Colin Deiner ontvang sy honorêre Doktor in Ingenieurswese (DIng), vergesel deur Prof Deresh Ramjugernath, rektor en visekanselier van SU.
US ken eregraad in ingenieurswese toe aan rampsbestuurkenner Colin Deiner
- Colin Deiner het ʼn eredoktorsgraad ontvang.
- Hy help bevorder rampbestuur en -reaksiedienste.
Universiteit Stellenbosch (US) het ’n eregraad aan mnr Colin Deiner tydens die gradeplegtigheiddseremonie vir die Fakulteit Ingenieurswese toegeken.
Deiner, wat as Hoofdirekteur van Rampsbestuur en Brand- en Reddingsdienste vir die Wes-Kaapse Regering dien, word internasionaal erken vir sy uitgebreide kundigheid in rampsbestuur en -reaksie. Hy het die graad van Doktor in Ingenieurswese (DIng), honoris causa, ontvang.
Eredoktorsgrade word toegeken aan buitengewone individue wat hulself in hul onderskeie velde onderskei het en betekenisvolle bydraes tot die samelewing gelewer het.
Deiner het verskeie Suid-Afrikaanse soek- en reddingspanne na rampgebiede binnelands en internasionaal gelei.
In sy reaksie het Deiner gesê dat hy hom “diep vereer” voel om hierdie eredoktoraat te ontvang van die US, ’n instelling wat bekend is vir ingenieursuitnemendheid in Suid-Afrika.
"Om die eerste rampsbestuurder te wees wat hierdie erkenning ontvang, is ’n groot eer, en ek aanvaar dit namens al die mans en vroue wat in ramprisikobestuur en nooddienste werk.”
Hierdie eer weerspieël voorts ’n belangrike verskuiwing: Rampsbestuur word nie meer slegs as ’n reaktiewe dissipline beskou nie. Dit het ‘n ingenieurswese-uitdaging geword wat wetenskaplike strengheid, innovasie en veerkragtige ontwerp verg in die aangesig van toenemend komplekse risiko’s.
Rampe vind plaas waar mense, infrastruktuur en die omgewing mekaar ontmoet – en daardie raakpunt is fundamenteel ’n ingenieursruimte. “Ingenieurswese is die stille ruggraat van veerkragtigheid. Dit is die ongesiene massa agter die vloedwal, die strukturele integriteit van ’n brug in ’n geswolle rivier, die betroubaarheid van ’n pompstasie wat die stad aan die lewe hou, die oortolligheid wat in ’n kragnetwerk ingebou is, die ontwerp van geboue wat bedoel is om beide tyd en ramp te oorleef.
“Ek glo hierdie erkenning versterk die samewerking tussen ingenieurswese en rampbestuur terwyl ons werk om veiliger, veerkragtiger gemeenskappe regoor Suid-Afrika te bou.”
Loopbaan in rampreaksie
Deiner, wat 40 jaar se ondervinding in sy veld het, het sy loopbaan as ’n brandweerman begin toe hy 21 jaar oud was. Hy het ’n baccalaureus-ekwivalente graad in brandtegnologie en het talle beroepsopleidingskursusse in Suid-Afrika en in die VSA voltooi.
Hy het uitgebreide bestuursondervinding in die koördinering en bestuur van provinsiale rampsbestuursentrums, sowel as brand- en reddingsdienste.
Deiner het vanaf operasionele rolle tot provinsiale bevel in die Wes-Kaap en Gauteng gevorder. Hy lei nou die Wes-Kaapse Provinsiale Rampsbestuursentrum, wat in onlangse jare noodreaksies op groot vloede, veldbrande, die Covid-19-pandemie en ’n groot woonstelgebou se ineenstorting in George hanteer het. In 2024 met die ineenstorting van die gebou, het hy as insident-bevelvoerder meer as 600 mense in Suid-Afrika se suksesvolste stedelike soek- en reddingsoperasie tot dusver gelei, en 29 oorlewendes gered – die laaste ná 118 uur.
Toekennings, innovasies en blywende nalatenskap
Deiner het die “aanvanklike vinnige aanval”-lugbrandbestrydingskonsep in die Wes-Kaap bekendgestel. Dit behels ’n betekenisvolle vroeë reaksie van brandbestryding-vliegtuie in die beginstadium van ’n moontlik verwoestende veldbrand.
Op nasionale vlak het hy rampstrategieë vir die 2010 FIFA Wêreldbeker ontwikkel en stedelike soek- en reddingsplanne vir die 2002 Wêreldberaad oor Volhoubare Ontwikkeling gekoördineer. Hy het ook Gauteng se eerste verklaarde ramp weens xenofobiese geweld in 2008 bestuur. Tydens die Covid-19-pandemie het hy toesig gehou oor die kwarantyn en repatriasie van 8 000 buitelandse burgers.
Sy kundigheid word uitgelig deur sy leierskap van Suid-Afrikaanse spanne in aardbewingsones, insluitend Turkye (1999), Indië (2001), Algerië (2003), Iran (2003-2004), Pakistan (2005), Haiti (2010) en Japan (2011). Hy het ook spanne gekoördineer wat vloedhulpleniging in Malawi (2015) en tsoenami-hulp in Asië (2004-2005) verskaf het.
Deiner het die Wes-Kaapse Premier se Toekenning vir Uitnemende Diens in 2021 en die Nasionale Batho Pele-silwertoekenning in 2022 ontvang.
Die Dekaan van die Fakulteit Ingenieurswese, prof Wikus van Niekerk, het hom gelukgewens en gesê: “Hierdie eregraad sal help om bewustheid te verhoog van die helde agter die skerms in Suid-Afrika se ingewikkelde rampbestuurlandskap.”
Hierdie DIng sluit aan by die US se Meestersgraad in Brandingenieurswese en belig Deiner se interdissiplinêre impak in ingenieurswese, beleid en die bou van veerkragtigheid, het hy bygevoeg.
Deiner het sy uitgebreide kundigheid wyd gedeel en gereeld tot bedryfspublikasies oor rampbestuur, soek en redding, veldbrande en verwante onderwerpe bygedra. Hy het ook met verskeie departemente van die universiteit saamgewerk – insluitende Brandingenieurswese in die Fakulteit Ingenieurswese, die Navorsingsalliansie vir Ramp- en Risikovermindering (RADAR) in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe en die Afdeling Noodgeneeskunde in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe – om sy kennis te deel en navorsings- en opleidingsinisiatiewe te ondersteun.