Skip to main content

80ste Herdenking

webpage-banner1
Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Ingenieurswese
80 jaar van Uitnemendheid

'n Bietjie Geskiedenis

Prof Wikus van Niekerk - Dean of the Faculty
Prof Wikus van Niekerk, Dekaan van die Fakulteit

Die Fakulteit Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US) vier vanjaar sy 80ste verjaarsdag – ’n groot mylpaal in die geskiedenis van die Fakulteit. Wat in 1941 begin het as ’n klein, uitsluitlik Afrikaanse departement binne die Fakulteit Wiskunde en Fisiese Wetenskappe, met 42 eerstejaarstudente en ’n personeelkorps bestaande uit een professor (prof. H.L. Reitz) en twee senior lektore (dr. R.L. Straszacker en dr. J.M. le Roux), het gegroei tot ’n volwaardige, multirassige, meertalige en multikulturele ingenieursfakulteit. Vandag is dit een van die grootste fakulteite aan die Universiteit Stellenbosch, met meer as 4 000 studente en 300 personeellede. 

Deur die jare het die Fakulteit baie storms deurstaan – waaronder ’n wêreldoorlog, groot politieke omwentelinge, sanksies, ’n waterkrisis, COVID en, meer onlangs, ’n elektrisiteitskrisis – wat alles bygedra het tot die vorming van die Fakulteit soos dit vandag daar uitsien: een van die voorste navorsingsintensiewe ingenieursfakulteite op die Afrika-kontinent.

The-two-acting-deans-of-the-Faculty-of-Engineering-in-2024-–-Prof-Celeste-Viljoen-and-Prof-Petrie-Meyer
Die twee waarnemende dekane van die Fakulteit Ingenieurswese in 2024 – Prof Celeste Viljoen and Prof Petrie Meyer.

Die vroeë jare

Hoewel daar reeds in 1941 ingenieurswesevakke by die BSc-graad ingesluit was, is die Fakulteit eers in Januarie 1944 formeel gestig, met ’n vyf-jaar BScIng-graad in siviele, meganiese of elektrotegniese ingenieurwese. Studente kon egter hul vroeëre BSc-modules na die nuwe graadprogramme oordra, en die eerste 16 Stellenbosch-ingenieurs het in Desember 1945 gegradueer – ses elk in meganiese en siviele ingenieurswese en vier in elektrotegniese ingenieurswese. dit was 'n enorme mylpaal - die eerste ingenieurs van 'n Afrikaanstalige universiteit, volledig in Afrikaans opgelei. 

Oor die volgende twee dekades het die Suid-Afrikaanse regering ʼnaantal groot industriële inisiatiewe van stapel gestuur en uitgebrei om ekonomiese groei in die land te ondersteun. Soos die vraag na ingenieurs toegeneem het, het die Fakulteit met rasse skrede gegroei. In 1961 is die Departement Landbou-ingenieurswese gestig, wat later sou ontwikkel tot die Fakulteit Agriwetenskappe, en in 1969 is ʼn Departement Chemiese Ingenieurswese by die Fakulteit Ingenieurswese gevestig.

The-first-building-of-the-Faculty-of-Engineering-in-Victoria-Street-shrunk
Die Eerste gebou van die Fakulteit Ingenieurswese in Victoriastraat
Prof-Olien-and-the-first-analogue-computer-in-Africa-scaled_0
Prof Olien en die Eerste analoogrekenaar in Afrika

Gedurende hierdie tydperk het die Fakulteit homself gevestig as ’n omgewing vir uitnemende onderrig, ondersteun deur sterk samewerking met die plaaslike nywerheid. Hierdie aspekte bly vandag steeds twee van die belangrikste pilare van die Fakulteit en het inderdaad in die afgelope dekade aansienlik in belangrikheid toegeneem.

