Globale kundiges, gelei deur die US, skets dringende reaksie op Ebola-krisis
- 'n Span onder leiding van die Universiteit Stellenbosch het met kundiges saamgewerk om die voortdurende Ebola-uitbraak in die DRK en Uganda te ontleed en hul bevindinge in The Lancet (Junie 2026) te publiseer.
- Die verslag beklemtoon nie net die druk op die gesondheidsorgstelsel nie, maar ook die sosiale, ekonomiese en politieke faktore wat die reaksie op die uitbreking bemoeilik.
- Dit bied geteikende aanbevelings om openbare gesondheidsmaatreëls te versterk en owerhede te ondersteun in die bestuur van die epidemie.
In reaksie op die voortdurende Ebola-uitbreking in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) en Uganda, het wetenskaplikes van die Universiteit Stellenbosch (US) saamgewerk met kundiges uit die betrokke streek om sleuteluitdagings en prioriteite uiteen te sit vir die ondersteuning van owerhede in die bestuur van die krisis. Hul tydige verslag is in Junie 2026 as 'n kommentaar in The Lancet gepubliseer.
Professor Jean Nachega, Direkteur van die US se Biomediese Navorsingsinstituut, was die hoofskrywer van die verslag, wat die komplekse uitdagings beklemtoon waarmee nie net die gesondheidsorgstelsel te kampe het nie, maar ook die breër sosiale, ekonomiese en politieke toestande wat die reaksie op die uitbreking en sorglewering bemoeilik.
Die navorsingspan, wat 'n mede-ontdekker van die Ebola-virus, prof Jean-Jacques Muyembe-Tamfum van die Institut National pour la Recerche Biomedicale in die DRK, ingesluit het, het ook 'n stel aanbevelings aangebied om die openbare gesondheidsreaksie op die epidemie in die streek te versterk.
Lees die volledige verslag hier: https://www.thelancet.com/journals/lancet/article/PIIS0140-6736(26)01141-4/fulltext