Skip to main content
Rekordgetal Maties kry vandeesweek graad

Rekordgetal Maties kry vandeesweek graad

Corporate Marketing/ Korporatiewe Bemarking
14 Maart 2016

Die Maart-gradeplegtighede aan die Universiteit Stellenbosch (US) voltrek die 2015 akademiese jaar, en dit blyk dat twee besonderse rekords opgelewer is: die meeste kwalifikasies ooit toegeken, 7 857, insluitend die meeste doktorsgrade, 266.

Tydens vandeesweek se gradeplegtighede word 139 doktorsgrade toegeken wat as deel van die 2015 akademiese jaar gereken word. Dit bring die totaal doktorsgrade vir die 2015 akademiese jaar op 266 te staan, wat die meeste doktorsgrade nog vir een akademiese jaar aan die US. Van die totaal van 266 doktorsgrade gaan 39% aan bruin, swart en Indiër-kandidate, 59% aan vroue, en 71% aan Suid-Afrikaners.

Altesaam 2 833 US-studente sal van Maandag 14 tot Donderdag 17 Maart 2016 vir hul harde werk beloon word. Saam met die 5 024 kwalifikasies wat in Desember 2015 toegeken is, is dit ook ʼn nuwe rekord vir die US.

Die kwalifikasies sal tydens sewe verskillende seremonies toegeken word. Vyf van die geleenthede vind in die Coetzenburg-sentrum plaas, terwyl doktorsgrade in die Endlersaal in die Konservatorium in Victoriastraat toegeken word.

Tydens die komende week se gradeplegtigheid word een eredoktorsgraad toegeken – aan die bekroonde sielkundige prof Daniel Kahneman. Die graad Doktor in die Wysbegeerte (DPhil) honoris causa word aan hom toegeken ter erkenning van sy "gedagteprikkelende navorsing oor menslike reaksie op onsekerheid, wat bepalend is vir Maties se institusionele reis na transformasie en die kweek van denkleiers vir die toekoms". Die graad word Donderdag in absentia toegeken.

Die US vereer ook tydens gradeplegtighede vooraanstaande akademici verbonde aan die Universiteit. Vanjaar se ontvangers van die Kanselierstoekenning is professore Petri Meyer (Fakulteit Ingenieurswese), Stephanus Muller (Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe), asook Helmut Prodinger en Dave Richardson (beide van die Fakulteit Natuurwetenskappe).

Onder die ontvangers Maandag 14 Maart 2016 is die eerste groep studente in Suid-Afrika om die graad MSc Volhoubare Landbou te verwerf. 

Die verskillende geleenthede is soos volg:

  • Maandag 14 Maart, 10:00, Coetzenburg: Agriwetenskappe, Natuurwetenskappe, Ingenieurswese, Teologie
  • Dinsdag 15 Maart, 10:00, Coetzenburg: Ekonomiese & Bestuurswetenskappe: NGDip Dispuutbeslegting, NGDip Leierskap, NGDip MIV/Vigsbest, NGDip Besigheidsbest en Admin, GDip Toekomsstudie, Ontwikkelingsfinansies, NGDip Omgewingsbest, NGDip Projekbestuur, NGDip Volhoubare Ontwikkeling, HonsBPA, MPhil (Bestuursafr, MIV/Vigsbest, Omgewingsbest, Ontwikkelingsfin, Toekomsstudie, Volhoubare Ontwik), MPA, MBA, BRek, BRekLLB, HonsBRek, Mrek
  • Dinsdag 15 Maart, 17:00, Coetzenburg: Geneeskunde & Gesondheidswetenskappe, Regsgeleerdheid, Opvoedkunde, Krygskunde
  • Woensdag 16 Maart, 10:00, Endlersaal: Doktorale grade in die Natuurwetenskappe, Ingenieurswese, Agriwetenskappe, Ekonomiese & Bestuurswetenskappe
  • Woensdag 16 Maart, 14:00, Endlersaal: Doktorale grade in die Lettere & Sosiale Wetenskappe, Opvoedkunde, Regsgeleerdheid, Teologie, Geneeskunde & Gesondheidswetenskappe
  • Woensdag 16 Maart, 17:00, Coetzenburg: Ekonomiese & Bestuurswetenskappe: NGDip Akt Wet, NGDip Bemarking, NGDip Fin Beplanning, BCom (ingesluit Regsgeleerdheid), HonsBCom, MCom, MPhil (alle studierigtings nie gemeld by Dinsdag 15 Maart nie)
  • Donderdag 17 Maart, 10:00, Coetzenburg: Lettere & Sosiale Wetenskappe en eregraad

Parkering op Stellenbosch

Druk verkeer word op al die hoofroetes na Stellenbosch en in die dorp verwag. Graduandi, ouers en vriende word dus vriendelik aangeraai om liewer vroeg te arriveer om verkeersknope te vermy en parkering te kry. Graduandi met gestremdhede of graduandi wat weens beserings nie by die komende gradeplegtighede oor die verhoog kan beweeg nie, is baie welkom om me Nikki Malan, tel 021 808 3729 of e-pos [email protected] te kontak vir hulp met spesiale reëlings.