Die waardes van die Universiteit Stellenbosch (US) hou verband met die oortuigings en houdings wat ons gedrag rig. Om te kan sê wat ons waardes is, is eenvoudig, maar om dit in ons daaglikse aktiwiteite in aksies te omskep, kan soms meer ingewikkeld wees. Daarom moet die US se waardes – uitnemendheid, deernis, billikheid, respek en verantwoordbaarheid – deel uitmaak van hoe ons optree, by mekaar aansluiting vind, besluite neem en etiese uitdagings hanteer. Die Universiteit se Waardes in Aksie-werkswinkels is daarop gemik om personeel en studente toe te rus om waardegedrewe gedrag en leierskap te verpersoonlik. Hierdie werkswinkels is insiggewend, ervaringsgerig en prakties. Die werkswinkel stel deelnemers in staat om ’n algemene begrip te kry van die soort universiteitsgemeenskap wat ons graag wil wees, en om vaardighede aan te leer om moontlike waardebotsings te bestuur.