
US stel nuwe sentrum bekend wat geneesmiddelontdekking sal bevorder
- Die Afrika-sentrum vir Terapeutiese Innovasie (ACT) vul’n belangrike gaping in die vermoë van Suid-Afrika en Afrika om geneesmiddels te kan ontdek.
- Die nuwe sentrum bring bydraes van die breë vakgebiede van chemie, biologie en farmakologie bymekaar, en versterk sodoende die universiteit se posisie in die gesondheidsinnovasie-ruimte.
Die Universiteit Stellenbosch (US) het ’n nuwe transdissiplinêre sentrum bekendgestel wat daarop gemik is om geneesmiddelontdekking en terapeutiese innovasie te bevorder om Afrika se unieke gesondheidsorguitdagings die hoof te kan bied.
Die Afrika-sentrum vir Terapeutiese Innovasie (ACTI) bring bydraes van die breë vakgebiede van chemie, biologie en farmakologie bymekaar, en versterk sodoende die universiteit se posisie in die gesondheidsinnovasie-ruimte.
Alhoewel die sentrum in die US se Departement Biochemie gesetel is, kom die sentrumlede van verskeie fakulteite en skole, wat die sterk fokus op interdissiplinêre navorsing beklemtoon.
Prof Erick Strauss, mededirekteur van die nuwe sentrum, sê ACTI bied ’n strategiese voertuig om geneesmiddelontdekking en terapeutiese innovasie vanuit ’n biologiese perspektief te bevorder.
“Om die navorsing in die veld van geneesmiddelontdekking in gesondheidsinnovasie om te sit, verg ’n multidissiplinê benadering, met insette van belanghebbendes in verskeie vakgebiede,” het hy voor die bekendstelling van die sentrum op Woensdag 15 Oktober by STIAS gesê.
“Met ’n sterk fokus op siektebiologie en kennis van die meganismes wat terapeutiese innovasie onderlê, vul ACTI ’n belangrike gaping in die vermoë van Suid-Afrika en Afrika om geneesmiddels te kan ontdek, en dit vul ook ander streeksaktiwiteite aan,” het hy bygevoeg.
Hy staan byvoorbeeld tans aan die stuur van ’n projekspan wat poog om nuwe teentuberkulosemiddels te ontwikkel wat werk op die beginsel dat dit selfvernietiging by die tuberkulose-bakterie veroorsaak, deurdat laasgenoemde sy eie noodsaaklike proteïene vernietig. “Dit vereis dat ons nuwe laboratoriummetodes moet ontwikkel wat ons in staat sal stel om te kan bepaal hoe suksesvol ons in ons poging is om dit reg te kry,” sê Strauss.
Volgens prof Lyn-Marié Birkholtz, ACTI-mededirekteur, sal ACTI sulke studies ondersteun deur spesifiek te fokus op die bydra van die broodnodige begrip van meganismes van geneesmiddelwerking, en sterk ondersteuning van eksperimentele en wiskundige siektetranslasionele modelle.
“Sonder hierdie inligting bly die waardeketting in die lewering van kliniese geneesmiddelkandidate onvolledig,” verduidelik sy. Dit is veral waar vir antimalaria-navorsing. Alhoewel baie middels met goeie antimalaria-aktiwiteit geïdentifiseer kan word, sal hulle werking, en of daar ’n waarskynlikheid is dat die malariaparasiet weerstandbiedend teen hierdie middels kan word, onbekend bly sonder dié tipe studies wat ACTI sal nastreef.
ACTI is tans deel van verskeie netwerke wat geneesmiddelontdekking in Afrika ondersteun – soos die RAFIKI-projek en GC ADDA (Global Challenges Accelerating African Drug Discovery Solutions) – en werk saam met navorsingsgroepe en -institute wêreldwyd, insluitend H3D (die Sentrum vir Geneesmiddelontdekking en -ontwikkeling aan die Universiteit van Kaapstad).
In 2024, het professors Strauss en Birkholtz groot finansiële toekennings ontvang om geneesmiddelontdekking vir tuberkulose (TB) en malaria te versnel. “Hierdie toekennings het die grondslag gelê waarop ACTI gebou is”, het Strauss gesê. “Deur met meer kollegas by die US saam te werk, is ons opgewonde oor ACTI se vooruitsigte om oplossings te kan vind vir baie van die dringende gesondheidsorgbehoeftes in Afrika.”