Deelnemers by die bekendstelling op 21 April 2026 van ’n spesiale uitgawe van die joernaal Development Southern Africa wat navorsing byeenbring oor die bestryding van ingeperkte lengtegroei by kinders.
US-navorsers dra by tot vername studie oor ingeperkte groei
- Toonaangewende navorsers, beleidmakers en praktisyns byeengebring om een van die SA se mees volgehoue en komplekse openbare gesondheidsuitdagings – ingeperkte lengtegroei by kinders – die hoof te bied.
- Ingeperkte lengtegroei is nie die probleem van ʼn enkele sektor nie, dit is sistemies en vereis ʼn sistemiese reaksie.
- Die bestryding van ingeperkte lengtegroei moet ʼn nasionale ontwikkelingsprioriteit wees, gerugsteun deur sterk koördinering en aanspreeklikheid.
ʼn Nuwe spesiale uitgawe van die vaktydskrif Development Southern Africa bring toonaangewende Suid-Afrikaanse navorsers, beleidmakers en praktisyns byeen om een van die land se mees volgehoue en komplekse openbare gesondheidsuitdagings – ingeperkte lengtegroei by kinders – die hoof te bied.
Die titel van die uitgawe is “Prioritising the Fight Against Stunting in South Africa”. As versameling van tien eweknie-geëvalueerde artikels, bied die publikasie waarskynlik die mees omvattende interdissiplinêre assessering tot nog toe van waarom ingeperkte lengtegroei so algemeen in Suid-Afrika is – en wat dit sal verg om dít te verbeter.
Die projek is befonds deur die DG Murray Trust ( DGMT ). Navorsers van ses universiteite – die Universiteit Stellenbosch (US), die Universiteit van Kaapstad (UK), die Universiteit van die Wes-Kaap (UWK), die Universiteit van die Witwatersrand, Noordwes-Universiteit en Nelson Mandela Universiteit – asook die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMRC), beleidmakers en burgerlike samelewingsorganisasies het bydraes gelewer.
Altesaam 12 US-navorsers het ʼn belangrike rol gespeel – as outeurs of mede-outeurs van vyf van die artikels: Romeo Bhebhe, Ronelle Burger, Angela Coetzee, Scott Drimie, Lisanne du Plessis, Trust Gangaidzo , JH Nel, Benjamin Oamen, Jessica Ronaasen, Marna Smuts, Dieter von Fintel en Gabrielle Wills (sy was ook een van die gasredakteurs).
Die publikasie het sy oorsprong in ʼn byeenkoms by die US in 2024, ondersteun deur die Universiteit se Openbare Plein- (Public Squares)-inisiatief – ʼn program wat transdissiplinêre, oplossingsgerigte navorsing oor komplekse maatskaplike uitdagings bevorder. Daar is een groep wat spesifiek op kindergroei en -ontwikkeling fokus.
'Beweeg die naald'
Die spesiale uitgawe is op 21 April 2026 amptelik by die Devon Valley Hotel buite Stellenbosch bekendgestel.
Prof Ronelle Burger van die US se Departement Ekonomie het die geleentheid geopen en die samewerkende aard van die projek beklemtoon. Alle deelnemers, het sy gesê, het ʼn gemeenskaplike doelwit: om “die naald te beweeg” wat betref ingeperkte lengtegroei, ʼn krisis wat oor baie jare min betekenisvolle verbetering getoon het.
Wat is ingeperkte lengtegroei?
Ingeperkte lengtegroei beteken dat ʼn kind te kort is vir hul ouderdom, ʼn toestand wat veroorsaak word deur chroniese ondervoeding en ander vroeë tekorte vroeg in hul lewe.
Dit gaan nie net oor fisiese groei nie. Ingeperkte ontwikkeling word geassosieer met verswakte breinontwikkeling, laer skoolprestasie en verminderde verdienstepotensiaal later in die lewe.
Van kritieke belang is dat ingeperkte lengtegroei gedurende die eerste 1,000 dae van ʼn kind se lewe ontwikkel – van bevrugting tot tweejarige ouderdom. Die gevolge is langdurig en dikwels onomkeerbaar.
Soos in die redaksionele kommentaar genoem word, is ingeperkte lengtegroei nie net ʼn gesondheidskwessie nie – dit dui op strukturele ongelykheid en menslike potensiaal wat nie verwesenlik word nie.
Groter prentjie
Prof Julian May van UWK het die groter prentjie in sy hoedanigheid as lid van Suid-Afrika se Nasionale Beplanningskommissie geskets.
“Kinders word nie sentraal in regeringsbeplanning geplaas nie,” het hy gesê, en die spesiale uitgawe beskryf as ʼn “oproep tot aksie” – wat beide ʼn diagnose van die probleem en ʼn padkaart vir verandering bied.
Bewyse saamgevoeg
Prof Wiedaad Slemming van die Universiteit van Kaapstad het as die hoofgasredakteur van die navorsingsbevindinge met die gehoor gedeel. Sy het beklemtoon dat die spesiale uitgawe meer as net ʼn versameling individuele studies is.
