
Prof Regan Solomons van die Departement Pediatrie en Kindergesondheid lewer sy intreerede
Prof Regan Solomons help red lewens van kinders met tuberkuleuse meningitis
- Prof Regan Solomons van die Departement Pediatrie en Kindergesondheid het Dinsdag 7 Oktober 2025 sy intreerede gelewer
- Sy navorsing fokus op die vermindering van voorkombare sterftes weens tuberkuleuse meningitis (TBM) by kinders
- Hy help om praktiese en kinderspesifieke oplossings vir TBM in kinders te vind
Prof Regan Solomons van die Departement Pediatrie en Kindergesondheid by die Tygerberg-hospitaal en die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US) het Dinsdag 7 Oktober 2025 sy intreerede gelewer. Die titel van sy lesing was “Die verstaan van tuberkuleuse meningitis by kinders deur ʼn lappieskombers van ervarings – op soek na Neverland of Sugar Man?”
Solomons het met die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking gesels oor hoe hy help om voorkombare sterftes weens tuberkuleuse meningitis (TBM) by kinders te verminder en sulke kinders die beste moontlike kans in die lewe te bied.
Vertel ons meer oor jou navorsing en waar jou belangstelling in hierdie spesifieke veld vandaan kom.
My navorsing fokus op die ernstigste vorm van TB by kinders, naamlik TBM. Talle gevalle (40-50 per jaar) word jaarliks opgeneem by die Tygerberg-hospitaal, waar ek opgelei is en werk. Ek is dus baie vroeg in my loopbaan blootgestel aan die tragiese impak van hierdie siekte op kinders en gesinne, insluitend die hoë mortaliteit en die voortgesette neurologiese gestremdheid van oorlewendes. Daardie blootstelling het natuurlikerwys tot navorsing gelei, want ek wou beter maniere vind om TBM in veral hulpbronbeperkte gebiede te diagnoseer en behandel.
My kliniese en navorsingsdenke oor TBM by kinders is grootliks beïnvloed deur twee mense wat ek as mentors beskou – profs Johan Schoeman en Ronald van Toorn. Ek was gelukkig genoeg om die Nasionale Navorsingstigting se Desmond Tutu-Vrije Universiteit Amsterdam-US- doktorale beurs te ontvang en dit het my PhD oor die verbetering van vroeë diagnose van TBM by kinders moontlik gemaak.
Sedertdien het my werk op elke stadium van die siekte gefokus: van die verfyning van gevaldefinisies en die ondersoek van serebrospinale vloeistof- en bloedbiomerkers (molekules in die bloed wat wys of die liggaam normaal funksioneer en of daar dalk ʼn siekte- of gesondheidsprobleem is), tot metabolomika (die studie van die struktuur, funksie en hoeveelheid van al die klein molekules, bekend as metaboliete, wat selle of organismes produseer en gebruik) en nuwe diagnostiese instrumente.
Saam met medewerkers het ons patente vir biomerkergebaseerde benaderings geregistreer en tot globale riglyne bygedra, insluitend die Wêreldgesondheidsorganisasie se aanbeveling van die korter ‘Kaapstad-regime’ (baanbrekende verkorte, volledig orale TB-behandelingsregimes wat deur navorsing in Kaapstad ontwikkel is) vir middelvatbare TBM by kinders.
Al my werk fokus op die kinders en gesinne wat ek dien. Die doel is nie net om wetenskaplike kennis te bevorder nie, maar ook om sterftes en gestremdheid te verminder en om te verseker dat kinders wat deur TBM geraak word, die beste moontlike kans in die lewe het.
Hoe sou jy die relevansie van jou werk beskryf?
My navorsing oor TBM by kinders is hoogs relevant omdat dit op een van die ernstigste, mees verwaarloosde en mees verwoestende vorme van TB fokus. TBM het steeds onaanvaarbaar hoë sterftesyfers en langtermyn-gestremdheid by kinders tot gevolg, veral in omgewings met ʼn hoë siektelas en beperkte hulpbronne.
Ek het die tragiese gevolge van laat diagnose eerstehands by die Tygerberg-hospitaal ervaar, waar kinders dikwels met gevorderde siekte en onomkeerbare breinbeserings opgeneem word. Dit het my gemotiveer om op praktiese oplossings te fokus om uitkomste te verbeter.
Die uiteindelike relevansie van hierdie werk behels die verandering van die lewenstrajek van kinders wat geraak word: die vermindering van voorkombare sterftes, die beperking van lewenslange gestremdheid tot die minimum en die versterking van gesondheidstelsels. Terselfdertyd beklemtoon dit oplossings uit Afrika-kontekste met ʼn hoë siektelas wat wêreldwyd toegepas kan word.
Wat is die grootste uitdagings in die bestuur en behandeling van tuberkuleuse meningitis by kinders?
Dis moeilik om te bestuur omdat vroeë diagnose en behandeling dikwels vertraag word. Die siekte begin met vae, nie-spesifieke simptome soos koors, prikkelbaarheid of lusteloosheid wat ander algemene kinderinfeksies naboots, waarna dit vinnig tot ʼn ernstige neurologiese siekte vorder.
