Skip to main content
Matthys de Wet
Image by: Stefan Els

Matthys de Wet, 77, wat sy MIng in Bedryfsingenieurswese ontvang.

 

Toekennings en mylpale

Lewenslange leer in aksie: MIng-graad op 77

Amber Viviers
09 Desember 2025
  • Op 77 verwerf Matthys de Wet sy MIng-graad aan die Universiteit Stellenbosch.
  • Sy navorsing wys hoe ervaring ware innovasie in hernubare energie kan dryf.

Matthys Johannes de Wet bewys dat leer geen ouderdomsgrens het nie. Hierdie Desember stap hy op 77 oor die verhoog tydens die gradeplegtigheid van die Universiteit Stellenbosch (US) met ’n MIng in Bedryfsingenieurswese – ’n mylpaal wat studente en professionele mense ewe veel inspireer.

Matthys het sy BSc en BIng (Meganies/Bedryfs) in die 1970’s aan die US voltooi en daarna ’n omvangryke loopbaan in ingenieurswese regoor Suider-Afrika opgebou. Hy het onder meer gewerk by Iscor/Imkor Zink in Namibië, Samancor chroommyne in Rustenburg, Sasol Mynbou in Secunda, en later MBB Consulting Engineers in Stellenbosch. Ná sy aftrede by MBB in 2010 het hy NRGen Advisors gestig, met ’n fokus op hernubare energie en tegnies-ekonomiese oplossings vir die landbousektor.

In 2023 het Prof Wikus van Niekerk, Dekaan van die US Fakulteit Ingenieurswese, hom genader om ’n haalbaarheidstudie vir ’n 5 MW biomassa-na-energie (biomass-to-energy (BtE)) kragstasie vir Stellenbosch te doen, in vennootskap met die Sentrum vir Hernubare en Volhoubare Energie Studies (Centre for Renewable and Sustainable Energy Studies (CRSES)). Nadat die aanvanklike resultate aangedui het dat die koste van elektrisiteitsopwekking nog te hoog is, het Matthys besluit om die werk verder te neem en dit in ’n meesterstesis te omskep onder die studieleiding van prof Joubert van Eeden. Sy aangepaste ontwerp het gewys dat so ’n aanleg elektrisiteit teen ’n mededingende koste van R2.80/kWh kan lewer, met ’n interne opbrengskoers van meer as 16% binne ’n voorgestelde aankoopooreenkoms vir die langtermyn.

Sy navorsing toon die omgewingswaarde van hierdie benadering. Biomassa afkomstig van indringerboomspesies, sowel as ou vrugtebome en wingerde wat gewoonlik verbrand word, kan eerder as brandstof vir ’n hernubare basislas-energie-oplossing dien. ’n 5 MW-stelsel kan sowat 50 000 ton houtagtige biomassa per jaar verwerk, wat brandrisiko’s verlaag, watersekerheid in opvangsgebiede ondersteun en slegs CO₂ en waterdamp uitstoot. Die as uit die verbrandingskamer is omgewingsvriendelik en word as grondverbeteringsmiddel in die landbou gebruik.

Wanneer hy terugdink oor die pad wat sy navorsing geloop het, merk Matthys op dat sy jarelange praktiese ervaring die rigting en toepaslikheid van die studie betekenisvol gevorm het. Sy raad aan ander wat hul studies wil voortsit? Hy beklemtoon dat ervaring in jou ingenieursveld, saam met blootstelling by ’n gevestigde werkgewer, jou help om leemtes in prosesse, materiaalvloei en toepaslike tegnologie raak te sien – insigte wat jou uiteindelik in staat stel om ’n tesis te ontwikkel met werklike waarde vir die bedryf.

Prof van Eeden, wat reeds verskeie volwasse nagraadse studente begelei het, sê dat hy veral die praktiese kennis en perspektief wat sulke kandidate bring, waardeer. Hy verduidelik dat sy rol hoofsaaklik is om die navorsingsproses te rig en te ondersteun, terwyl hy self ook baat vind by die ervarings wat hulle inbring.

Matthys se prestasie beklemtoon die waarde van lewenslange leer en bewys hoe ervaring en opgeboude kennis steeds innovasie binne die ingenieursbedryf bevorder.

 

Verwante stories