Skip to main content
Photo by Stefan Els

Eredoktorsgrade

Die Universiteit Stellenbosch ken jaarliks eredoktorsgrade toe aan buitengewone individue wat hulself in hul onderskeie velde onderskei het en ‘n betekenisvolle bydrae tot die samelewing gelewer het. Hierdie kandidate is deur ‘n intensiewe proses as die ontvangers vir die 2025 akademiese jaar aangewys, met elke benoeming wat deur beide die Senaat en die Universiteitsraad bekragtig is. 

Eredoktorsgrade is by die Desember 2025-gradeweek aan die volgende kandidate toegeken: Colin Deiner, Wes-Kaapse provinsiale regering se Hoofdirekteur: Rampbestuur en Brand- en Reddingsdienste, Chris Otto, US-alumnus en entrepreneur, en prof Salim Safurdeen Abdool Karim, gerekende epidimioloog. Meer besonderhede volg onder. 

Gedurende die komende Maart-gradeweek 2026 - wat deel vorm van die 2025 akademiese jaar - sal eredoktorsgrade aan die volgende individue toegeken word: 

Prof Abdulrazak Gurnah 

Gurnah is ’n internasionaal-bekroonde skrywer en letterkundige wat in 2021 die Nobelprys vir Letterkunde ontvang het. Hy sal die graad Doktor in Letterkunde (DLitt), honoris causa, ontvang. Gurnah het ’n lang verhouding met die Universiteit Stellenbosch. Hy is ’n Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS)-genoot en was in 2018 in residensie by STIAS toe hy aan sy roman Afterlives gewerk het. 

Dr Olive Shisana

Shisana, ’n baanbreker- Suid-Afrikaanse sosiale wetenskaplike en epidemioloog, sal die graad Doktor in die Natuurwetenskappe (DSc) (Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe), honoris causa, ontvang. Sy het gedurende president Nelson Mandela se administrasie as Direkteur-Generaal in die Departement van Gesondheid gedien, waar sy ’n sentrale rol in die heropbou van openbare gesondheid ná apartheid gespeel het.

Dr Tjaart Johannes van der Walt

Van der Walt sal die graad Doktor in Ingenieurswese (DIng), honoris causa, ontvang. Hy word beskou as ’n pionier van digitale bankwese op die Afrika-kontinent en ’n denkleier in die etiese toepassing van tegnologie tot maatskaplike voordeel.  Suid-Afrika se heel eerste ten volle digitale handelsbank, TymeBank, is in 2019 onder sy medeleierskap in Suid-Afrika met behulp van ’n innoverende verspreidingsmodel bekendgestel wat bankdienste aan miljoene Suid-Afrikaners gebring het wat voorheen nie bankdienste gebruik het nie.

Die kandidate hieronder het in Desember 2025 eredoktorsgrade ontvang: 

Colin Deiner:

Deiner, die Wes-Kaapse provinsiale regering se Hoofdirekteur: Rampbestuur en Brand- en Reddingsdienste, word internasionaal erken vir sy uitgebreide kundigheid in rampbestuur en -reaksie. Hy sal die graad Doktor in Ingenieurswese (DEng), honoris causa, ontvang. Deiner het Suid-Afrikaanse soek- en reddingspanne na rampgeteisterde gebiede oor die land heen en in die buiteland gelei. Hy het ook die droogterampveldtog (Dag Zero) in die Wes-Kaap en die nie-mediese komponent van die Covid-19 provinsiale reaksie gekoördineer.

Chris Otto

Otto, ’n alumnus van die US, sal die graad Doktor in die Regte (LLD), honoris causa ontvang. Hy was ‘n medestigter van die PSG Groep en Capitec Bank. Otto is ook die stigtersvoorsitter van die Stellenbosch Regsfakulteit Trust wat betrokke was by die vestiging van die Leerstoel in Sosiale Geregtigheid, die Gys Steyn-leerstoel in Finansiële Reguleringsreg, en die Leerstoel in Stedelike Reg en Volhoubaarheidsbestuur.

Prof Salim Safurdeen Abdool Karim

Abdool Karim, ‘n gerekende epidimioloog, sal die graad, Doktor in die Wetenskappe (DSc) (Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe), honoris causa, ontvang. Tydens die Covid-19-pandemie het hy ‘n leidende rol gespeel in die Covid-19-reaksie en wetenskaplike kundigheid verskaf oor genetiese mutasies in SARS-CoV-2 wat tot nuwe variante lei. Abdool Karim is tans die direkteur van die Sentrum vir die Vigs-navorsingsprogram in Suid-Afrika (CAPRISA) en CAPRISA-professor van globale gesondheid by Colombië-Universiteit, New York. Hy is ook die Viserektor: Navorsing by die Universiteit van KwaZulu-Natal.