Verlede week het vennote van die regering, universiteite en die openbare en private sektore op die Theewaterskloof-subdistrik toegesak om gesondheids-, welstands- en noodsaaklike dienste aan landelike gemeenskappe te lewer. Die driedaagse InReach, wat van 25 tot 27 September gehou is, het gesondheidsorgpersoneel, akademici en nie-regeringsorganisasies bymekaargebring om noodsaaklike gesondheidsdienste, onderwys en infrastruktuurondersteuning regoor Caledon, Grabouw en Knoflokskraal te bied. Die inisiatief, gelei deur die Universiteit Stellenbosch (US) in vennootskap met die Wes-Kaapse Regering: Gesondheid en Welstand, het gesondheidswetenskappe- en ingenieurstudente van die US, tandheelkundige gesondheidskundiges en studente van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), en studente van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) ingesluit.