Skip to main content
Dr Janca Pieters

Microbiologists from Stellenbosch University have discovered a previously unknown bacterial genus within the phylum Acidobacteriota - Dedyshia acidiphilia.

Image by: Ubaid Abrahams, Brian van Wilgen, and Janica Theron
Persverklaring Natuur- en wiskundige wetenskappe

Suid-Afrikaanse fynbos-grond lewer nuwe spesies grond bakterie

Wiida Fourie-Basson
Media officer, Faculty of Science
09 Julie 2026
  • Nuwe spesies is geïsoleer uit grondmonsters wat in die Kogelberg Natuurreservaat versamel is. Dié reservaat is ‘n bekende biodiversititsbrandpunt in die Kaapse Floristiese Streek.
  • Dit is die eerste genus van die stam Acidobacteriota wat vanuit Suider-Afrika beskryf word.
  • Die ontdekking verteenwoordig ‘n beduidende vooruitgang in ons kennis van skaars spesies wat tot belangrike voedingstofsiklusse in grond bydra.

Mikrobioloë van die Universiteit Stellenbosch het ‘n nuwe spesies grond bakterie ontdek wat in die Kogelberg Natuurreservaat voorkom.  

Dié nuwe spesies, genaamd Dedyshia acidiphilia, verteenwoordig boonop ‘n voorheen onbekende bakteriële genus in die stam Acidobacteriota. Dit is ook die eerste genus in dié stam wat vanuit Suider-Afrika beskryf word.

Terwyl bakterie in die Acidobacteriota stam wêreldwyd algemeen in grond voorkom, is slegs ‘n klein fraksie daarvan tot dusver suksesvol formeel beskryf. 

Die nuwe spesies, Dedyshia acidiphilia, is geïsoleer uit grond wat in die Kogelberg Natuurreservaat in die Wes-Kaap versamel is, en is vandeesweek amptelik in die International Journal of Systematic and Evolutionary Microbiology aangekondig. 

Dr Janca Pieters, ‘n nadoktorale genoot in die US se Departement Mikrobiologie en eerste outeur van die artikel, sê hulle het verskeie grondmonsters vanaf verskillende liggings regoor die reservaat versamel ten einde die natuurlike diversiteit van die grond mikrobioom vas te vang.

“Dit is opwindend om te weet dat elke grond monster duisende bakteriële spesies bevat waarvan die meeste nog nooit gekultiveer of beskryf is nie. Deur gebruik te maak van spesialis kultiveringstegnieke, kan ons dit soms regkry om organismes te kweek wat tot dusver verskuil gebly het, soos nou met Dedyshia acidiphilia,” verduidelik sy.

Acidobacteriota groei baie stadig en vereis grond wat arm is aan voedingstowwe, soortgelyk aan die grond waarin hulle natuurlik voorkom. Dit is moeilik om hierdié en ander omstandighede, soos interaksies met mikro-organismes, in die laboratorium na te boots.

“Dit verg geduld en verskeie pogings om die optimale groei medium te vind. Sommige Acidobacteriota neem weke, eerder as dae, om waarneembare kolonies te produseer.”

In die geval van D. acidiphilia, het dit amper ‘n maand geduur!

Prof. Karin Jacobs, ‘n spesialis in mikrobiese ekologie en hoofouteur, sê die ontdekking is werklik noemenswaardig: “Dit verteenwoordig ‘n beduidende vooruitgang in ons kennis van skaars spesies in grond wat tot belangrike voedingstofsiklusse bydra.” 

Vir Pieters is hul ontdekking ‘n aanduiding dat Suid-Afrikaanse grond, en veral biodiversiteitsbrandpunte soos die Kaapse Floristiese Streek, steeds ‘n enorme hoeveelheid onontdekte mikrobiese diversiteit bevat.

“Daar is nog heelwat voorheen onbekende bakterieë wat wag om met verbeterde kultiveringsmetodes ontdek te work. Elke nuwe gekultiveerde stam help ons as wetenskaplikes om beter te verstaan hoe hierdie organismes tot grondgesondheid, voedingstofsiklusse en die funksionering van ekosisteme bydra,” voeg sy by.

Wat gebeur volgende?

Nou dat die bakterie formeel beskryf en benoem is, is die volgende stap om die bakterie se ekologiese rol in die grond te ondersoek: “Ons wil weet watter voedingstowwe dit gebruik, wat hul interaksie met ander mikro-organismes is, en watter bydra dit maak tot die sirkulasie van voedingstowwe in die fynbos ekosisteem,” verduidelik Pieters.

Die bakterie se genoom verskaf ook leidrade oor hoe dit nuwe ensieme of metaboliese prosesse produseer. Hierdie kennis kan in die toekoms lei tot toepassings in biotegnologie, landbou of omgewingswetenskappe.

Volgens Pieters gaan hulle ook voort met die soeke na nog Acidobacteriota spesies uit Suid-Afrikaanse grond: “Elke nuwe gekultiveerde stam help ons om gapings te vul in ons verstaan van hierdie belangrike bakteriële groep,” sluit sy af.

Die nuwe genus, Dedyshia, is vernoem na die Russiese mikrobioloog, Dr Svetlana Dedysh van die Winogradsky Instituut vir Mikrobiologie, ter erkenning van haar noemenswaardige bydraes tot die ontdekking en beskrywing van nuwe Acidobacteriota spesies. Die spesies se naam, acidiphilia, beteken suurliewend (afkomstig van die Latyn acidum vir suur, en die Griekse woord philos vir lief vir).

Merkers

Mikrobiologie

Verwante stories