Vier US-finaliste in die wedloop vir SA se gesogte ‘Wetenskap-Oscars’
- Vier finaliste ding mee om Nasionale Wetenskap- en Tegnologieforum/South32-toekennings.
- Toekennings erken uitstaande bydrae tot die wetenskap, ingenieurswese en tegnologie.
- Toekennings ook bekend as Suid-Afrika se ‘Wetenskap-Oscars’.
Vier finaliste van die Universiteit Stellenbosch (US) sal die instelling by die 2025/2026 Nasionale Wetenskap- en Tegnologieforum (NWTF)/South32-toekennings verteenwoordig waar hulle om Suid-Afrika se gesogte ‘Wetenskap-Oscars’ sal meeding.
Die jaarlikse NWTF/South32-toekennings erken, vier en beloon individue, spanne en organisasies se uitstaande bydrae tot die wetenskap, ingenieurswese en tegnologie (SET) in die land.
Die NWTF-toekenningsgala word gelyktydig in Kaapstad en Johannesburg gehou, terwyl ’n regstreekse stroomuitsending ook vir ’n aanlyn gehoor via die NWTF se YouTube-kanaal beskikbaar sal wees. Dr Blade Nzimande, die Minister van Wetenskap, Tegnologie en Innovasie en die beskermheer van die toekennings, sal die voorsitter by die toekenningsgeleentheid wees.
Die mededingers sluit onder meer ervare wetenskaplikes, ingenieurs, innoveerders, wetenskapkommunikeerders, ingenieurskapasiteitsbouers, organisatoriese bestuurders en -leiers, asook data- en navorsingsbestuurders in.
Volgens die organiseerders is dit ’n besondere eer om ’n finalis te wees, gegewe die gehalte van die nominasies wat elke jaar ontvang word, die fel mededinging tussen genomineerdes en die toenemende belangstelling vanuit die wetenskap-, ingenieurswese- en tegnologiegemeenskap oor die jare.
Die US-finaliste (met hulle departement of omgewing) en die kategorieë waarin hulle sal meeding, is soos volg:
Prof Angela Dramowski (Departement Pediatrie en Kindergesondheid)
- TW Kambule-NWTF-toekenning vir navorsers: Aan 'n individu wat tot navorsing en die uitsette daarvan oor 'n tydperk van tot vyftien jaar se navorsingswerk bygedra het vanaf die begin van die navorsingsloopbaan, hoofsaaklik in Suid-Afrika. Dramowski het dit tot die eindronde deurgedring vir haar werk in die bevordering van die voorkoming en behandeling van neonatale en pediatriese infeksies deur data-gedrewe gehalteverbetering, impakvolle navorsing, gesondheidswerkeropleiding en internasionale gesondheidsleierskap.
Dr Arifa Parker (Eenheid vir Infeksievoorkoming en -beheer in die Departement van Geneeskunde)
- NWTF-SAMNR-toekenning vir klinikus-wetenskaplikes: Aan ’n persoon wat tot navorsing en die uitkomste daarvan bygedra het – oor ’n tydperk van tot ses jaar se navorsingswerk vanaf die aanvang van hulle navorsingsloopbaan, hoofsaaklik in Suid-Afrika. Parker is 'n finalis vir haar bydrae tot gesondheidsorgepidemiologie in Afrika, waar sy kliniese en epidemiologiese kundigheid gebruik om die gehalte van gesondheidsorg en pasiëntveiligheid te verbeter.
Prof Pieter Swanepoel (Departement Agronomie)
- NWTF-TIA-toekenning vir groen ekonomie: Vir bydraes tot die bereiking van biodiversiteitsbewaring, omgewingsvolhoubaarheid en 'n groener ekonomie (deur 'n individu, span of organisasie oor die afgelope vyf tot tien jaar). Swanepoel is as finalis genomineer vir sy werk om langtermynveldbewyse in eenvoudige, lae-insette boerderymetodes om te skakel wat grond verbeter, insette verminder, die koolstofvoetspoor verminder en gewasopbrengste stabiliseer.
Nanosene (Dr Gestel Kuyler: HUB, medestigter en direkteur)
- Innovasietoekenning aan klein, medium en mikro ondernemings vir hulle bydrae tot innovasie en hulle navorsing en/of ontwikkeling. Nanosene, 'n US-afwentelmaatskappy, het tot die eindronde deurgedring danksy hulle werk om Afrika se eerste pasgemaakte polimeerinnoveerder te bou, wat meer betroubare geneesmiddelontwikkeling deur volgende-generasie nanoskyf-tegnologie moontlik maak.