Skip to main content

Beskerm jou gehoor

05 Maart 2026

Werkplekke kan meer raserig wees as wat ons soms besef. Herhaalde blootstelling aan geluide bo 85 desibels, of langdurige gebruik van oorfone teen hoë volumes, kan met verloop van tyd tot permanente gehoorverlies lei.

Navorsing toon ’n sterk verband tussen gehoorverlies en ’n verhoogde risiko om demensie te ontwikkel. Dit blyk ook dat die risiko toeneem namate gehoorverlies ernstiger word. Hoewel gehoorverlies nie demensie veroorsaak nie, kan dit op verskeie maniere tot die ontwikkeling daarvan bydra:

Verhoogde kognitiewe lading: Die brein moet harder werk om klanke te verwerk, wat met verloop van tyd kognitiewe hulpbronne kan uitput.
Sosiale en geestelike impak: Gehoorverlies kan lei tot sosiale onttrekking, eensaamheid en minder verstandelike stimulasie – faktore wat erken word as risiko’s vir kognitiewe agteruitgang.
Moontlike gedeelde breinveranderinge: Sommige navorsers reken dat daar onderliggende veranderinge in die brein of bloedvate kan wees wat beide gehoor en kognitiewe vermoë beïnvloed.

Die goeie nuus is dat gehoorverlies in ’n groot mate voorkombaar is. Praktiese stappe sluit die volgende in:

Beskerm jou ore: Gebruik oorpluisies of oorbeskermers in lawaaierige omgewings.
Volg die 60/60-oorfoonreël: Hou die volume onder 60% en neem elke 60 minute ‘n breuk.
Vroeë assessering en gehoorapparate: Gereelde ondersoeke en die gebruik van gehoorapparate wanneer dit aanbeveel word, kan help om gehoorgesondheid te behou.
Bly sosiaal en verstandelik aktief: Interaksie met ander en stimulerende aktiwiteite ondersteun algehele breingesondheid namate ons ouer word.

 

Ly jy dalk aan gehoorverlies?

• Vra jy mense gereeld om wat hulle gesê het te herhaal?
• Moet jy die TV, radio of musiek harder stel as wat ander mense verkies?
• Sukkel jy om gesprekke in lawaaierige omgewings te volg?

As jy bekommerd is oor jou gehoor, kontak Kampusgesondheidsdiens om ’n afspraak te maak:

Stellenbosch-kampus: 021 808 3494
Tygerberg-kampus: 021 938 9590