Skip to main content
Chest x-ray
Image by:
Persverklaring

Nuwe navorsingsprojek het ten doel om TB-diagnose met KI-tegnologie te transformeer

FMHS Marketing & Communications
17 Julie 2026
  • Die Universiteit Stellenbosch lei AddiCAD, 'n internasionale projek van R46 miljoen om TB-diagnose te verbeter deur KI-aangedrewe borskas-X-straalanalise met 'n eenvoudige vingerprik-bloedtoets te kombineer.
  • Die nuwe benadering is daarop gemik om meer TB-gevalle akkuraat op te spoor, wat die spesifisiteit met 20% verbeter in vergelyking met KI-beelding alleen, terwyl dit die afhanklikheid van sputum-gebaseerde toetse verminder.
  • Die tegnologie sal in ongeveer 1 000 volwassenes regoor Suid-Afrika, Namibië en Gambië gevalideer word, met die doel om vinnige, toeganklike TB-diagnose beskikbaar te stel in hulpbronbeperkte omgewings.

Vingerprik-bloedtoetse en kunsmatige intelligensie (KI)-tegnologie gaan in ʼn nuwe navorsingsprojek gekombineer word om die opsporing van tuberkulose (TB) in omgewings met beperkte toegang tot gesondheidsorg te verbeter.

In hierdie projek sal ʼn nuwe, nie-speekselgebaseerde diagnostiese oplossing wat KI-gedrewe ontleding van bors-X-strale met ʼn eenvoudige vingerprik-bloedtoets kombineer, ontwikkel en gevalideer word. Die projek word deur die Universiteit Stellenbosch (US) gekoördineer en deur Global Health EDCTP3 (ʼn vennootskap tussen Europa en ontwikkelende lande wat ten doel het om gesondheid deur navorsing te verbeter) gefinansier.

Ofskoon TB voorkombaar en geneeslik is, plaas dit steeds ʼn aansienlike las op gesondheidsorgstelsels in omgewings met beperkte hulpbronne. Een van die grootste uitdagings in die stryd teen die siekte is doeltreffende opsporing – van die geraamde 10,7 miljoen nuwe TB-gevalle elke jaar is ongeveer 2,5 miljoen mense nie gediagnoseer nie. Dis deels die geval omdat huidige diagnostiese instrumente dikwels te duur is, van laboratoriumfasiliteite afhanklik is, of moeilik is om by versorgingspunte te gebruik.

Om toegang tot tydige TB-diagnoses te verbeter is ʼn nuwe internasionale navorsingsprojek, AddiCAD, in Mei 2026 amptelik van stapel gestuur. Dié projek word met R46 miljoen (€2,5 miljoen) deur Global Health EDCTP3 gefinansier.

AddiCAD bring ses vennote uit Afrika en Europa byeen wat oor aanvullende kundigheid in kliniese navorsing, diagnostiek, KI, datawetenskap en implementering beskik. Hulle is Delft Imaging Systems (Nederland), Life SADX (Suid-Afrika), LINQ Management GmbH (Duitsland), die Londense Skool vir Higiëne & Tropiese Geneeskunde (Verenigde Koninkryk en Gambië), die Universiteit Stellenbosch (Suid-Afrika) en die Universiteit van Namibië (Namibië).

KI-beelding en biomerker-wetenskap 

Hierdie nuwe benadering bring twee belowende tegnologieë in ʼn enkele diagnostiese model byeen: AddiCAD kombineer CAD4TB – ʼn KI-stelsel wat digitale bors-X-strale vir tekens van tuberkulose ontleed – met ʼn biomerker-toets wat die liggaam se immuunreaksie op infeksie meet. Deur hierdie databronne te integreer beoog AddiCAD om akkurater resultate te lewer as wat enigeen van dié metodes op hul eie kan bereik.

Die projek bou voort op voorlopige bevindings wat toon dat AddiCAD ʼn verbetering van 20% in spesifisiteit behaal het vergeleke met CAD4TB alleen, sonder om sensitiwiteit in te boet. Dit beteken die gekombineerde benadering kan help om vals positiewe resultate te verminder, terwyl mense wat waarskynlik TB het steeds geïdentifiseer word – ʼn belangrike stap in die rigting van meer doeltreffende en betroubare diagnoses in gebiede met ʼn hoë siektelas.

Ontwerp vir gebruik waar vinnige diagnose die nodigste is

Hierdie innovasie het die potensiaal om TB-sifting en -diagnose in omgewings met beperkte hulpbronne te transformeer. In plaas daarvan om slegs op speekselmonsters staat te maak – wat moeilik verkrygbaar en verwerkbaar kan wees – kan gesondheidswerkers AddiCAD gebruik om mense met die grootste kans vir TB vinnig te identifiseer en te verseker dat hulle sonder versuim verdere toetse ondergaan en behandeling ontvang.

Noudat die projek aan die gang is, sal die konsortiumlede die nuwe biosensor en ʼn gepaardgaande mobiele toepassing ontwikkel, en daarna die oplossing valideer in ʼn kliniese studie onder sowat 1 000 volwassenes in Suid-Afrika, Namibië en Gambië wat vermoedelik TB onder lede het. Die span sal ook nou met gesondheidsorgverskaffers, pasiëntverteenwoordigers, reguleerders en kommersiële vennote saamwerk om toekomstige implementering en uitbreiding te ondersteun. Indien die aanvanklike bevindings bevestig word, kan die implementering van AddiCAD lewensreddende behandeling vir baie bykomende TB-pasiënte moontlik maak.

“ʼn Tydige TB-diagnose kan baie mense nadelige gevolge soos oordrag, longskade of die dood spaar. Tóg word te veel diagnoses vertraag of gemis,” sê prof Stephanus Malherbe, mede-professor in immunologie aan die US en koördineerder van die AddiCAD-projek. “Wat ons oor AddiCAD opgewonde maak, is die potensiaal daarvan om baanbrekerswetenskap en praktiese bruikbaarheid te kombineer op ʼn manier wat akkurate diagnose meer toeganklik kan maak daar waar dit die nodigste is.”

 

Meer oor AddiCAD

AddiCAD is een van twee navorsingsprojekte wat deur Global Health EDCTP3 gefinansier en deur die Universiteit Stellenbosch gekoördineer word om tuberkulose-diagnostiek te bevorder. Tesame met PRECISE-TBM – wat op die verbetering van die diagnose van tuberkuleuse meningitis by kinders fokus – weerspieël hierdie drie jaar lange projek ʼn breër poging om vinniger en meer toeganklike diagnostiese oplossings vir omgewings met ʼn hoë siektelas te ontwikkel.


Die projek word deur Global Health EDCTP3 en sy lede ondersteun.’

Merkers

Gesondheidsorg

Verwante stories