Van links, dr Astrid Treffry-Goatley, dr Chanelle Mulopo en Anel Schoonees by 'n Openbare Plein-sessie oor transdissiplinêre navorsing.
Openbare Pleine blaas lewe in ruimtes tússen vakgebiede
- Anders as tradisionele navorsingstrukture, is Openbare Plein-groepe ontwerp as ruimtes in ʼn vroeë ontwikkelingsfase – waar idees getoets, verhoudings gebou en nuwe vorme van samewerking ontwikkel kan word voordat hulle vorm aanneem as formele projekte of strukture.
- Die inisiatief word gelei deur dr Astrid Treffry-Goatley.
Die Universiteit Stellenbosch (US) het ʼn ambisieuse visie – om “Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit te wees, wat wêreldwyd as uitstekend, inklusief en innoverend erken word en waar ons kennis tot diens van die samelewing bevorder.”
Aan die kern van hierdie doelwit is die strategiese tema van “Navorsing vir Impak” – ʼn verbintenis om nuwe kennis nie net te genereer nie, maar ook te verseker dat dit vir die gemeenskap iets beteken. Hiervoor is samewerking oor akademiese dissiplines heen noodsaaklik.
Om dít uit te beeld, gebruik die US die analogie van ʼn stedelike landskap. Fakulteite en hul akademiese departemente is die historiese geboue van dissiplinêre kennis. Navorsingsentrums en -institute is die nuwer geboue waar kundigheid saamgetrek word. En bo hulle toring missiegedrewe entiteite (bv. skole) uit – die ‘wolkekrabbers’ wat ontwerp is om komplekse uitdagings oor vakgebiede heen aan te pak.
Maar ʼn stad word nie net deur sy geboue gedefinieer nie. Dit word ook gekenmerk deur die ruimtes tússen geboue – waar mense mekaar ontmoet, idees uitruil en nuwe moontlikhede verken. Dit is in hierdie tussenruimtes waar die US se Openbare Pleine vorm aanneem.
Ruimtes wat verbind
Die inisiatief word gelei deur dr Astrid Treffry-Goatley, wat werksaam is waar kultuur, gesondheid en maatskaplike verandering oorvleuel. Met ʼn agtergrond in deelnemende en skeppende navorsing, meen sy dat komplekse uitdagings nie deur dissiplinêre kundigheid alleen aangespreek kan word nie, maar samewerking vereis, gebaseer op konteks en geleefde ervaring.
Toe sy haar in 2022 by die US aangesluit het, wou sy ʼn transdissiplinêre sentrum vestig wat op maatskaplike verandering en innovasie fokus. Ná gesprekke met kollegas in die Afdeling Navorsingsontwikkeling is hierdie idee aangepas na ʼn meer buigsame platform wat navorsers, praktisyns en beleidmakers rondom gedeelde uitdagings saamsnoer.
Anders as tradisionele navorsingstrukture, is Openbare Plein-groepe ontwerp as ruimtes in ʼn vroeë ontwikkelingsfase – waar idees getoets, verhoudings gebou en nuwe vorme van samewerking ontwikkel kan word voordat hulle vorm aanneem as formele projekte of strukture.
Dr Therina Theron, Senior Direkteur vir Navorsing en Innovasie, verduidelik: “Ons weet dat die mees komplekse maatskaplike uitdagings nooit deur ʼn enkele vakgebied, of deur akademiese denke alleen, opgelos kan word nie.”
Prof Sibusiso Moyo, Viserektor vir Navorsing, Innovasie en Internasionalisering, voeg by: “Ons Openbare Pleine-inisiatief skep ruimte vir samewerking en vir betrokkenheid met vennote buite die universiteit.”
ʼn Oproep vir voorstelle in 2023 het sterk belangstelling uitgelok, waarná Openbare Pleine deur ʼn mededingende beoordelingsproses gekies is. Dié groepe het befondsing vir drie jaar van die US se Strategiese Fonds ontvang.
Hierdie aanvanklike befondsing was bedoel om die inisiatief aan die gang te kry, en om spanne in staat te stel om momentum te bou, kapasiteit te vestig om hul planne na te streef, en addisionele befondsing te help bekom.
Tasbare resultate
Openbare Pleine word soms beskryf as ‘speelparke’ of ‘sandputte’ waar navorsers idees oor dissiplinêre grense heen kan verken. Gereelde ‘pieknieks’ bied geleenthede vir informele betrokkenheid.
Terselfdertyd ondersteun die inisiatief konkrete vordering, met spanne wat opleiding ontvang in verskillende gebiede – van navorsing en openbare betrokkenheid tot begrotings en hoe om vir toelae aansoek te doen. Hulle neem ook deel aan gefasiliteerde sessies om projekidees te ontwikkel.
Die inisiatief is formeel in Maart 2024 bekendgestel en toon reeds tasbare resultate. Dit sluit in:
- Twaalf transdissiplinêre groepe in diverse velde
- Meer as 60 begeleide werkswinkels en gespreksessies
- Talle eweknie-geëvalueerde artikels voortspruitend uit samewerkende navorsing
- Eksterne befondsing, insluitend deelname aan ʼn multi-institusionele Afrika-konsortium met finansiering van sowat R60 miljoen
- Vennootskappe met belanghebbendes op verskillende vlakke – nasionaal, provinsiaal, plaaslik en in gemeenskappe
Saam dui hierdie ontwikkelings op ʼn groeiende pyplyn – van vroeëstadium-idees tot befondsde navorsingsprogramme, institusionele platforms en maatskaplike impak.
