Die waardes van die Universiteit Stellenbosch (US) hou verband met die oortuigings en houdings wat ons gedrag rig. Dit is maklik om te kan sê wat ons waardes is, maar om dit in ons daaglikse aktiwiteite in aksies te omskep, is meer ingewikkeld. Daarom moet die US se waardes – uitnemendheid, deernis, billikheid, respek en verantwoordbaarheid – geïntegreer wees met hoe ons optree, handel, by mekaar aansluiting vind, besluite neem, en etiese uitdagings hanteer. Die Universiteit se Waardes in Aksie-werkswinkels is daarop gemik om personeel en studente toe te rus om waardegedrewe gedrag en leierskap te verpersoonlik. Hierdie werkswinkels is insiggewend, ervaringsgerig en prakties.