
Wêreldwaterdag: Grondwater is SA se belangrikste verborge hulpbron
Wêreldwaterdag word op Dinsdag 22 Maart gevier en Nasionale Waterweek vanaf 21-27 Maart. In ʼn meningsartikel vir Cape Times, skryf Ritshidze Nenweli en drr Andrew Watson en Reynold Chow (Departement Aardwetenskap) oor hoekom die volhoubare bestuur van Suid-Afrika se grondwaterbronne uiters belangrik is vir die land se toekoms.
- Lees die gedeeltelik vertaalde weergawe van die artikel hier onder.
Ritshidze Nenweli & Reynold Chow*
Suid-Afrika is 'n semi-droë streek wat gekenmerk word deur hoë verdampings- en lae neerslagkoerse. Dele van die land ondervind dikwels laer as gemiddelde reënval. Wanneer hierdie tye van lae reënval lank duur, ontstaan daar droogtes. Gedurende hierdie droogtetydperke is die eerste waterbronne wat sigbaar opdroog, oppervlak-waterreservoirs soos die Theewaterskloof- en Wemmershoekdam.
Ons onthou sekerlik almal nog die onlangse droogte in die Wes-Kaap. Vroeg in 2017 het die gesamentlike damvlakke van die Wes-Kaapse Waterverskaffingstelsel (WKWVS) tot sowat 20% van die volle kapasiteit daarvan gedaal. Later daardie jaar het die Stad Kaapstad met die term “Dag Zero" na vore gekom waarvolgens die WKWVS se gesamentlike damvlakke teen April 2018 onder 13,5% sou daal en die watertoevoer na die meeste private krane afgesny sou word.
Gelukkig het ons nooit “Dag Zero" bereik nie danksy waterbeperkings en die ontginning van grondwater. Dit wys ons dat grondwater 'n belangrike rol as 'n alternatiewe waterbron kan speel, veral gedurende droogtetye. Maar wat presies is grondwater en hoe monitor ons dit? Dit is belangrike vrae, veral gegewe dat die tema van vanjaar se Wêreldwaterdag (22 Maart) “Grondwater: om die onsienbare sigbaar te maak" is.
Grondwater is water wat onder die aarde se oppervlak in skeure en oop ruimtes tussen rotse, sand en grond gevind word. Dit word opgegaar en beweeg deur geologiese formasies wat as 'n waterdraer of akwifeer bekend staan. Grondwater maak 95% van die Aarde se toeganklike vloeibare varswater uit en die beskikbaarheid daarvan word meestal deur geologie en klimaat beheer. Navorsing het getoon dat die meeste akwifere in Suid-Afrika uit gebreekte kristalagtige en sedimentêre klip bestaan.
Die onttrekking van grondwater wat nie gemonitor en gereguleer word nie – veral in klimaatsverandering – hou 'n aansienlike risiko vir Suid-Afrika se watersekerheid in. Grondwater is 'n uiters belangrike verborge bron van water gedurende droogtes en is 'n alledaagse waterbron in landelike gemeenskappe. Wanneer ons Wêreldwaterdag en ons eie Nasionale Waterweek (21-27 Maart) vier, moet ons ons daaraan herinner dat die volhoubare bestuur van ons grondwaterbronne uiters belangrik is vir die land se toekoms.
- Klik hier om die res van die geplaasde artikel te lees.
*Ritshidze Nenweli is 'n meesterstudent en dr Reynold Chow is 'n dosent in hidrogeologie in die Departement Aardwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch (US). Dr Andrew Watson is verbonde aan die US Waterinstituut.