Nuwe bewyse betwis die voordeel van kalsiumaanvullings tydens swangerskap vir die voorkoming van pre-eklampsie
- Navorsers van die Universiteit Stellenbosch het sterk bewyse uit groot proewe gevind wat toon dat kalsiumaanvulling tydens swangerskap nie die risiko van pre-eklampsie verminder nie.
- Hierdie bevinding daag langdurige aannames oor die rol van kalsium in die voorkoming van hipertensie-afwykings tydens swangerskap uit.
- Pre-eklampsie is 'n lewensgevaarlike toestand wat vroue in die tweede helfte van hul swangerskap kan aantas.
'n Bygewerkte Cochrane-oorsig het bevind dat kalsiumaanvulling geen effek op pre-eklampsie het nie. Hierdie bevinding daag langdurige aannames oor die rol van kalsium in die voorkoming van hipertensie-afwykings tydens swangerskap uit.
Navorsers van die Universiteit Stellenbosch (US) het sterk bewyse uit groot proewe gevind wat toon dat kalsiumaanvulling tydens swangerskap nie die risiko van pre-eklampsie verminder nie.
Pre-eklampsie is 'n lewensgevaarlike toestand wat vroue in die tweede helfte van hul swangerskap kan aantas. Dit kan noodlottig wees of lewenslange komplikasies vir beide moeder en baba veroorsaak. Pre-eklampsie word gekenmerk deur nuwe hoë bloeddruk gekoppel aan orgaanversaking. Die enigste behandeling daarvoor is om die baba in die lewe te bring. As die ma pre-eklampsie met lewensgevaarlike komplikasies ontwikkel, is premature geboorte die enigste opsie.
Kalsiumaanvulling word al lank as 'n potensiële voorkomende maatreël beskou, veral in omgewings wat deur lae kalsiuminname gekenmerk word. Huidige riglyne van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) beveel daaglikse kalsiumaanvulling in sulke bevolkingsgroepe aan, maar bewyse wat hierdie benadering ondersteun, was nog altyd gemeng. Hierdie oorsig wek verdere twyfel.
Bevindinge ontlok twyfel oor voordele van kalsium tydens swangerskap
Die bygewerkte oorsig het 10 ewekansig beheerde proewe met 37 504 deelnemers ingesluit, wat die effek van kalsiumaanvulling vergeleke met dié van die plasebo ondersoek en hoë- teenoor laedosisaanvulling vergelyk het.
Resultate toon dat daar betroubare bewyse uit groot proewe is dat kalsiumaanvulling tydens swangerskap geen effek op die voorkoming van pre-eklampsie het nie.
Selfs wanneer lae en hoë dosisse kalsium vergelyk is, het die uitkomste grootliks onveranderd gebly. Moedersterftes was skaars in die studies, en bewyse oor ander kritieke uitkomste soos neonatale sterftes en ernstige komplikasies was hoogs onseker.
“Deur streng en deursigtige hersieningsmetodes toe te pas het ons geen betekenisvolle verskil in sleuteluitkomste soos pre-eklampsie, moedersterftes, premature geboortes of neonatale mortaliteit gevind nie,” sê Anke Rohwer, senior navorser in die US se Afdeling Epidemiologie en Biostatistiek en hoofnavorser van die oorsigstudie. “Baie van die ouer studies was van ʼn swak gehalte, en die herevaluering daarvan was noodsaaklik om te verseker dat huidige riglyne op betroubare, bygewerkte bewyse gebaseer is.”
Onbetroubare en klein studies besoedel vroeëre bewyse
’n Vorige bywerking van die oorsigstudie het baie meer studies ingesluit, waarvan sommige nou uitgesluit is weens veranderinge in geskiktheidskriteria, gebrek aan betroubaarheid of metodologiese tekortkominge. Vroeëre ontledings wat hierdie klein of onbetroubare studies ingesluit het, het ’n sterker beskermende effek van kalsiumaanvulling aan die hand gedoen.
Die outeurs het beklemtoon dat die effekte van klein studies en publikasievooroordeel vroeëre gevolgtrekkings sterk beïnvloed het. So gou as wat hierdie vooroordele aangepak is, het die oënskynlike voordele van kalsiumaanvulling verdwyn.
“Ons bygewerkte analise toon dat sodra kwessies soos die effekte van klein studies en publikasievooroordeel in berekening gebring word, die bewyse wat kalsiumaanvulling ondersteun om pre-eklampsie te voorkom eenvoudig nie stand hou nie,” sê prof Catherine Cluver van die US se Departement Verloskunde en Ginekologie, mede-outeur van die oorsig. “Dit dui op 'n groot verskuiwing van vroeëre oorsigte, en dis van kardinale belang dat klinici en beleidmakers verstaan hoeveel die bewysbasis verander het.”
Kalsiumaanvulling word al jare lank as 'n voorkomende maatreël aanbeveel, veral in bevolkings met lae kalsiuminname. Hierdie bygewerkte oorsig dui daarop dat sulke voordele baie minder betekenisvol – en moontlik afwesig – kan wees sodra onbetroubare bewyse verwyder word.
“Hierdie oorsig beklemtoon die belangrikheid van die toepassing van betroubaarheidstoetse op primêre navorsing. Onbetroubare proewe kan die resultate van sistematiese oorsigte skeeftrek en wetenskaplike konsensus verdraai,” voeg Cluver by. “Nadat ons onbetroubare studies uitgesluit het, het ons gevind dat die vermeende voordeel van kalsiumaanvulling vir pre-eklampsie verdwyn het. Gegrond op groot, betroubare proewe toon ons nou dat kalsiumaanvulling nie pre-eklampsie voorkom nie.”
Die outeurs het die betroubaarheid van ingeslote studies met behulp van die TRACT-kontrolelys beoordeel. Soortgelyke instrumente is sedertdien ontwikkel, soos INSPECT-SR, wat ontwerp is om problematiese studies te identifiseer. Problematiese studies sluit dié in wat deur menslike foute of navorsingswangedrag geraak word, waar beoordelaars nie vol vertroue is dat die resultate betroubaar is nie.
Klik hier vir die oorspronklike oorsig: ‘Calcium supplementation during pregnancy for preventing hypertensive disorders and related problems’