Skip to main content
Prof Craig McGregor

Prof Craig McGregor

Image by:
Toekennings en mylpale

Gesogte genootskap van St Andrews Universiteit aan US-ingenieursprofessor toegeken

Faculty of Engineering
22 Junie 2026
  • Prof Craig McGregor is aangewys as een van slegs twee ontvangers van die Universiteit van St Andrews se Global Fellowship (Practice) vir 2027.
  • Die genootskap sal ’n nuwe navorsingsamewerking ondersteun wat op skoon energie en termochemiese langtermyn-energieberging fokus.

Prof Craig McGregor van die Fakulteit Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US) is aangewys as een van slegs twee ontvangers van die Universiteit van St Andrews se Global Fellowship (Practice) vir 2027. Hierdie gesogte internasionale toekenning erken leiers wie se professionele prestasies ’n beduidende impak buite die akademie gemaak het.

Die Global Fellowship-program bring vooraanstaande internasionale akademici en praktisyns na St Andrews om ’n bydrae tot die Universiteit se navorsingsgemeenskap te maak deur middel van samewerkingsprojekte, seminare, werkswinkels en strategiese betrokkenheid. Genote word gekies op grond van hul internasionale aansien en hul vermoë om die verband tussen navorsing en praktiese toepassing te versterk.

McGregor, professor in Meganiese Ingenieurswese, leier van die Navorsingsgroep in  Sontermiese Energie (STERG) en bekleër van die ACWA-leerstoel in Gekonsentreerde Sonkrag, is deur die Skool vir Chemie aan St Andrews genomineer. Sy nominasie het die aandag gevestig op sy loopbaan van meer as twee dekades in die akademie en die industrie. Laasgenoemde het senior leierskapsrolle by Sasol ingesluit, waar hy tegnologieë van laboratoriumontwikkeling tot loodsprojekte en uiteindelik kommersiële gebruik gelei het.

Sedert hy in 2019 by US aangesluit het, het McGregor deurgaans sterk bande tussen navorsing en die industrie gebou. Hy het nie net die Acwa-leerstoel, wat deur die industrie befonds word, bekom nie, maar ook navorsingsamewerking rondom hernubare energietegnologieë gevestig. 

Die hoofdoel van sy besoek as genoot is om ’n navorsingsprogram in samewerking met die Centre for Clean Energy Research aan St Andrews te ontwikkel. Die fokus van die vennootskap sal termochemiese langtermyn-energieberging wees, ’n tegnologie wat as noodsaaklik beskou word vir die ondersteuning van toekomstige hernubare energiestelsels.

Deur McGregor se kundigheid in reaktoringenieurswese en stelselmodellering met St Andrews se sterk punte in energiemateriale en katalise te kombineer, beoog die medewerkers om ’n gesamentlike navorsingsagenda te ontwikkel en befondsingsvoorstelle vir toekomstige internasionale navorsingsprogramme voor te berei. Gesprekke sal ook geleenthede ondersoek op die gebied van gekonsentreerde optika vir foto-elektrokatalise en ander skoonenergietegnologieë.

Benewens navorsingsamewerking sal McGregor deur ’n reeks seminare en werkswinkels tot die breër akademiese gemeenskap van St Andrews bydra. Hierdie aktiwiteite sal aanbiedings insluit oor langtermyn-energieberging, ingenieurstelselontleding en die uitdagings om laboratoriumuitvindings in kommersieel lewensvatbare tegnologieë te ontwikkel. Hy sal ook ’n aanbieding doen oor sy EPIC-raamwerk vir kritiese betrokkenheid by generatiewe kunsmatige intelligensie in STEM-onderwys.

Hierdie genootskap sal na verwagting die grondslag lê vir ’n langtermynvennootskap tussen US en St Andrews. Van die beplande uitkomste sluit gesamentlike nagraadse studieleiding en navorsingspublikasies in, asook die ontwikkeling van internasionale befondsingsvoorstelle wat vennote in Suid-Afrika, Europa en die Verenigde Koninkryk betrek.

Volgens die nominasie sal die toekenning ook bande tussen St Andrews en Suid-Afrika se navorsingsgemeenskap gemoeid met hernubare energie versterk deur McGregor se verbintenis met US se Sentrum vir Hernubare en Volhoubare Energiestudies (CRSES). Dit sal nuwe geleenthede vir samewerking op die gebied van skoon energie, volhoubaarheid en ingenieursinnovasie skep.

Met verwysing na die toekenning het McGregor gesê dat hy besonder opgewonde is oor die geleentheid om saam met vooraanstaande navorsers in skoon energie te werk en teselfdertyd internasionale vennootskappe te bou wat die oorgang na volhoubare energiestelsels kan versnel.

Die genootskapsbesoek sal gedurende die akademiese jaar van 2026/27 plaasvind en sal ’n navorsingsverblyf van tot 28 dae by die Universiteit van St Andrews in Skotland insluit.

Merkers

Toekennings

Verwante stories