Skip to main content
Prof Cletos Mapiye from the Department of Animal Sciences photographed at his inaugural lecture on the Stellenbosch campus.
Image by: Ignus Dreyer
Institusionele nuus

Van plaas tot tafel: Prof Mapiye herbedink vleis deur alternatiewe diëte

Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
05 Mei 2026
  • Prof Cletos Mapiye van die Departement Veekundige Wetenskappe het sy intreerede op 30 April 2026 gelewer.
  • Sy navorsing kyk na hoe volhoubare, nie-konvensionele voere vir beeste, skape en bokke die gehalte van vleis wat ons eet, beïnvloed.
  • Sy werk dra by tot gesonder en meer volhoubare en billike voedselstelsels.

Prof Cletos Mapiye van die Departement Veekundige Wetenskappe in die Fakulteit AgriWetenskappe het sy intreerede op Donderdag 30 April 2026 gelewer. Die titel van sy lesing was Klimaatslim fitogene diëte vir beter herkouervleisgehalte.

Prof Mapiye het met die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking gesels oor hoe volhoubare, onkonvensionele voere vir beeste, skape en bokke (herkouers) kan help om die voedingsgehalte, veiligheid, smaak en geur, rakleeftyd, en bekostigbaarheid van vleis te verbeter.

Vertel ons meer oor jou navorsing en waarom jy in hierdie spesifieke veld belanggestel het.

My navorsing kyk na hoe volhoubare, nie-konvensionele voere vir beeste, skape en bokke die gehalte van vleis wat ons eet, beïnvloed. Dit ondersoek spesifiek of hierdie alternatiewe voere vleisopbrengs, voedingswaarde, gesondheid (voedingsgehalte), smaaklikheid (smaak en geur) en rakleeftyd kan verbeter, terwyl dit die afhanklikheid van duur konvensionele voerstowwe wat finansiële druk op boere plaas en die omgewing benadeel, verminder. My praktiese grootword as plaasseun op ’n kleinskaalse gewas- en veeplaas het ’n blywende passie vir vee aangewakker, en 'n belangstelling in hoe diere se dieet die gehalte van vleis vorm, en die volhoubaarheid en veerkragtigheid van voedselstelsels.

Hoe sou jy die relevansie van jou werk beskryf?

Deur die gesondheid, veiligheid, smaaklikheid, rakleeftyd en bekostigbaarheid van vleis te verbeter, het my navorsing praktiese voordele ver buite die plaas. Dit kan gesinne help om toegang tot beter diëte te verkry, voedselverlies regdeur voorsieningskettings te verminder en opbrengste vir veeprodusente te verbeter. Op hulle beurt dra hierdie uitkomste by tot gesonder en meer volhoubare en billike voedselstelsels. Hulle versterk ook voedselsekerheid en bou veerkragtigheid in boerderygemeenskappe, veral in streke waar stygende voerkoste en hulpbrondruk die lewensbestaan en voeding van baie kwesbare huishoudings bedreig.

Kan jy voorbeelde gee van hoe jou navorsing in werklike kontekste toegepas word?

My navorsing bevorder klimaatslim voeding deur te toon hoe lae-gehalte fitogeniese (natuurlike, plantgebaseerde bestanddele wat by veevoer gevoeg word) voerstowwe ingesluit kan word by kommersieel-gevalideerde diëte vir herkouers, wat vleisgehalte verbeter terwyl dit die impak op die klimaat verminder. Hierdie werk het verby eksperimentering na die praktyk beweeg: produsente en voermaatskappye gebruik nou gevalideerde fitogeniese voerstowwe, insluitend die loof van indringerbome en vrugtebyprodukte, in kommersiële dieetformulerings om die gehalte van vleis volhoubaar te verbeter.

Hoe kan onkonvensionele, klimaatslim fitogeniese herkouervoerhulpbronne vleisproduksie en -gehalte verbeter?

Nie-konvensionele, klimaatslim fitogeniese voerhulpbronne is natuurlik toegerus met bioaktiewe fitochemikalieë (natuurlike verbindings wat deur plante geproduseer word), insluitend poli-onversadigde vetsure, polifenole, essensiële olies en saponiene, wat antimikrobiese (wat die groei van bakterieë, virusse, swamme, ens. doodmaak of voorkom) en antioksidant-eienskappe het. Ná absorpsie word hierdie verbindings binne die spierweefsel afgeset om die vetsuursamestelling, smaaklikheid, oksidatiewe stabiliteit (hoe goed vleis vars bly wanneer dit aan suurstof blootgestel word) en mikrobiese veiligheid van vleis (vleis bevat nie skadelike kieme nie) te verbeter.

Jy beplan om ’n verbruikersgerigte, klimaatslim Vleissentrum tot stand te bring. Waarom is so ’n sentrum belangrik?

Die voorgestelde Sentrum sal dien as ’n strategiese platform vir die herposisionering van herkouervleis as ’n “toekomsgeskikte” voedsel deur die ontwikkelende voorkeure van verbruikers in lyn te bring met bedryfsprioriteite en volhoubaarheidsvereistes. Die Sentrum sal inheemse kennis, moderne wetenskap en sirkulêre innovasie (ontwerp van produkte wat herwin, herstel en hergebruik kan word) integreer om saam volhoubare fitogeniese diëte te skep wat die gehalte van vleis verbeter en voedsel- en voedingsekerheid versterk. Deur inklusiewe waardekettingvennootskappe, deursigtige naspeurbaarheid, en geloofwaardige gesondheids- en volhoubaarheidhandelsmerke, sal die Sentrum kwesbare gemeenskappe ondersteun, openbare vertroue herbou en bydra tot ’n gesonder, regverdiger en veerkragtige wêreldwye voedselstelsel.

Hoër onderwys kan uitdagend wees. Wat hou jou gemotiveer wanneer dinge moeilik raak?

Die akademiese lewe is veeleisend en dikwels intens stresvol. Te midde van toenemende druk word ek onderskraag deur ’n passie vir ontdekking, die voorreg om jong mense se denke te vorm, en navorsing wat ’n werklike verskil in die wêreld maak. Professionele eerbewyse wat my swaarverdiende kundigheid en maatskaplike bydrae bevestig, gee aan my werk ’n dieper sin van doelgerigtheid.

Watter aspekte van jou werk geniet jy die meeste?

Ek geniet dit om wetenskaplike manuskripte te skryf en te redigeer – prosesse wat idees verskerp, nougesetheid versterk en komplekse wetenskap omvorm tot duidelike, boeiende en betroubare narratiewe met werklike impak vir breë, diverse gehore oor die wêreld heen.

Vertel ons iets opwindends van jouself wat mense nie sou verwag nie.

Ek lei liefdadigheids­inisiatiewe wat noodsaaklike hulpbronne vir behoeftiges mobiliseer en versprei, maatskaplike gelykheid bevorder en gespesialiseerde kennis in openbare waarde omskakel. Hierdie werk onderhou ’n sterk sin van morele doelgerigtheid in my en bied diepgaande intellektuele, etiese en geestelike vervulling.

Hoe bestee jy jou vrye tyd?

Gedurende die week ontspan ek deur op sosiale media rond te kuier en na realiteitsreekse en gesinspeletjieprogramme te kyk. Naweke is daar meer aksie, wanneer ek tyd in die tuin deurbring, pyltjies gooi, of saam met familie en vriende oornag gaan kampeer.

 

Verwante stories