Hoewel die navorsingslandskap in daardie era heeltemal anders gelyk het as wat ons vandag sien, en die klem hoofsaaklik geplaas is op die ontwikkeling van ʼn sterk groep ingenieurs vir Suid-Afrika se ontwikkelingsbehoeftes, het die Fakulteit ook ’n betekenisvolle rol gespeel in die ontwikkeling van die nuutste tegnologieë van daardie tyd. Een van die hoogtepunte van hierdie tydperk was ongetwyfeld die ontwerp en konstruksie van die eerste analoogrekenaar op die Afrika-kontinent, ontwikkel deur prof. C.L. Olien in 1950. Dit was die eerste van vele prestasies in dié nuwe en vinnig ontwikkelende veld van rekenaars en sagteware – ʼn ontwikkeling wat sedertdien nooit opgehou het nie.

Nog ʼn nuwe tegnologie waarin die Fakulteit baanbrekerswerk verrig het, was dié van waterstof as alternatiewe brandstof. Reeds in die laat sewentigerjare is werk aan hierdie opwindende nuwe tegnologie gedoen, toe ʼn volledig funksionele waterstofaanleg in die laboratoriums van die nuutgestigte Departement Chemiese Ingenieurswese opgerig is. In onlangse jare het hierdie navorsingsveld natuurlik geweldig belangrik geword, en die Fakulteit speel weereens ʼn leidende rol in die land deur middel van ʼn ten volle befondsde SARCHI-leerstoel en ʼn spesiale strategiese fondsprogram.

In die dekades na die oorlog, en deur voort te bou op die land se uitgebreide minerale hulpbronne, het Suid-Afrika homself gevestig as ʼn mynbouland. Die Fakulteit het dit ten volle ondersteun met baanbrekerswerk in ekstraktiewe metallurgie, veral in die goudbedryf. Hierdie werk duur vandag steeds voort, en African Rainbow Minerals borg tans ʼn Navorsingsleerstoel in hierdie veld.

Hierdie tydperk is ook gekenmerk deur ʼn sterk fokus op watervoorsiening, en die Fakulteit het ʼn leidende nasionale rol gespeel met ʼn kus- en hidrouliese laboratorium wat gespog het met die grootste pompvermoë in die Suidelike Halfrond, waar grootskaalse modelle vir damme regoor Afrika gebou en getoets kon word.

Die tagtiger- en negentigerjare

Omdat die eerste ingenieursgebou baie gou te klein geword het vir die groeiende fakulteit, is ʼn splinternuwe gebou in die laat sestigerjare in Banhoekweg beplan en opgerig. Destyds is die gebou ontwerp vir 1 500 studente – ʼn getal wat toe enorm gelyk het. (Min mense kon destyds voorsien dat die Fakulteit in 2024 ʼn eerstejaarinskrywing van 1 300 studente sou hê!) Op 1 Mei 1970 is die eerste gebou van die huidige ingenieurskampus ingewy, en in 1979 is die laaste gebou, dié van Chemiese Ingenieurswese, voltooi. Die Fakulteit kon dus die laaste dekades van die millennium betree met ʼn splinternuwe gebou wat aansienlike groei vir personeel en studente moontlik gemaak het. 

Dit was gepas, aangesien die tydperk ʼn baie skerp en vinnige oorgang van die Fakulteit weerspieël het – van hoofsaaklik ʼn onderriginstelling na een wat ʼn leidende rol in navorsing op nasionale en internasionale vlak speel. Ons aantal akademici wat deur die Nasionale Navorsingstigting gegradeer is, het vinnig toegeneem, en aansienlike beleggings is gemaak om samewerking met internasionale akademiese instellings te bevorder.

