Skip to main content
David Obagbuwa
Persverklaring

US ken graad aan een van jongste dokters in SA toe

FMHS Marketing & Communications
10 Desember 2025
  • Die 21-jarige David Obagbuwa sal op 11 Desember een van die jongste dokters word om in Suid-Afrika te kwalifiseer wanneer ʼn MBChB-graad van die Universiteit Stellenbosch aan hom toegeken word.
  • Obagbuwa het sy mediese studies op die bloedjong ouderdom van 15 begin.

Die 21-jarige David Obagbuwa sal op 11 Desember een van die jongste dokters word om in Suid-Afrika te kwalifiseer wanneer ʼn MBChB-graad van die Universiteit Stellenbosch (US) aan hom toegeken word.

Obagbuwa het sy mediese studies op die bloedjong ouderdom van 15 begin. Ondanks die uitdagings wat met sy ouderdom en die aanvang van sy studies tydens die Covid-pandemie gepaard gegaan het, het hy volhard en sal hy op 10 Desember aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe se Toewydingsplegtigheid deelneem.

Obagbuwa, wat oorspronklik van Lagos in Nigerië afkomstig is, is in die 2020-inname van mediese studente verwelkom. Hy het destyds gesê toelating tot die US is ʼn droom wat waar geword het, asook dat hy voornemens is om ʼn rekord op te stel deur op 21 te gradueer.

“Die droom het inderdaad waar geword, maar dit voel surrealisties” sê hy oor sy komende graduering. “Hierdie prestasie is ʼn bewys van die mentorskap, ondersteuning en wêreldklas-onderrig wat ek van die Stellenbosch-gemeenskap ontvang het. Ek is ongelooflik dankbaar en dit voel werklik spesiaal om nou die einde van hierdie reis te bereik by dieselfde instelling wat van die begin af in my potensiaal geglo het.”

Hy is vol lof vir die US se personeel en die breër gemeenskap van die Tygerberg-kampus vir die oordrag van ʼn rykdom van kennis en die vorming van sy ontwikkeling: “Dit gaan nie net daaroor om op hierdie ouderdom klaar te maak nie, maar ook oor hoeveel ek gegroei het. Die mense wat ek ontmoet het en my ervarings hier het my werklik gevorm. Ek het geleer om empaties en gedissiplineerd te wees. Hierdie graad het ʼn manier om jou nederig te maak en jou passie vir die veld te verdiep.”

Obagbuwa het saam met sy gesin na Suid-Afrika verhuis toe hy 11 was en is by die Hoërskool Kharwastan in Durban ingeskryf. Weens ʼn misverstand is hy in graad 9 geplaas, maar hy het so goed gevaar dat die skool hom toegelaat het om voort te gaan. Dit het gou vir hom tweede natuur geword om saam met veel ouer mense te studeer.

Hy het vroeg reeds sy visier op die US se bekende mediese program gerig, maar om op 15 universiteit toe te gaan het sy eie struikelblokke meegebring.

“Aanvanklik was dit opwindend om tot die mediese skool toegelaat te word. Maar om in lesingsale en biblioteke in te stap en die jongste persoon in elke kamer te wees, was ook intimiderend,” onthou hy. 

Die Covid-19-inperking het bykomende afsondering meegebring. “Die pandemie het ons van mekaar geskei en ons moes alles aanlyn doen, wat my sosiale lewe beïnvloed het. Toe ons in 2021 hervat het, kon ek by die universiteitsgemeenskap integreer en fokus op werk en om by ander te leer. Alles het in plek geval en uiteindelik het my ouderdom my nie meer gedefinieer nie. Ek het net nog ʼn student geword wat die kuns van wetenskap en medisyne probeer bemeester het.”

Obagbuwa vertel hy is deur etlike akademiese uitdagings, lang ure, oomblikke van selftwyfel en ʼn gevoel van bedrieërsindroom in die gesig gestaar. “Daar was tye toe ek gedink het ek is so jonk en moet aan al hierdie verwagtings voldoen. Maar dan sou ek vir myself sê dit gaan minder oor my ouderdom, en meer oor konsekwentheid, aanspreeklikheid en reaksies.”

Uiteindelik het die hoogtepunte die probleme ver oortref, en die sleutel tot sy sukses was om gedetailleerde, praktiese planne te hê en doelwitte te stel. “Om op te daag selfs wanneer dit moeilik was, het die verskil gemaak. Ek het soms deurnag gewerk om aan akademiese vereistes te voldoen. Ek het uitbranding gekeer deur werk te balanseer met stokperdjies soos oefen in die gimnasium.”

Hy het sy vrye tyd in die buitelug deurgebring – deur te stap, sokker te speel of rugbywedstryde by te woon – of hy het na podsendings oor metafisika, morele filosofie en mediese etiek te luister.

Obagbuwa gaan sy internskap by die Phologong-hospitaal aan die Oos-Rand in Gauteng voltooi, waar hy hoop om spesialiseringsopsies te ondersoek wat sy toekomstige loopbaankoers sal bepaal.

“Ek het elke aspek van geneeskunde begin waardeer en stel ook in navorsing belang,” sê hy. “Ek is gretig om alles wat ek geleer het, toe te pas sodat ek tot Suid-Afrika se gesondheidsorgstelsel kan bydra. Ek wil die beste dokter wees wat ek kan wees vir elke pasiënt wat my pad kruis.”

Merkers

Gesondheidsorg

Verwante stories