jaarliks deur die visedekaan (O&L) genomineer.
Die SoTL-kortkursus oor die Akademieskap van Onderrig en Leer (AvOL, of in Engels "Scholarship of Teaching and Learning", afgekort na SoTL) het dit ten doel om akademici by te staan met die konseptualisering en ontwerp van 'n AvOL-navorsingstudie. Deelnemers leer hoe om navorsing in die veld van onderrig-leer-assessering te doen en hulle verken opvoedkundige teorieë en literatuur as 'n navorsingsraamwerk. Die kursus het dit ten doel dat deelnemers hul navorsingsvrae verfyn, 'n gepaste metodologie ontwerp, leer hoe om data in te samel en te interpreteer. Uiteindelik formuleer deelnemers 'n navorsingsvoorstel wat aan die US se etiese beginsels en institusionele praktyke voldoen.
Die Kortkursus in Eweknieleerfasilitering (Tutorskap) is SOL se enigste kortkursus wat op studente gemik is. Dit is 'n institusionele gestandaardiseerde opleidings-kortkursus vir alle eweknie-fasiliteerders (tutors) wat formeel deur fakulteite in die universiteit aangestel is. Hierdie kursus kan gebruik word om enige bestaande opleiding in fakulteite aan te vul, of om eweknie-fasiliteerders vir fakulteite formeel op te lei. Die kortkursus vind ten volle aanlyn plaas en is as 'n kokurrikulum-aanbieding by die US geregistreer en goedgekeur.