The-engineering-campus-shrunk
Die Ingenieurswese-kampus
Fig-6-243x300_1
SUNSAT, die eerste satelliet wat ontwerp en gebou is in die Suidelike Halfrond

’n Paar van die hoogtepunte van hierdie tydperk was die ontwerp en bekendstelling van die eerste satelliet wat in die Suidelike Halfrond ontwerp en gebou is (genoem SUNSAT), die eerste toepassing van Kunsmatige Intelligensie in die beheer van chemiese aanlegte, baanbrekerswerk op die gebruik van droë-afkoeling in kragopwekking, en die stigting van die Stellenbosch Techno Park.

Werk aan biobrandstowwe het ook aansienlike aandag in hierdie era ontvang, en een van die hoogtepunte was die stigting van een van die grootste proefaanlegte vir distillasie by enige universiteit ter wêreld.

Om die groeiende nywerheid in die land te dien, het die padnetwerk vanaf die sewentigerjare ʼn uiters belangrike rol begin speel. Ter ondersteuning hiervan het die Fakulteit baanbrekerswerk in padingenieurswese gedoen, deur opeenvolgende nywerheids-geborgde Navorsingsleerstoele. Hierdie werk het steeds uitgebrei, wat gelei het tot die oprigting van ʼn splinternuwe padlaboratorium gedurende die periode 2010–2020.

Hierdie tydperk is ook gekenmerk deur enorme politieke veranderinge in Suid-Afrika, wat gelei het tot die afskaffing van Apartheid en die eerste volwaardige demokratiese verkiesings in 1994. Hierdie politieke veranderinge het die Universiteit Stellenbosch en die Fakulteit Ingenieurswese in staat gestel om oor te gaan van ʼn uitsluitlik Afrikaanse fakulteit na een wat aktief inskrywings van studente uit verskeie kulturele agtergronde en tale aanmoedig.

Onlangse jare

Die eerste dekade van die nuwe millennium het aansienlike veranderinge in die Fakulteit meegebring. Na die politieke veranderinge het die Fakulteit ’n omvattende stel kurrikulumveranderings ingestel om studente van alle taalgroepe in staat te stel om hul BIng-grade in Engels te voltooi, binne ’n meertalige raamwerk. Die eerste jaar van al die programme is aangepas om taalspesifieke groepe moontlik te maak, en as ’n eerste aan die Universiteit het die Fakulteit ’n program van regstreekse tolking in al die ander modules ingestel.

Hierdie veranderinge het gelei tot ’n verdubbeling van ons studentegetalle oor ’n periode van ongeveer agt jaar, met die totale aantal studente wat in 2017 tot 4 000 gestyg het, van 1 000 in 1997. Daarbenewens was die groei in swart, bruin, Indiese en Asiese studente konsekwent, en dit staan tans op 40% van die totale studentepopulasie.

Gedurende hierdie tydperk het die Universiteit Stellenbosch ’n nuwe navorsingsgerigte visie ontwikkel, en die Fakulteit het sy navorsingsvoetspoor aktief uitgebrei. Tans werk die Fakulteit saam met meer as honderd internasionale vennote, waarvan die meeste in Wes-Europa en Afrika geleë is. In Europa het ons interaksie veral met die Germaanse lande, aansienlik ontwikkel, en instellings in Nederland, België, Duitsland en die Skandinawiese lande het langtermynvennootskappe geword.

In 2007 is die Sentrum vir Hernubare en Volhoubare Energie-studies (Centre for Renewable and SustainableEnergy Studies(CRSES)) gestig, met die huidige Dekaan, Prof Wikus van Niekerk, as direkteur. Hierdie was ʼn betekenisvolle stap om die Fakulteit in ʼn leiersposisie te plaas in die land se energie-omgewing. Hierdie het al meer belangrik geword namate Suid-Afrika dekades van beurtkrag ingegaan het, tesame met internasionale druk om na groen energie oor te skakel.