Klemverskuiwing
Die Openbare Pleine-inisiatief verteenwoordig ʼn klemverskuiwing van navorsing wat vakgebied-gefokus is na probleemgedrewe samewerking.
“Dit gaan daaroor om met uitdagings te begin en te vra wat dit is wat ons moet verstaan,” sê Treffry-Goatley. “Eerder as om binne ʼn dissipline te begin, bou ons ʼn transdissiplinêre span rondom bepaalde probleme.”
Daar word ook voorsiening gemaak dat projekte verskillend kan ontwikkel. “Nie almal beweeg teen dieselfde tempo nie,” verduidelik sy. “Ons weet daar is verskillende ritmes – die vinnigste projekte beweeg gouer vorentoe, terwyl ander meer geleidelik opbou.”
Begronde navorsing
Soms word daar in spesifieke plaaslike kontekste vennootskappe gebou en navorsing gedoen. ʼn Groep wat ʼn geïntegreerde gesondheidsbenadering volg, lê verbande tussen migrasie, grondgebruik en siektes. Hulle werk saam met munisipale en gemeenskapsbelanghebbendes in Grabouw en Saldanhabaai.
ʼn Verwante perspektief is duidelik in ʼn ander groep se werk oor aansteeklike siektes. Navorsers in kliniese, laboratorium- en veeartsenykundige wetenskappe werk met regeringsvennote saam om wisselwerking in gesondheidsrisiko’s te ondersoek.
“Die uitgangspunt is dat die gesondheid van mens, dier en die omgewing diep verweef is. Dié perspektief het prominensie verwerf weens wêreldwye gesondheidskrisisse,” sê prof Wolfgang Preiser, die hoof van virologie aan die US.
Nuwe deuntjie
Die inisiatief se mees onlangse toevoeging is ʼn Openbare Plein in gesondheid en die skeppende en uitvoerende kunste. Ook in dié groep werk navorsers en praktisyns uit verskillende gebiede saam.
“Kunstenaars is ʼn kwesbare gemeenskap wat dikwels afgeskeep word. Dit het implikasies vir menseregte, maatskaplike insluiting, gelykheid en gesondheid,” sê prof Bridget Rennie-Solonen, hoof van houtblaasinstrumente in die US se Departement Musiek.
Toekomsblik
Treffry-Goatley sê dat namate die aanvanklike Strategiese Fonds-ondersteuningstydperk later vanjaar einde se kant toe staan, verskuif die aandag na die toekoms van Openbare Pleine – spesifiek hoe die model volgehou en uitgebrei kan word.
“Gesprekke oor opvolgbefondsing is aan die gang, en ons verwag dat verskeie elemente van die inisiatief sal voortduur. Dit sluit in die samewerkende benadering sigself, die netwerke wat gevestig is, en opkomende projekte wat in die rigting van eksterne befondsing en institusionalisering beweeg,” sê sy.
Sy merk op dat sommige Openbare Plein-groepe reeds eksterne vennootskappe en hulpbronne bekom het om hul werksaamhede voort te sit. Ander word in formele strukture omskep, soos navorsingsentrums of akademiese programme. Saam dui hierdie ontwikkelings daarop dat die inisiatief gevestig begin raak in die Universiteit se breër navorsingsekosisteem.
Daar is ook toenemend belangstelling in die uitbreiding van die model – beide binne die US en deur vennootskappe buite die instelling. Lesse uit die aanvanklike fase beïnvloed hoe toekomstige iterasies gestruktureer kan word. Dit sluit in hoe projekte in verskillende stadiums van ontwikkeling ondersteun kan word, en hoe die vordering van vroeë samewerking tot volgehoue impak aangehelp kan word.
Treffry-Goatley verwag dat die Openbare Pleine-inisiatief die volgende paar jaar sal voortgaan om te fokus op komplekse, dwarsliggende uitdagings – van gesondheids- en omgewingsuitdagings tot maatskaplike ongelykheid en inligtingsintegriteit. Sy meen ook dat die betrokkenheid van vennote in die staat, burgerlike samelewing en gemeenskappe sal verdiep.
Sy sluit af: “Die uiteindelike ambisie is nie net om individuele projekte volhoubaar te maak nie, maar om te verander hoe navorsing bedink en uitgevoer word – om meer verbonde, responsiewe en maatskaplik-betrokke werkwyses te skep, sowel binne ons Universiteit as daarbuite.”
* Klik hier vir die Openbare Plein-inisiatief se sosialemediakanale, geleenthede, werkswinkels, verslae en ander hulpbronne.
Verwante stories:
- Beyond silos: Rethinking how research gets done (University World News)
- US-navorsers dra by tot vername studie oor ingeperkte groei
- Navorsing vir impak: US-groep werk mee aan projek teen dwerggroei
* Desmond Thompson is ʼn vryskutjoernalis