Skip to main content

 

 

Tygerberg Doktorale Kantoor

forward together sonke siya phambili saam vorentoe

Hartlik welkom vanaf Kaapstad!

Baie dankie vir jou belangstelling daarin om vir 'n PhD-program in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan Stellenbosch Universiteit aansoek te doen. Ons kampus is in die skilderagtige Tygerberg-omgewing van Kaapstad, Suid-Afrika, geleë, en huisves 'n baanbreker nuwe Biomediese Navorsingsinstituut (BMNI). Die fakulteit tel onder die top 175 mediese en gesondheid onderriginstansies ter wêreld (Times Higher Education rankings 2024) – 'n versterking van ons top 200 posisie in 2022). Kandidate vanoor Suid-Afrika en die wêreld ding mee vir die beperkte aantal plekke in ons PhD-programme. Inligting oor die basiese vereistes vir toelating tot een van ons bykans vyftig doktorale programme word vervat in die Fakulteit se Jaarboek. 

Aansoeke word bykans heeljaar aanlyn aanvaar. Dít beteken nie dat alle geleenthede om aansoek te doen gelyk is nie. Doen, ideaal gesproke, asseblief in Julie, Augustus of September aansoek vir registrasie in die volgende akademiese jaar wat in Januarie begin. Dit is omdat die meeste akademiese omgewings wel aansoeke in siklusse oorweeg. In die geval van internasionale studente is vroeëre aansoeke raadsaam, vanweë die tyd wat benodig word om die vergelykbaarheid van internasionale kwalifikasies formeel te evalueer.

Skypixels.jpg

Foto: Riaan Huysamen @SuperDroneGuy #SkyPixels.co.za

'n Promotor sal eers formeel toegeken word nadat 'n student se studie deur die Senaat aanvaar is. Nogtans word daar van voornemende studente verwag om vooraf 'n moontlike promotor te kontak om 'n gesprek oor oorvleuelende navorsingsbelangstellings aan te roer; en iemand te identifiseer wat in beginsel bereid is om studieleiding aan te bied. Blaai gerus deur die senior personeel van die spesifieke akademiese omgewing waarin die betrokke program val, of deur die US Navorserprofiele, om iemand te identifiseer wat in die toepaslike navorsingsveld werk. Moet egter nie nalaat om 'n aanlyn aansoek op SunStudent (in jou Chrome-blaaier) in te dien nie, aangesien die afskeep van hierdie stap op 'n latere stadium vertragings mag veroorsaak.

Jou aansoek-kontrolelys

Berei asb. die volgende voor om met ‘n aansoek te kan voortgaan:

  1. 'n Konsep Navorsingstelling van 2 tot 3 bladsye, wat aansluit by US & FGGW navorsingsprioriteite
  2. Gesertifiseerde kopiëe van die graadsertifikate en volle akademiese rekords (vir alle vorige kwalifikasies)
  3. Onlangse CV van die aansoeker met 1-bladsy motivering ingesluit as dekbrief
  4. In die meeste gevalle, bevestiging van 'n interne promotor se gewilligheid om die studieleiding aan te bied
  5. Genoegsame fondse vir die aansoek en studentegelde
  6. Indien van toepassing, bevestiging van 'n beurs of toekenning
  7. Lees die agtergrondinligting by www.maties.com
     

Doen dan aanlyn aansoek op die SUNStudent platvorm by http://student.sun.ac.za​. Gebruik jou Chrome-blaaier.

Na afloop van die stappe hierbo, en ‘n aanvanklike verifikasieproses, word aansoeke van internasionale studente aan die Nagraadse Kantoor gestuur vir die sertifisering van kwalifikasies, terwyl aansoeke van Suid-Afrikaanse studente aan die akademiese departement gestuur word vir formele keuring. Eers nadat jou akademiese departement jou formeel gekeur het, sal jy 'n skriftelike aanbod van plasing in 'n akademiese program van die Universiteit Stellenbosch (registrateursafdeling) ontvang.  

Omskakelings 

In uitsonderlike gevalle kan 'n promotor 'n navorsingsmeestersgraadstudent wie se tesis reeds die omvang van meestersvlakwerk oorskry, met die ondersteuning van die akademiese omgewing en departementshoof aanbeveel vir 'n omskakeling. Die formele vereistes vir sulke omskakelings word by hierdie skakel​ in die Jaarboek gedek. 

'n Student word nie toegelaat om onafhanklik vir hierdie opsie aansoek te doen nie. 

Die departement sal die Vorm A4 Aansoek vir Omskakeling​ moet voltooi en die FGGW-aansoekproses wat in hierdie dokument beskryf ​word (insluitend 'n eksterne paneellid in die hersiening) moet volg. 

Die volledige stel dokumente moet die Tygerberg Doktorale Kantoor ([email protected]) ideaalgesproke voor die laaste KNN-agendasluitingsdatum van die vorige akademiese jaar, bereik.

Reik asseblief ook uit na die Doktorale Kantoor by [email protected]. Hierdie kantoor moet op hoogte gehou word van alle verwikkelinge, deur die loop van die volledige doktorale loopbaan. Voorspoed met jou aansoek.
 

Wat om volgende te verwag

Jou mylpale

Daar word van alle studente wat tot die PhD-program toetree, verwag om binne 6 tot 9 maande 'n navorsingsvoorstel aan die betrokke oorsigproses voor te lê; om binne 'n verdere 3 maande die etiek aansoekproses af te handel; en wanneer goedkeuring eers ontvang is, om die volle PhD-verhandeling dan binne 'n verdere twee tot drie jaar te voltooi. Die program is vervullend, maar veeleisend, en jy sal baatvind by doelbewuste projekbestuur. 

Studieleier-verhouding

Jou promotor/s sal ’n sleutelrol in jou sukses speel. Vestig dadelik ’n positiewe verhouding en vra gereeld terugvoer oor jou geskrewe werk. Hierdie werk is grootliks jou eie, onafhanklike verantwoordelikheid. Die verwagte kontaktyd word egter deur die promotor bepaal. Die mees dringende mylpaal ná keuring is die ontwikkeling van 'n navorsingsvoorstel, binne 6 maande, onder leiding van die promotor, om aan ’n oorsigpaneel te lewer.

Navrae

Volg gerus op by [email protected] oor enige verdere inligting wat dalk kan help. Indien jy moontlike befondsingsgeleenthede wil ondersoek, besoek asseblief ons Nagraadse Befondsingsblad, of die webblad van die afdeling vir Navorsingsontwikkeling en -Steun​.

Klik asseblief op die videoskakel hieronder om 'n inleiding tot ons kampus en fakulteit te kyk, met insette van ons merkwaardige dekaan - Prof Elmi Muller, wat 'n A-gegradeerde navorser is, asook 'n globaal erkende kenner op die gebied van nier- en leweroorplanting, nadat sy 'n leidende rol daarin gespeel het om orgaanoorplantings moontlik te maak vir mense wat met MIV leef. 

Watch Medicine and Health Sciences Faculty: Maties101 on YouTube.