Hierdie tydperk het die Fakulteit se aktiewe deelname en leiding in die ontwikkeling van die wêreld se grootste radioteleskoop in die Noord-Kaap, die SquareKilometreArray (SKA), ingesluit. Daarbenewens is baanbrekerswerk gedoen op die gebied van bioprodukte en afvalbestuur, en is nuwe navorsingsareas ontwikkel, soos brandingenieurswese en die 3D-druk van betonstrukture. Die Fakulteit het ook masjienleer (of KI) in vervaardiging en beplanning-gebaseerde instandhouding bekendgestel, en het betrokke geraak by die ontwikkeling van digitale tweelinge. Verder word daar navorsingsprogramme gefinansier deur maatskappye soos BMW en Gibela, wat die Fakulteit se sterk verbintenis met die bedryf beklemtoon.

Photo-voltaic-panels-on-the-Stellenbosch-University-experimental-site
Fotovoltaïese panele op die eksperimentele terrein van die Universiteit Stellenbosch

Nalatenskap en toekoms

Oor die afgelope 80 jaar het die Fakulteit Ingenieurswese ʼn leidende rol gespeel in die vestiging en ontwikkeling van die ingenieurswese-dissipline in Suid-Afrika. Graduandi van die Fakulteit versprei regoor die wêreld en lewer betekenisvolle bydraes oral waar hulle gaan. Die Fakulteit was die tuiste van ʼn aantal legendariese akademici wie se bydraes die fondament geskep het waarop ons steeds bou. Hierby ingesluit is mense soos prof. Christo Viljoen, wat die dryfkrag agter die ontstaan van die Stellenbosch Tegnopark was; prof. Detlev Kröger en prof. Fred Hugo, wat onderskeidelik die Fakulteit as wêreldleier in droë-afkoeling en pad- en plaveiselontwerp gevestig het; prof. P.W. van der Walt, wat ʼn sleutelrol gespeel het in die stigting van die eerste kommersiële RADAR-maatskappy in die land; en prof. Jan du Plessis, wat die hoofdryfkrag agter die SUNSAT-program was.

Personeel van die Fakulteit het nie net leidende rolle binne die Fakulteit en die plaaslike nywerheid vervul nie, maar ook binne die breër Universiteit. Dit begin met prof. Reitz, wat sonder twyfel as die vader van die Fakulteit beskou kan word. Drie van die vyf daaropvolgende dekane het SU-viserektore geword, insluitend die eerste dekaan, prof. Roux de Villiers, en later prof. Christo Viljoen en prof. Arnold Schoonwinkel.

 

The-new-2024-engineering-building-facade_1
Die nuwe 2024 ingenieurswese-gebou se fasade

Al is die toekoms onvoorspelbaar, sien ons Fakulteit in ons 80ste jaar sterker as ooit tevore. Sowel die aantal as die akademiese vlak van die 2024-eerstejaarinskrywings is op rekordvlakke, net soos ons navorsingsuitsette, internasionale samewerking en nywerheids-geborgde navorsing. Oor elk van die afgelope drie jaar het die Fakulteit die hoogste aantal PhDs aan die Universiteit gegradueer. Oor drie jaar sal die hele ingenieurskampus opgeknap wees, wat dit die mees moderne in die land sal maak, met die nuutste fasiliteite vir navorsing en onderrig. ʼn Verskeidenheid nuwe nagraadse programme word óf tans bekendgestel óf is in ontwikkeling om beter te voorsien in die groeiende behoefte aan opgradering van vaardighede in die land, veral met die oog op die digitale en KI-revolusie.

Danksy die pogings van ons personeel van vroeër jare, sowel as die huidige personeel, kan die Fakulteit voortbou op sy sterk fondament om ʼn toekoms vir ons land te help vorm deur die ontwikkeling van uitnemende jong ingenieurs en volgehoue navorsing met impak, om die uitdagings van die omgewing en die samelewing wat ons tans in die gesig staar, aan te spreek.

Ons hoop dat die volgende 80 jaar net so suksesvol sal wees soos die vorige 80 – en selfs beter!