“Ons sê dikwels dat ons nie bewyse het nie – maar dis nie heeltemal waar nie. Ons weet eintlik heelwat. Die probleem is fragmentering.”
Tot nou toe. Die nuwe publikasie gee ʼn omvattende beeld van waarom Suid-Afrika se ingeperkte lengtegroei hardnekkig hoog gebly het, en wat dit sal verg om dit te verbeter.
“Ingeperkte lengtegroei is nie die probleem van ʼn enkele sektor nie,” het Slemming gesê. “Dit is sistemies en vereis ʼn sistemiese reaksie.”
Wat die navorsing toon
Etlike belangrike insigte word in die publikasie vervat.
Eerstens is die omvang van die probleem moeilik om presies te bepaal, wat dit moeilik maak om vordering te meet en programme asook amptenare aanspreeklik te hou. Ramings wissel van 20% tot 30% – wat wys dat daar teenstrydighede in data-insameling en -meting is.
Tweedens, weerspieël ingeperkte lengtegroei kumulatiewe ontbering, veroorsaak deur armoede, voedselonsekerheid, onvoldoende sorg en swak dienslewering.
Derdens is daar velerlei oorsake, insluitend gesondheid, voedselstelsels, maatskaplike omstandighede en versorging.
Vierdens, hoewel effektiewe intervensies bestaan, is dit moeilik om op groot skaal te implementeer.
Beleidsraamwerke – en hul beperkings
Suid-Afrika het geen tekort aan beleidsraamwerke nie, maar behoorlike implementering ontbreek.
In ʼn terugblik op die Nasionale Voedsel- en Voedingssekerheidsplan van 2017, het Thulani Masilela van die Departement van Beplanning, Monitering en Evaluering in die Presidensie gesê ʼn onafhanklike studie het bevind die plan was “hoogs relevant”, maar daar was “geen betekenisvolle vordering in koördinerings- en toesigstrukture” nie.
Die Nasionale Strategie vir Versnelde Aksie vir Kinders van 2024 plaas groter klem op ingeperkte lengtegroei. Dit bring Suid-Afrika by ʼn “kruispad” uit, waar vordering sal afhang van omvattende optrede deur verskillende sektore – eintlik die hele staat en samelewing.
Lesse van elders
Internasionale ervaring dui daarop dat vooruitgang moontlik is, indien die regte benadering gevolg word.
Die Wêreldbank-ekonoom Zelalem Yilma Debebe het opgemerk dat ingeperkte lengtegroei aansienlik afgeneem het in lande waar die kwessie op die hoogste vlak geprioritiseer is.
In Peru het ingeperkte lengtegroei met 15 persentasiepunte in ʼn dekade gedaal, terwyl dit in Indonesië met 11 persentasiepunte binne ses jaar afgeneem het.
Die belangrikste les is dat die bestryding van ingeperkte lengtegroei ʼn nasionale ontwikkelingsprioriteit moet wees, gerugsteun deur sterk koördinering en aanspreeklikheid.
Van beleid tot implementering
In sowel die spesiale uitgawe van die joernaal as die bespreking tydens die bekendstelling het ʼn konsekwente boodskap na vore gekom: Suid-Afrika se uitdaging is nie hoofsaaklik een van hulpbronskaarste nie.
Die land het ʼn relatief stabiele voedselvoorraad, ʼn uitgebreide stelsel van maatskaplike beskerming, ʼn netwerk van gemeenskapsgesondheidswerkers en goeie navorsing.
Die probleem lê in hoe hierdie aspekte gekoördineer word.
Versigtige optimisme
Die spesiale uitgawe kom op ʼn tydstip van hernieude politieke aandag aan die probleem. In sy staatsrede vroeg in 2026 het pres Cyril Ramaphosa die land daartoe verbind om ingeperkte lengtegroei teen 2030 te beëindig.
Navorsers beskryf dit as ʼn belangrike sein, maar waarsku dat sukses sal afhang van of hierdie verbintenis geëwenaar word deur volgehoue leierskap, voldoende finansiering en gekoördineerde implementering.
Dr Lesley Bamford van die Nasionale Departement van Gesondheid het gesê: “Ons moet wegkom daarvan om kinders net te wil laat oorleef. Ons moet hulle laat gedy.”
Ter afsluiting van die bekendstellingsgeleentheid het Liezel Engelbrecht van DGMT die uitdaging in menslike terme gestel. Sy het ʼn toekoms bepleit waarin elke kind gebore word “met genoeg liefde, genoeg kos, genoeg veiligheid en genoeg geleenthede om te ontwikkel.”
Wat die spesiale uitgawe betref, het Burger beklemtoon: “Die ideale uitkoms is dat dit nie net nog ʼn publikasie is nie, maar iets wat gelees en vertrou word, en waarop daar gereageer word.”
* Development Southern Africa is ʼn eweknie-geëvalueerde tydskrif wat fokus op ontwikkelingsbeleid, -praktyk en -navorsing in die streek. Dit word uitgegee deur Taylor & Francis. Die spesiale uitgawe (Volume 42, Uitgawe 6, 2025) is oop toegang en vrylik beskikbaar om af te laai .
* Desmond Thompson is ʼn vryskutjoernalis.