Skip to main content
Prof Nico Koopman, Dr Zethu Mkhize, poet Diana Ferrus, Prof Christi van der Westhuizen and Dr Leslie van Rooi at the recent Transformation Indaba.
Image by: Ignus Dreyer

Prof Nico Koopman, dr Zethu Mkhize, Diana Ferrus, prof Christi van der Westhuizen en dr Leslie van Rooi by die Transformasie-indaba.

Gebeure Institusionele nuus

Transformasie-indaba konfronteer die verlede, herverbeel die toekoms

Corporate Communications
20 Oktober 2025
  • Die Transformasie-indaba oor twee dae by die US is deur onverskrokke besinning oor die kompleksiteite van institusionele verandering gekenmerk.
  • Sprekers het die Universiteit aangespoor om verder as beleid te beweeg na outentieke transformasie wat in empatie, billikheid en gedeelde verantwoordelikheid gewortel is.
  • Die geleentheid het die US se verbintenis tot die bou van ʼn universiteit waar elke persoon werklik kan behoort, opnuut bevestig.

Die jaarlikse Transformasie-indaba van die Universiteit Stellenbosch (US) het begin met ʼn beroep vir diepgaande besinning, eerlikheid en kollektiewe verantwoordelikheid toe akademici, studente en personeel by die Devonvale-gholf-en-wynlandgoed byeengekom het om dié Instelling se vordering met transformasie te ondersoek. Die tema vanjaar was ‘Die aanpak van die volgende fase van holistiese transformasie’.

Prof Nico Koopman, Adjunk-visekanselier: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, het kollegas in sy verwelkomingsopmerkings daaraan herinner dat transformasie “nie ʼn bestemming is nie, maar ʼn lewenswyse”. Hy het die universiteitsgemeenskap aangespoor om hulle reis na “waardigheid, genesing, geregtigheid, vryheid en gelykheid” deur gedeelde eienaarskap en met morele moed voort te sit.

In haar hoofrede het prof Christi van der Westhuizen van die Universiteit van Wes-Kaapland universiteite uitgedaag om die dieper kulturele logika wat ongelykheid aanhou voortbring, die hoof te bied. Sy het gewaarsku dat transformasie nie deur oppervlakkige hervorming alleen bereik kan word nie en het eerder gevra vir “epistemiese dekolonisasie” – die omarming van kennisstelsels en geleefde ervarings buite Euro-Amerikaanse tradisies.

In reaksie op vrae uit die gehoor het Van der Westhuizen skerp woorde gehad vir mense wat aangespoor word deur Amerikaanse regsgesindes wat transformasie met “wokeness” of identiteitspolitiek vereenselwig. “Ek beskou nie ons lang en trotse geskiedenis van aktivisme vir geregtigheid as ʼn sogenaamde woke-isme nie,” het sy gesê. “Dis belaglik, en dis ʼn belediging vir elke persoon wat ooit teen rasse-, geslags- en ander ongeregtighede in Suid-Afrika geveg het.”

Sy het dr Zethu Mkhize, Direkteur van Transformasie by die Sentrum vir die Bevordering van Sosiale Impak en Transformasie (CASIT) en die programdirekteur van die eerste dag van die Indaba, geprys vir die aanmoediging van akademiese gesprekke oor die onderwerp van institusionele verandering. Haar rede het die toon aangegee vir ʼn geleentheid wat beide intellektueel veeleisend en emosioneel gelaai was. 

Die bekroonde digter Diana Ferrus, wat ʼn eredoktorsgraad van die US het, het die eerste sessie afgesluit met ʼn voorlesing van haar gedig “It is a long walk to freedom”, wat deelnemers daaraan herinner het dat transformasie ʼn kollektiewe, voortgesette stryd vir waardigheid en behoort bly.

Aanpak van uitsluiting, herverbeelding van toegang

In daaropvolgende sessies is onverskrokke oor die geleefde ervarings binne die akademie besin – van akademiese xenofobie en neurodiversiteit tot kwessies soos universele toegang en ekonomiese bemagtiging.

Dr Precious Simba, dosent in onderwysbeleidstudies, het die subtiliteite van “akademiese xenofobie” blootgelê en beskryf hoe akademici van ander Afrika-lande dikwels ondanks hulle bydraes professionele isolasie en vertraagde vordering die hoof moet bied. “Xenofobie in die akademie dra ʼn pak,” het sy opgemerk. “Dit lei ʼn komitee, dit stel beleid op, dit is beleefd, dit is prosedureel. En tog is dit ewe verwoestend, want dit gaan oor die selektiewe voorstelling van mense van bepaalde lande.”

