Skip to main content
Weer rekordgetal grade vir US se 2016 akademiese jaar

Weer rekordgetal grade vir US se 2016 akademiese jaar

Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie
13 Maart 2017

Vandeesweek se Maart 2017 Gradeplegtigheid lewer wéér vanjaar besonderse akademiese rekords vir die Universiteit Stellenbosch (US) op. Tesame met die Desember 2016 Gradeplegtighede (die twee plegtighede word saam gereken as die 2016 akademiese jaar) word die meeste kwalifikasies ooit toegeken en weer is dit ook die meeste doktorsgrade wat in een akademiese jaar toegeken word.

140 doktorsgrade word toegeken wat die 2016 akademiese jaar vir doktorsgrade op 278 te staan bring (in vergelyking met die 267 van die 2015 akademiese jaar). Altesaam 2922 grade word hierdie week toegeken wat beteken dat daar altesaam 8339 grade vir die 2016 akademiese jaar toegeken is (7905 vir 2015).

Matie-studente word tydens ses verskillende seremonies in die Coetzenburg-sentrum – van Dinsdag 14 tot Vrydag 17 Maart 2017 – vir hul harde werk vereer.

Eregrade

Twee eredoktorsgrade word ook hierdie week toegeken – aan die prominente musiekwetenskaplike en professor in Musiekwetenskap en Musiekteorie aan die Universiteit van Princeton in die VSA – en die mees gesiene musiekwetenskaplike wat die Afrikavasteland tot nog toe opgelewer het, prof Kofi Agawu; en aan die Rwandese regeringsleier, bankier, beleidvormer en kampvegter vir vroueregte, dr Monique Nsanzabaganwa.

Die graad Doktor in die Wysbegeerte (PhD), honoris causa, word aan Agawu toegeken vir sy internasionaal gerekende bydrae tot musiekwetenskap, vir sy baanbrekende navorsing oor Afrika se musiek, en vir sy rol om, as bewys van die akademieskap wat Afrika kan voortbring, ʼn volgende geslag vakkundiges van die vasteland tot voorbeeld te strek.

Nsanzabaganwa ontvang die Graad Doktor in die Handelswetenskappe (DCom), honoris causa, vir haar rol in die ontwikkeling van vakkundig verantwoordbare ekonomiese beleid vir Rwanda om haar landgenote só van 'n beter lewe te voorsien, vir haar bydrae om wêreldklasstaatsinstellings te skep, en vir haar voorspraak vir vroue as kernrolspelers in die Afrika-ekonomie.

Die verskillende geleenthede is soos volg:

  • Dinsdag 14 Maart, 17:00: Fakulteite AgriWetenskappe en Geneeskunde & Gesondheidswetenskappe
  • Woensdag 15 Maart, 10:00: Fakulteite Teologie en Ingenieurswese
  • Woensdag 15 Maart, 17:00: Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe
  • Donderdag 16 Maart, 10:00: Fakulteite Natuurwetenskappe, Opvoedkunde, Regsgeleerdheid en Krygskunde
  • Donderdag 16 Maart, 17:00: Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (vir ʼn Groep A)
  • Vrydag 17 Maart, 10:00:  Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (vir ʼn Groep B) en eregrade

Parkering op Stellenbosch

Druk verkeer word op al die hoofroetes na Stellenbosch en in die dorp verwag. Graduandi, ouers en vriende word dus vriendelik aangeraai om liewer vroeg te arriveer om verkeersknope te vermy en parkering te kry. Graduandi met gestremdhede of graduandi wat weens beserings nie by die komende gradeplegtighede oor die verhoog kan beweeg nie, is baie welkom om die Universiteit se Kliëntedienssentrum by tel 021 808 9111 of e-pos [email protected] te kontak vir hulp met spesiale reëlings.