Vieringe

Fakulteit bied braai aan vir personeel ter viering van 80ste verjaarsdag

Die Fakulteit Ingenieurswese vier vanjaar sy 80ste verjaarsdag. As deel van die vieringe is ʼn spitbraai gehou op die middag van Woensdag, 17 April 2024, waar personeel van al die departemente saamgekom het vir ʼn gesellige geleentheid. Die atmosfeer was gevul met opgewondenheid toe almal die vreugde gedeel het om agt dekades van uitnemendheid in ingenieurswese te herdenk, terwyl hulle die geleentheid gehad het om te konnekteer en te ontspan. Prof. Celeste Viljoen, Visedekaan vir Onderrig en Kwaliteitsversekering en Waarnemende Dekaan, het almal hartlik verwelkom en haar dank uitgespreek vir die harde werk en toewyding van die fakulteitslede, insluitend ondersteunings- en akademiese personeel, en hulle bydraes tot die volgehoue sukses van die Fakulteit Ingenieurswese erken.

Fakulteit Ingenieurswese vier 80 jaar uitnemendheid met gala

Op 16 September 2024 het die Fakulteit Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US) sy 80ste verjaarsdag gevier met ʼn gala-ete by die Wallenberg Konferensiesentrum by STIAS. Die geleentheid het gesiene gaste, fakulteitslede en nywerheidsvennote bymekaar gebring vir ʼn aand van nadenke en viering, ter ere van die Fakulteit se agt dekades van uitnemendheid in ingenieursopvoeding en navorsing.

(Lees die volledige artikel hier).


Visionêre Leiers

Soos die Fakulteit Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch sy 80ste verjaarsdag vier, besin ons oor die merkwaardige bydraes van leiers wat ons instelling oor die afgelope 40 jaar gevorm het. Hierdie visionêre individue het nie net die grense van ingenieurswese verskuif nie, maar het ook die nywerheid beduidend beïnvloed met hul baanbrekende uitvindings.

Hul pionierswerk inspireer en dryf steeds vooruitgang aan, en versterk die Fakulteit se reputasie as een van Universiteit Stellenbosch se vlagskip fakulteite. Hier bied ons trots ʼn huldeblyk aan hierdie buitengewone leiers en hul baanbrekende bydraes.

Chemiese Ingenieurswese

Prof Hansie Knoetze

Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese

Prof John Cloete

Prof Herman Steyn 

Prof PW van der Walt

Meganiese en Megatroniese Ingenieurswese

Prof Detlef Kröger 


Deel jou storie

Ter viering van ons 80ste bestaansjaar soek ons ​​stories van studente, alumni, ouers, fakulteit en personeel, sake-eienaars en gemeenskapslede – enigiemand wat positief beïnvloed is deur die Fakulteit Ingenieurswese.

Deel 'n enkele ervaring, 'n getuigskrif, 'n goeie herinnering, 'n storie van 'n fakulteitslid wat 'n impak gemaak het, of enige ander positiewe ervaring wat jy in verband met die Fakulteit gehad het.


Please enter your first name.
Please enter your last name.
University Affiliation
Please select the best fit for you affiliation with the Faculty of Engineering. You may select more than one.
To Alumni: Please enter the year you graduated and your field of study. E.g. Chemical Engineering 1986
Please describe your positive story/project/work with the Faculty of Engineering. Please DO NOT include any sensitive or proprietary information.
Please enter a number we can use to reach you in case we have a question about your submission.
Please enter your current email address.
Please upload any photos you want to share. Files must be less than 8 MB and no more than 5 pictures. Allowed file types: jpg, jpeg, jpe, png, gif, pdf, webm & webp
Authorisation
By selecting "Yes" you are indicating that you are 18 years or older and permit and authorise Stellenbosch University to use your story and your photos in various media included but not limited to presentations, news releases, mail-outs, emails, signs, brochures, placed on the website and/or other electronic delivery, publication, display, or promotion on any and all other media.