Skip to main content
Topnavorsers vereer met die US se Kansellierstoekenning

Topnavorsers vereer met die US se Kansellierstoekenning

Media & Communication, Faculty of Science
09 Desember 2016

Twee navorsers in die Fakulteit Natuurwetenskappe, prof. Bert Klumperman en prof. Leon Dicks, is vereer vir hul uitstaande akademiese prestasie met die oorhandiging van die Kansellierstoekenning tydens die Universiteit Stellenbosch se laaste gradeplegtigheid vir 2016 op Vrydag 9 Desember.

Die Kansellierstoekenning fokus op volgehoue uitnemende prestasie in navorsing, en/of leer en onderrig en/of gemeenskapsinteraksie. Dié toekennings word slegs eenkeer aan 'n individu toegeken.

Prof. Bert Klumperman word beskou as wêreldleier op die vakgebied van vrye-radikaalpolimerisasie. Hy is een van slegs drie A-gegradeerde chemici in SA en het as erkenning van sy wetenskaplike bydrae, verskeie toekennings ontvang wat insluit: die goue medalje van die SA Chemiese Instituut (2013), die Sasol chemie innoveerder van die jaar-toekenning (2015); en die NWTF toekenning vir lewenslange bydrae (2016).

Sy navorsing fokus tans op nanogeneeskunde waar hy werk op polimeriese afleweringsisteme van bekende en nuutontwikkelde farmaseutiese middels wat siektes soos malaria en kanker beveg. Hy is redakteur van verskeie vaktyskrifte, wat Elsevier se European Polymer Journal en Transactions of the Royal Society of South Africa insluit.

Prof. Leon Dicks se lewenslange navorsing op melksuurbakterieë het tot internasionale erkenning en verskeie toekennings gelei. Sy navorsing van 'n bakteriosien (vervaardig deur Lactobacillus plantarum) het, in kombinasie met 'n stam van Enterococcus mundtii, gelei tot die probiotika entiro™ wat in 2005 deur CiplaMedpro kommersieel vrygestel is.

In 2007 is die E. mundtii antimikrobiese peptied en die probiotiese eienskappe van die stam in 65 lande gepatenteer. Tans bestudeer hy die interaksie van bakteriosiene en antimikrobiese peptiede op eukariotiese selle en die gebruik van nanovesels en nanopartikels as toedieningsmetode vir farmaseutiese middels.

Hy ontvang 'n rektorstoekenning (2000, 2010), die silwermedalje van die SA Vereniging vir Mikrobiologie (2004), die NWTF-BHP Billiton TW Kambule Toekenning (2014) en die die Havenga Prys vir Lewenswetenskappe (2015).

Op die foto's bo, Prof. Leon Dicks (links) en prof. Bert Klumperman (regs). Foto's: Anton Jordaan