Konvensionele mikrobiologiese toetse op serebrospinale vloeistof is dikwels onsensitief (onsuksesvol om probleme op te spoor) en gevorderde molekulêre diagnostiek of neurobeelding (tegnieke wat beelde van die brein se struktuur en aktiwiteit produseer) is nie altyd in gebiede met ʼn hoë las beskikbaar nie. Teen die tyd dat TBM bespeur word, ervaar baie kinders reeds komplikasies soos hidrokefalie (die opbou van vloeistof in holtes bekend as ventrikels diep in die brein), beroertes of harsingsenuweeverlamming (wanneer een van die 12 pare senuwees wat uit die brein kom en beweging, gevoel of ander aktiwiteite in die kop en nek beïnvloed, hulle funksie verloor). Dit maak behandeling meer kompleks en verswak uitkomste.
Behandeling is ook ʼn uitdaging. Roetinedosisse van standaard anti-TB-middels penetreer nie almal die brein goed nie, en kinderspesifieke bewyse om optimale behandeling te rig is beperk, veral vir middelweerstandige siektes. Selfs met verlengde behandeling en aanvullende kortikosteroïede (kragtige anti-inflammatoriese medikasie wat by die hoofbehandeling gevoeg word), bly mortaliteit hoog en baie oorlewendes ervaar lewenslange neurologiese komplikasies soos epilepsie, ontwikkelingsvertraging, kognitiewe verswakking en beroerte.
Die bestuur van hierdie komplikasies verg multidissiplinêre sorg, rehabilitasie en langtermynopvolging – dienste wat dikwels beperk is in gebiede met beperkte hulpbronne. Saam dra hierdie hindernisse by tot die volgehoue swak uitkomste van TBM by kinders ten spyte van vooruitgang in TB-beheer in die breë.
Dink jy huidige pogings is voldoende om tuberkuleuse meningitis by kinders aan te pak?
Nee. Wêreldwye TB-programme het veral op voorkoming en longkwale (enige toestand wat die longe en respiratoriese stelsel aantas) gefokus, terwyl TBM by kinders relatief verwaarloos gebly het al is dit die mees verwoestende vorm van TB.
Diagnostiese instrumente vir kinders is steeds te onsensitief, kindervriendelike middelformulerings met bewese penetrasie van die sentrale senuweestelsel is beperk, en die meeste behandelingsregimes word uit studies vir volwassenes geëkstrapoleer. Met die uitsondering van kortikosteroïede is beperkte data oor gasheergerigte behandelings beskikbaar en die gebrek aan sistematiese sifting vir neurologiese komplikasies bring mee dat baie oorlewendes van rehabilitasie en ondersteuning ontneem word.
Meer geteikende beleggings is nodig om uitkomste te verbeter. Dit sluit navorsing in oor vinnige en betroubare diagnostiek, geoptimaliseerde medikasieregimes vir kinders en geïntegreerde versorgingsroetes. Die versterking van gesondheidstelsels om vroeër bespeuring, wyer toegang tot gevorderde sorg en langtermyn-ondersteuning vir oorlewendes moontlik te maak, is ook van deurslaggewende belang. Totdat hierdie kwessies aangepak word, sal kinders met TBM steeds deur hoë sterftesyfers en lewenslange gestremdheid in die gesig gestaar word.
As ons vorentoe kyk, hoe kan huidige navorsing voordelige gevolge vir kwesbare kinders inhou?
Dit kan vroeër diagnose, doeltreffender behandelings en beter langtermynversorging bevorder. Vooruitgang in molekulêre toetse, biomerkers en neurobeelding kan die bespeuring van TBM moontlik maak voordat ernstige breinbeserings ontwikkel, terwyl kliniese proewe met hoër dosisse rifampisien, nuwe middels en gasheergerigte terapieë hoop bied vir behandelings wat vir kinders pasgemaak is, eerder as wat dit van volwassenes geëkstrapoleer word.
Terselfdertyd kan implementeringsnavorsing gesondheidstelsels versterk deur TB-programme aan multidissiplinêre dienste te koppel, wat verseker dat oorlewendes die ontwikkelingsmonitering en ondersteuning ontvang wat hulle nodig het. Deur op kinderspesifieke oplossings te fokus kan navorsing help om sterftes en gestremdheid te verminder en sodoende aan kinders wat deur TBM geraak word, ʼn regverdiger kans op oorlewing en ʼn beter lewensgehalte te bied.
Die hoëronderwysomgewing kan uitdagend wees. Wat hou jou gemotiveerd wanneer dinge moeilik raak?
Ek probeer so ver moontlik om werk- en gesinstyd te skei omdat gehaltetyd met my vrou en kinders altyd dinge in perspektief plaas en help om my batterye te herlaai. Om die gesondheid en welstand van kinders en hulle versorgers sentraal in my besluitneming te stel hou my nederig en is ʼn goeie motivering om aan te hou werk en ʼn voorspraakmaker op hierdie gebied te wees.
Vertel ons iets opwindends oor jouself wat mense nie sou verwag nie.
Ek is ʼn amateur-genealoog, wat gespruit het uit die behoefte om aan my kinders te verduidelik wie hulle voorouers was. Dis ten beste ʼn moeilike projek in die lig van die Kaap en Suid-Afrika se komplekse geskiedenis. Ek is ook mal daaroor om Lego saam met my kinders te bou.
Hoe bring jy jou vrye tyd deur?
Ek is ʼn huishoender wat daarvan hou om tyd in die tuin deur te bring wanneer ek kan en ek geniet dit om stadige kookkuns te beoefen wanneer ek tyd het. Vakansies is om nuwe plekke te verken en sloertoere saam met my gesin te onderneem.