Skip to main content
Microscope image of a microclot found in the blood of a person with Long COVID (enlarged 63 times).
Image by: Dr Chantelle Venter

Microskopiese beeld van ‘n mikroklot in die bloed van ‘n pasiënt met Lang COVID (X63 keer vergroot). Die groen areas toon ‘n abnormale, klewerige proteïen netwerk, terwyl die blou areas afkomstig is van sellulêre materiaal wat binne die mikroklot vasgevang is. Saam vorm dit digte klonte wat klein bloedvate kan blokkeer en suurstofvloei verminder – ‘n proses wat vermoedelik ‘n rol speel in die voortslepende simptome wat pasiënte met Lang COVID ervaar.

Persverklaring Geneeskunde en gesondheid

Wetenskaplikes vind nog ’n stukkie van die lang-Covid-legkaart

Wiida Fourie-Basson
Media officer, Faculty of Science
10 November 2025
  • ’n Nuwe studie het ’n strukturele verband tussen sirkulerende mikrobloedstolsels en “neutrophil extracellular traps (NETs)” – netwerke van ekstrasellulêre DNA-stringe – by individue met lang-Covid blootgelê.
  • Wanneer hierdie interaksie nie gereguleerd is nie, kan dit patogenies wees.
  • Hierdie studie baan die weg vir die ontwikkeling van nuwe biomerkers vir diagnose, sowel as bestuur van inflammatoriese en trombotiese siektes.

’n Nuwe studie het aan die lig gebring dat daar ’n strukturele verband is tussen sirkulerende mikrostolsels en neutrophil extracellular traps (NETs) in die bloed van pasiënte met lang-Covid.

Hierdie bevinding dui op die bestaan van onderliggende fisiologiese interaksies tussen mikrostolsels en NETs wat, wanneer dit nie gereguleerd is nie, patogenies kan word

Wat is mikrostolsels?

Die term mikrostolsels, is onlangs in die wetenskapsliteratuur opgeneem en verwys na abnormale klonte bloedstollingsproteïene wat in ’n pasiënt se bloedstroom sirkuleer.  Hierdie konsep is in 2021 deur Prof Resia Pretorius van die Universiteit Stellenbosch se  departement Fisiologiese Wetenskappe bekendgestel toe hulle die abnormale teenwoordigheid van sulke mikrostolsels in bloedmonsters van pasiënte met Covid-19 geviond het. Hierdie ontdekking het wydverspeide aandag tydens die pandemie getrek as gevolg van die potensiële rol in Covid-verwante stollingspatologieë.

Wat is hierdie “neutrophil extracellular traps (NETs)”,oftewel netwerke van ekstrasellulêre DNA-stringe?

Dr Alain Thierry se span van die Montpellier Cancer Institute (IRCM) by INSERM in Montpellier, was onder die eerstes wat die krities belangrike rol van NETs in die patogenese van Covid-19 geïdentifiseer het. NETs word geproduseer deur middel van ’n gespesialiseerde  aangebore immuunrespons wat as NETose bekendstaan en waardeur neutrofiele hul DNS uitstoot om filamentagtige strukture (wat toksienes bevat) te vorm, wat patogene vinnig kan vasvang en neutraliseer.  

Oormatige NET-vorming kan egter nadelig wees en bydra tot ’n groot verskeidenheid inflammatoriese en trombotiese siektes, wat erge infeksies, outo-immuunsiektes, kanker, diabetes en artritis inlsuit. 

Volgens Dr. Thierry mag dit wees dat volgehoue oorproduksie van NETs, aangevuur deur selfaangedrewe inflammatoriese en trombotiese lusnetwerke, die graad van siekte vererger.  

Die spanne van Prof Pretorius en Dr. Thierry het in samewerking met mekaar die potensiële interaksie tussen mikrostolsels en NETs in die konteks van lang-Covid ondersoek.

HoofbevIndings

Deur gebruik te maak van beeldvloeisitometrie en fluoressensie-mikroskopie, het hulle ’n kwantitatiewe en strukturele analise van mikrostolsels en NETs op die plasma van pasiënte met lang-Covid uitgevoer, en dit met dié van gesonde kontroles s’n vergelyk. NETs is ook gekwantifiseer deur hulle proteïenmerkers en sirkulerende DNS te analiseer. 

  • Hulle het ’n beduidende toename in biomerkers – wat met beide mikrostolsels en NETs geasssosieer word – in pasiëntmonsters waargeneem.
  • Nie net was die mikrostolsels by die pasiënte met lang-Covid meer volop nie, maar ook gróter.
  • Die belangrikste is egter dat hul ’n strukturele verband tussen mikrostolsels en NETs waargeneem het in álle proefpersone, maar wat merkbaar duideliker by lang-Covid-pasiënte was. 

“Hierdie bevindinge dui op die bestaan van onderliggende fisiologiese interaksies tussen mikrostolsels en NETs wat, indien dit nie gereguleerd is nie, patogenies kan word,” verduidelik Dr Thierry.

Verder het die integrasie van masjienleer en KI-gereedskap met die biomerker-analise hul in staat gestel om met groot akkuraatheid tussen pasiënte met lang-Covid en gesonde individue te onderskei. Die algoritmes het die mees voorspelbare biomerkerkombinasies geïdentifiseer, wat diagnostiese betroubaarheid verbeter en die weg gebaan vir gepersonaliseerde benaderings in gesondheidsorg.

Volgens Prof Pretorius toon die resultate ’n beduidende ophoping van mikrostolses in die plasma van pasiënte met lang-Covid, waarskynlik gedryf en gestabiliseer deur die oormatige  produksie van NETs: “Hierdie interaksie kan mikrostolsels meer bestand maak teen fibrinolise (die afbraakproses), wat hul voortbestaan in die bloedsirkulasiesisteem bevorder en bydra tot chroniese mikrovaskulêre komplikasies,” verduidelik sy.

Deur die meganistiese rol van NETs in mikrostolselstabilisering te identifiseer, bied hierdie studie nuwe insig oor die patofisiologie van lang-Covid. Hierdie bevindings ondersteun die ontwikkeling van geteikende terapeutiese strategieë wat gerig is om trombo-inflammatoriese response te moduleer.

Uiteindelik baan die studie die weg vir die ontwikkeling van nuwe biomerkers wat diagnosties, sowel as in siektebestuur gebruik kan word: “Die kombinasie van gevorderde beeldingstegnieke en masjienleer maak die studie metodologies robuust en dra daadwerklik by tot die voortgaande wetenskapsdiskoers oor postvirale sindrome,” sluit hulle af.

  • Die artikel “Circulating microclots are structurally associated with neutrophil extracellular traps and their amounts are elevated in Long COVID patients” is in die Journal of Medical Virology gepubliseer en is aanlyn beskikbaar by https://doi.org/10.1002/jmv.70613

     

Merkers

Fisiologie

Verwante stories