
Blinde Paralimpiese swemmer maak opslae met historiese LLD-graad
Die blinde Suid-Afrikaanse Paralimpiese swemmer en medaljewenner, Hendri Herbst, is die perfekte verpersoonliking van die gesegde “waar is daar 'n wil, daar is 'n weg". Hy het nie net in sport uitgeblink nie; hy het ook die toppunt van akademiese sukses bereik toe hy Vrydag (15 Desember 2023) sy doktorsgraad (LLD) in Handelsreg by die Universiteit Stellenbosch (US) se Desember-gradeplegtigheid verwerf het.
Herbst, wat van Letsitele naby Tzaneen in Limpopo afkomstig is, is die eerste blinde student in die US se Fakulteit Regsgeleerdheid om 'n LLD te ontvang. Hy is ook die eerste student in die US se Fakulteit Regsgeleerdheid wat 'n gesamentlike doktorsgraad van die Fakulteit en Hasselt Universiteit in België ontvang het. Sy studieleiers was dr Izelle du Plessis van die US en prof dr Niels Appermont van Hasselt Universiteit.
Herbst sê hy is trots op sy jongste prestasie, maar ook verlig dat hy die wenstreep gehaal het. “'n PhD is 'n lang pad en tot 'n groot mate 'n uiters eensame reis."
“Ek moes 'n paar struikelblokke oorkom, veral gedurende die Covid-19-pandemie toe dit moeilik was om toegang tot literatuur en voorgeskrewe bronne te kry. Soms moes ek deur tot 20 boeke werk net om een paragraaf te skryf. Ek moes na elke boek luister om te besluit of ek dit kan gebruik of nie."
Herbst het vir toegang tot bronne 'n teks-na-spraak rekenaarskermleserprogram gebruik, asook sagteware wat beeld-PDF's na leesbare teks omskakel. Hy kon sy werk met sy toesighouers deur middel van aanlyn vergaderings, e-posse en WhatsApp-boodskappe bespreek. Hulle het ook stemboodskappe gebruik om vir hom terugvoer te gee.
Op 'n vraag oor hoe 'n doktorsgraad met sy sportprestasies vergelyk, sê Herbst: “My sportloopbaan het met die verloop van tyd baie meer positiewe mylpale opgelewer, maar dit was 'n leeftyd van toewyding. 'n PhD is 'n lang kronkelpad tot aan die einde wanneer die druk verlig word.
“Albei het absolute opoffering geverg, maar op uiteenlopende maniere. Ek is met my swem meer op kort termyn beloon. Ek moes vier jaar wag om met 'n PhD sukses te behaal! Ek sou sê die voltooiing van my LLD was gelykstaande aan die Olimpiese Spele!"
Herbst het vir sy doktorsgraad Suid-Afrika se inkomstebelastingstelsel vir trusts geëvalueer deur die Suid-Afrikaanse stand met dié van die Verenigde Koninkryk en België te vergelyk met die doel om dit meer beleggersvriendelik te maak. Hy sê hy het hierdie onderwerp gekies omdat dit 'n kombinasie van twee soorte reg is wat hy besonder interessant vind, naamlik die wet van trusts en belastingreg.
“Suid-Afrika staar tans 'n menigte ekonomiese, politieke en maatskaplike uitdagings in die gesig. Deur die gepaste belastingbeleide te aanvaar, kan die belastingstelsel aangewend word om die land se potensiaal deur belegging te ontsluit en sodoende sy uitdagings te help oplos."
Deursettingsvermoë
Wanneer dinge moeilik geraak het, kon hy uit sy ervarings as 'n swemmer van wêreldgehalte put, sê Herbst.
“Daar was beslis 'n paar lesse uit my dae as swemmer wat ek gedurende my doktorale studie kon toepas. Ek het geleer dat deursettingsvermoë, toewyding en opoffering – net soos in sport – ook in die akademie resultate lewer."
Herbst se deursettingsvermoë het ook sy US-studieleier, Izelle du Plessis, beïndruk.
“Ek en ons hele fakulteit is baie trots op Hendri se uitsonderlike prestasie. Hy het soveel deursettingsvermoë getoon om dié graad te behaal, nie net omdat hy blind is nie, maar ook omdat hy deur die moeilike Covid-19-tydperk aan sy LLD moes werk.
“"Hendri is 'n merkwaardige en baie intelligente mens wat oor die vermoë beskik om groot hoeveelhede inligting te verwerk en te onthou. Hy is 'n baie knap prokureur wat probleme deeglik kan identifiseer en navors en met oplossings vorendag kan kom."
Herbst se medestudieleier, Niels Appermont, is dit eens en sê: “Hendri was 'n merkwaardige doktorale student wat nie net baie intelligent en veerkragtig is nie, maar ook 'n uitstekende regskundige is. Hy het sy proefskrif onder moeilike omstandighede geskryf, maar kon dit oorkom en sy proefskrif op 'n briljante manier verdedig.
“As een van sy toesighouers het ek nooit die gevoel gehad dat ek of Izelle gevra is om 'die pen vas te hou' nie. Hendri is 'n baie onafhanklike navorser vir wie ons hoofsaaklik as klankbord opgetree het. Op 'n sekere manier was Hendri sy eie toesighouer."
Herbst sê hy is baie dankbaar vir sy vrou, Brigitte, tweejarige dogtertjie, Alexis, sy ouers en studieleiers vir hulle ondersteuning. Sy gidshond Julian, wat ongelukkig dood is, verdien ook spesiale vermelding. Julian het saam met hom na België gereis en hom na sy doktorale mondelinge eksamen vergesel.
As 'n siggestremde persoon wat baie uitdagings op sy pad na sport- en akademiese sukses oorkom het, glo Herbst vas dat 'n gestremdheid jou nie moet verhoed om jou doelwitte te bereik nie.
“Jou gestremdheid moenie 'n verskoning wees om nie uitnemendheid te bereik nie. Hoewel dit meer opoffering en baie harder werk verg as van jou eweknieë sonder gestremdhede, kan dit gedoen word."
Noudat hy sy LLD op sy kerfstok het, het die tyd aangebreek om die kennis wat hy gedurende sy akademiese loopbaan opgedoen het, toe te pas, sê Herbst. Hy gaan dit doen as belastingbestuurder by WTS Renmere in Stellenbosch, 'n maatskappy wat in transaksiestrukturering en belastingadvies spesialiseer. Nadat hy onlangs by die maatskappy aangesluit het, sien Herbst uit na die nuwe uitdagings en geleenthede wat oor sy pad gaan kom.
Benewens sy LLD-graad, Paralimpiese en wêreldkampioenskapmedaljes, het Herbst ook die Rektorstoekenning vir Uitnemende Sportprestasie ontvang.
'n Paar jaar gelede het hy ook met die ondersteuning van die US Regskliniek 'n diskriminasiesaak teen 'n Kaapse wynkelder in die Gelykheidshof gewen.
- Foto: Dr Hendri Herbst voor die Ou Hoofgebou wat die Fakulteit Regsgeleerdheid huisves. Fotograaf: Stefan Els