Exposed dinosaur eggshell fragments at Teel Ulaan Chaltsai, Eastern Gobi Basin.
Dinosourus-eierdoppe ontsluit nuwe manier om tyd in fossielrekord te bepaal
- Nuwe metode ontwikkel om gefosilleerde dinosourus-eierdoppe te dateer.
- Beskou as ’n deurbraak om die ouderdom van fossielhoudende gesteentes te dateer.
’n Internasionale span geoloë en paleontoloë doen baanbrekerswerk met ’n grondverskuiwende metodologie om die ouderdom van fossielhoudende gesteentes betroubaar te bepaal — deur gefosilleerde dinosourus-eierdoppe direk te dateer.
Hierdie studie, gelei deur Dr Ryan Tucker van die Universiteit Stellenbosch se departement Aardwetenskappe, is in Communications Earth & Environment gepubliseer.
Baie fossielterreine wêreldwyd is slegs rofweg gedateer. Sonder presiese inligting oor die geologiese ouderdom van fossiele, sukkel paleontoloë om die onderlinge verband tussen verskillende spesies en ekosisteme oor tyd en ruimte te verstaan. Navorsers maak gewoonlik staat op die datering van minerale soos sirkoon of apatiet wat met fossiele geassosieer word. Maar daardie minerale is egter nie altyd aanwesig nie. Pogings om fossiele self – soos bene of tande – te dateer, het dikwels onsekere resultate opgelewer.
Dr. Tucker se span, bestaande uit MSc student Kira Venter en Prof Chris Lana van die Elementêre- en Isotoop-analise laboratorium by die US se Sentrale Analitiese Fasiliteit, het ’n ander benadering gevolg. Hulle het gevorderde uraan-lood (U–Pb)-datering en elementkartering gebruik om spoorhoeveelhede uraan en lood te meet wat binne-in die kalsiet van gefossileerde dinosourus-eierdoppe voorkom. Hierdie isotope funksioneer soos ’n natuurlike horlosie wat wetenskaplikes in staat stel om te bepaal wanneer die eiers begrawe is.
Kyk die video oor hierdie nuwe metode.
Toetse op dinosourus-eiers afkomstig van Utah (VSA) en die Gobi-woestyn (Mongolië) het getoon dat die gebruik van eierdoppe om ouderdomme te dateer, se akkuraatheid met ongeveer vyf persent afwyk van die presiese datering wat verkry word deur vulkaniese as te gebruik. In Mongolië het die span vir die eerste keer ooit die direkte ouderdom vasgestel — ongeveer 75 miljoen jaar oud — van ’n historiese terrein met dinosour-eiers en -neste.
“Die kalsiet in die eierdoppe is merkwaardig veelsydig,” sê Dr. Tucker. “Dit gee ons ’n nuwe manier om fossielterreine in die afwesigheid van vulkaniese lae te dateer, ’n uitdaging wat paleontologie vir dekades ingeperk het.”
Die werk het medewerkers van North Carolina Museum of Natural Sciences, North Carolina State University, Colorado School of Mines, Mongolian Academy of Sciences’ Institute of Paleontology, Universidade Federal de Ouro Preto (Brazil) betrek. Veldwerk in Mongolië is onderneem deur die Mongolian Alliance for Dinosaur Exploration (MADEx) en is ondersteun deur die National Geographic Society en die National Science Foundation.
Deur te toon dat die dinosour-eierdoppe die verloop van geologiese tyd akkuraat kan aanteken, verbind hierdie studie biologie en aardwetenskap op ’n nuwe manier. Dit bied aan navorsers ’n kragtige instrument om fossielterreine wêreldwyd akkuraat te kan dateer.
“Direkte datering van fossiele is elke paleontoloog se droom,” sê die mede-outeur van die studie Lindsay Zanno, medenavorsingsprofessor aan die North Carolina State University en hoof van paleontologie by die North Carolina Museum of Natural Sciences. “Gewapen met hierdie nuwe tegniek, kan ons geheimenisse oor dinosour-evolusie ontrafel wat voorheen onoorkomelik blyk te wees.”
Die artikel “U–Pb calcite age dating of fossil eggshell as an accurate deep time geochronometer” is in Communications Earth & Environment gepubliseer.