Die toekomskundige dr Doris Viljoen van die Instituut vir Toekomsnavorsing het verskeie scenario’s vir die hoëronderwyssektor geskets en gewaarsku dat universiteite vinnig by tegnologiese en sosiale verandering moet aanpas. “Die wêreld wag nie vir ons nie,” het sy gemaan en universiteite aangespoor om innovasie te omarm terwyl hulle hulle openbare missie behou.

In die dag se laaste gesamentlike sessie oor billikheid en insluiting is dié kwessies in die US se eie konteks bekyk. Joanne Williams en Elsa Frylinck het breëbasis- swart ekonomiese bemagtiging (B-BBEE) as ʼn strategiese dryfveer van verandering eerder as ʼn voldoeningsoefening geherposisioneer. Dr Olebogeng Mokgantshang het benadruk dat kurrikulumtransformasie ʼn “verskuiwing van tikblokkie-oefeninge na omvattende betrokkenheid by kennis” vereis.

Die ontroerendste stem van die dag was moontlik dié van dr Ethel Phiri met ʼn beskrywing van haar ervaring as ʼn neurodiverse akademikus wat ʼn instelling navigeer wat steeds leer om andersheid te akkommodeer. “Insluiting maak van ons beter onderwysers, beter navorsers en beter kollegas,” het sy besin. 

Die sessie is afgesluit met ʼn kragtige herinnering deur dr Marcia Lyner-Cleophas dat “universele toegang ons almal bevoordeel, nie net diegene met gestremdhede nie”.

Waarheidsvertelling, verantwoordbaarheid en hoop

As die eerste dag van die Transformasie-indaba besinning ontlok het, het die tweede eerlikheid vereis. Lovelyn Nwadeyi, ʼn voormalige studenteleier en stigter van LN Advisors, het ʼn hoofrede gelewer wat deur talle deelnemers as die mees impakvolle oomblik van die geleentheid bestempel is. Sy het haar tyd by die US tydens die #FeesMustFall-beweging met innemende openhartigheid herbesoek en vertel hoe sy gekies het om haar studies te staak weens die “toksiese omgewing” wat sy ervaar het.

Deur die gebruik van die Igbo-woord “ma” – wat “skoonheid” én “mes” beteken – het Nwadeyi die paradoks van ʼn dorp vasgevang waarvan die skilderagtige sjarme met pynlike geskiedenisse saambestaan. “Die skoonheid van Stellenbosch verbloem die pyn wat hierdie plek veroorsaak het en steeds vandag veroorsaak ,” het sy gesê en gewaarsku dat solank transformasie verstaan word as ʼn stadige, tegniese proses eerder as ʼn aftakeling van diepgewortelde magstrukture, “sal ons jaar ná jaar dieselfde dinge bespreek en minimale vordering maak”.

Haar woorde het aanklank gevind by studente en personeellede wat later deelgeneem het aan ʼn paneelbespreking oor die betekenis van transformasie vandag. Die studenteleiers Senzakahle Mazibuko, Simamkele Tozela, Hakeemah Matinka, Sanet Viljoen en Sam Morrick het besin oor kwessies van diversiteit, toeganklikheid, geestesgesondheid en behoort.

Die Indaba is afgesluit met ʼn geesdriftige terugvoersessie van groepbesprekings onder leiding van dr Jean Farmer en ander waarin temas van die twee dae saamgevleg is – van ekonomiese bemagtiging en kurrikulumtransformasie tot die etiek van insluiting. 

Koopman het deelnemers in sy slotopmerkings aangespoor om ongemak as integraal tot vooruitgang te beskou. “Daar is geen transformasie sonder ongemak nie,” het hy gesê. “Maak vooruitgang meer sigbaar. Gaan vinniger, gaan dieper. Bou ʼn universiteit wat ʼn tuiste vir almal is.”

Die boodskap van die 2025 Transformasie-indaba was duidelik: Transformasie is ʼn kollektiewe reis wat empatie, moed en ʼn onverbiddelike toewyding tot geregtigheid en behoort verg.

Verwante stories