
Graduandi leef US se droom om inklusief, innoverend en toekomsgerig te wees
Twee Rekenaarwetenskap-studente wat Maandagoggend (14 Maart) tydens die Universiteit Stellenbosch (US) se eerste Maart 2016 gradeplegtigheid gegradueer het, demonstreer hoe die US sy strategiese doelwitte om inklusief, innoverend en toekomsgerig te wees, verwesenlik.
Willem Venter, 'n gesiggestremde student, het sy meestersgraad in rekenaarwetenskappe ontvang, terwyl Hanno Schreiber as deel van sy finale jaar honneursprojek, die sagteware vir die eerste elektroniese gebaretaalwoordeboek ontwikkel het.
Hulle was onder die 625 studente van die Fakulteite Agriwetenskappe, Natuurwetenskappe, Ingenieurswese en Teologie wat Maandag hul grade tydens die eerste van vyf Maart voorgraadse gradeplegtighede ontvang het. Daar sal ook twee doktorale plegtighede wees.
Benewens op sy studies konsentreer, het Willem in sy tyd op Stellenbosch ook in die US-koor gesing en doelbal vir Maties en op provinsiale vlak gespeel.
Schreiber het saamgespan met die woordeboekkundige, dr Hanelle Fourie Blair, om gestalte te gee aan die eerste teoretiese model van 'n elektroniese gebaretaalwoordeboek vir grondslagfaseleerders wat sy vir haar doktorale tesis in leksikografie in 2014 ontwikkel het.
Die multimedia elektroniese woordeboek funksioneer sonder die beginsel van 'n spesifieke brontaal of doeltaal. Gebruikers kan deur die woordeboek soek d.m.v. 'n prentjie, 'n gebaar of 'n woord – elke soekmetode lei tot presies dieselfde resultaat. Die prentjiesoekmetode beteken dat 'n gebruiker nie in een van die twee tale (gebaretaal of geskrewe taal) geletterd hoef te wees om die woordeboek te begin gebruik nie. Lees meer oor hierdie projek hier.
Prof Wim de Villiers het by navraag Willem en Hanno gelukgewens : "Om meer inklusief te word deur toegang tot die Universiteit te verbreed is een van die US se strategiese doelwitte. Gestremdheid is deel hiervan, en ook van ons ander doelwitte – wat is om meer innoverend te wees deur uitnemendheid, en om meer toekomsgerig te wees deur 'n groter impak op die samelewing te maak. Willem het vir ons gewys dat gestremdheid nie 'n struikelblok vir akademiese uitnemendheid hoef te wees nie, en Hanno demonstreer hoe ons deur navorsing en innovasie die samelewing se behoeftes help aanspreek. Ons is baie trots op hulle."
Ook onder die graduandi was Busi Mahlobo, Sakeus Kafula, Tshepo Morokong and Zander Venter, almal deel van die eerste groep studente in Suid-Afrika om die graad MSc in Volhoubare Landbou te behaal. In Desember 2015, het Tawanda Marandure die voortou geneem deur die eerste student te word om hierdie graad te behaal.
Dié studente het almal in 2014 ingeskryf toe die MSc-program in Volhoubare Landbou van stapel gestuur is. Dit is ʼn inisiatief tussen die Fakulteit Agriwetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch, Wageningen Universiteit Navorsing in Nederland, en Conservation South Africa. Lees meer oor die program hier.
Prof Dave Richardson van die Fakulteit Natuurwetenskappe en prof Petri Meyer van die Fakulteit Ingenieurswese het elkeen 'n Kanselierstoekenning ontvang.
- Foto: Hanno Schreiber (links) en Willem Venter. Fotograaf: Stefan Els