Skip to main content
Prof Novel Chegou

Prof Novel Chegou

Image by:
Persverklaring

Internasionale konsortium begin inisiatief om die diagnose van TB-meningitis by kinders te verbeter

FMHS Marketing & Communications
17 Julie 2026
  • Die US lei PRECISE-TBM, 'n internasionale projek van R40 miljoen om vinnige versorginspunttoetse vir die vroeër diagnose van tuberkuleuse meningitis (TBM) by kinders te ontwikkel.
  • TBM word dikwels te laat gediagnoseer, wat lei tot hoë sterftesyfers en lewenslange gestremdheid onder geaffekteerde kinders.
  • Navorsers sal vinnige versorginspunttoetse wat op serebrospinale vloeistof en bloed gebaseer is, evalueer om diagnose in omgewings met beperkte hulpbronne en 'n hoë siektelas te verbeter.

Die Universiteit Stellenbosch (US) koördineer ʼn groot internasionale navorsingsprojek wat ten doel het om vinnige versorgingspunttoetse te ontwikkel om tuberkuleuse meningitis (TBM) – die ernstigste en dodelikste vorm van tuberkulose onder kinders – vroeër te diagnoseer. Dié projek, PRECISE-TBM, word gefinansier deur Global Health EDCTP3 (ʼn vennootskap tussen Europa en ontwikkelende lande wat ten doel het om gesondheid deur navorsing te verbeter).

TBM hou ʼn ernstige bedreiging vir kinders in, veral in gebiede met ʼn hoë siektelas waar toegang tot gespesialiseerde gesondheidsorg beperk is. Hoewel die siekte behandel kan word, bly tydige diagnose ʼn groot uitdaging omdat simptome dikwels nie-spesifiek is, laboratoriumtoetse kompleks is en dit gewoonlik verskeie besoeke aan gesondheidsorgfasiliteite verg voordat die siekte bevestig word. Hierdie vertragings kan verwoestende gevolge hê, aangesien ongeveer die helfte van kinders wat geraak word, sterf of lewenslange neurologiese komplikasies opdoen.

Om hierdie dringende behoefte aan meer doeltreffende diagnostiek aan te pak is ʼn nuwe internasionale navorsingsprojek, PRECISE-TBM, in Mei 2026 van stapel gestuur met befondsing van R40 miljoen (€2,16 miljoen) van Global Health EDCTP3. Dié projek van vier jaar, wat deur US-navorsers gekoördineer word, het die ontwikkeling en evaluering ten doel van vinnige versorgingspunttoetse wat TBM onder kinders vroeër kan diagnoseer.

Die navorsingsprojek bring ses vennote uit Afrika en Europa byeen wat oor aanvullende kundigheid op die gebied van TB-biomerkernavorsing, immunologie, menslike genetika, die ontwikkeling van diagnostiese toetse, kliniese evaluering en projekbestuur beskik. Dié vennote is die Imagine Institut des Maladies Génétiques (Frankryk), LifeSADX (Suid-Afrika), LINQ Management GmbH (Duitsland), die Universiteit Stellenbosch (Suid-Afrika), die Universiteit van Zambië (Zambië) en die Universiteit van Zimbabwe (Zimbabwe).

Vinniger TBM-diagnoses vir omgewings met beperkte hulpbronne

ʼn TBM-diagnose bly moeilik, hoofsaaklik weens die gebrek aan toeganklike, gebruikersvriendelike diagnostiese instrumente, veral dié wat geskik is vir primêre gesondheidsorginstellings soos klinieke en streekshospitale wat eerste deur die meeste pasiënte genader word. PRECISE-TBM het ten doel om dít te verander deur vinniger toetse te ontwikkel wat makliker is om te gebruik en beter vir roetine- kliniese omgewings in streke met ʼn hoë siektelas geskik is. Indien dit suksesvol is, kan die nuwe instrumente gesondheidswerkers help om kinders met TBM vroeër te identifiseer en sodoende die risiko van ernstige uitkomste te verminder.

“Aangesien eenvoudige diagnostiese instrumente steeds ontbreek, besoek kinders gesondheidsorgfasiliteite moontlik vier tot ses keer voordat TBM gediagnoseer word. Hierdie vertragings dra regstreeks tot swak uitkomste by,” verduidelik prof Novel Chegou, professor in immunologie aan die US en koördineerder van die PRECISE-TBM-projek. “ʼn Vinnige diagnostiese toets sal ʼn spelbreker wees, veral in streke met ʼn hoë voorkoms van die siekte soos Afrika suid van die Sahara en Asië.”

ʼn Eenvoudige bloedmonster 

PRECISE-TBM bou voort op jare se navorsing aan die US wat reeds twee prototipe- diagnostiese toetse gegrond op serebrospinale vloeistof (SSV) voortgebring het. Hierdie versorgingspunttoetse sal tydens die projek in hospitale reg oor Suid-Afrika, Zambië en Zimbabwe geëvalueer word om te bepaal hoe goed dit in kliniese omgewings presteer.

SSV-gebaseerde toetse kan waardevolle diagnostiese inligting verskaf, maar die insameling van serebrospinale vloeistof behels ʼn lumbale punksie – ʼn gespesialiseerde mediese prosedure wat veral uitdagend by kinders kan wees en opgeleide gesondheidsorgpersoneel vereis. Om TBM-diagnose meer toeganklik te maak, volg die konsortium dus ʼn tweede benadering: om ʼn vinnige diagnostiese toets te ontwikkel wat op ʼn eenvoudige bloedmonster gegrond is.

Hierdie bloedgebaseerde toets sal dan tesame met die SSV-gebaseerde toetse geëvalueer word om gesondheidswerkers van bykomende opsies vir ʼn vinnige diagnose in verskillende kliniese omgewings te voorsien.

Meer oor PRECISE-TBM 

PRECISE-TBM is een van twee navorsingsprojekte wat deur Global Health EDCTP3 gefinansier en deur die Universiteit Stellenbosch gekoördineer word om tuberkulose-diagnostiek te bevorder. Tesame met AddiCAD – wat KI-gesteunde ontleding van bors-X-strale met bloedbiomerker-toetsing vir pulmonale tuberkulose kombineer – weerspieël hierdie vier jaar lange projek ʼn breër poging om vinniger en meer toeganklike diagnostiese oplossings vir omgewings met ʼn hoë siektelas te ontwikkel.

Die projek word deur Global Health EDCTP3 en sy lede ondersteun.

Merkers

Gesondheidsorg

Verwante stories