Die omgeboude elektriese 1978 Volkswagen Kewer wat liefdevol Pata-pata gedoop is, asook 'n omgeboude Suzuki Carry, première van Recharging Hope.
US-dokumentêr wys hoe 'n 'gek idee' 'n elektriese fiets deur Afrika aangedryf het
- Recharging Hope bied 'n eerlike, agter-die-skerms blik op die veerkragtigheid, innovasie en probleemoplossing wat nodig was om hierdie gewaagde konsep 'n werklikheid te maak.
- Gaste wat die vertoning van die eerste episode van die reeks van sewe episodes bygewoon het, kon eerstehands sien hoe elektriese vervoeroplossings vir Afrika-realiteite aangepas kan word.
- Die reeks is deur die videograaf en ekspedisiespanlid, Lewis Seymour, vervaardig.
Dit het 6 200 km oor ses Afrikalande gereis terwyl dit slegs deur die son aangedryf is. En verlede week, by die première van 'n nuwe dokumentêre reeks oor die epiese reis, het die Roam Air elektriese fiets die kollig met die span gedeel wat 'n "gek idee" in 'n lewensveranderende werklikheid omskep het.
Nog twee ander projekte is ook by die première van Recharging Hope, aangebied by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS), ten toon gestel – 'n omgeboude elektriese 1978 Volkswagen Kewer wat liefdevol Pata-pata gedoop is, asook 'n omgeboude Suzuki Carry.
Gaste wat die vertoning van die eerste episode van die reeks van sewe episodes bygewoon het, kon eerstehands sien hoe elektriese vervoeroplossings vir Afrika-realiteite aangepas kan word. Die reeks is deur die videograaf en ekspedisiespanlid, Lewis Seymour, vervaardig. Daar was ook 'n demonstrasie van die opleidingsbank wat deur US-studente in vennootskap met die Vervoeronderwys- en opleidingsowerheid (TETA) ontwikkel is en deel uitmaak van die fakulteit se praktiese vaardigheidsontwikkeling.
Die US-geleide span het twee jaar gelede na Kenia vertrek om 'n elektriese motorfiets te gaan haal wat deur die Keniaanse elektriese mobiliteitsmaatskappy Roam ontwikkel is. Die maatskappy het twee toetsfietse voorsien, en die aanvanklike plan was om die voertuie en batterye per koerier na Stellenbosch te bring. Toe dié opsie onuitvoerbaar geblyk het, het die span 'n netwerklose oplossing en laaibedryfsplan ontwerp wat die groottebepaling van die sonkragaanleg, omsetter en batterybank ingesluit het, en het hulle met die fietse huis toe gery.
Die span het nie net 6 200 km oor die vasteland afgelê nie, maar het dit boonop net met sonkrag gedoen. Prof Thinus Booysen, stigter van die US se Elektriese Mobiliteitslaboratorium, erken in die dokumentêr sy eerste gedagte was: "Moenie dit by die huis probeer nie."
'n Verhaal van vasberadenheid
Recharging Hope bied 'n eerlike, agter-die-skerms blik op die veerkragtigheid, innovasie en probleemoplossing wat nodig was om hierdie gewaagde konsep 'n werklikheid te maak, het Booysen gesê. Die reeks dokumenteer teen die agtergrond van Afrika se uiteenlopende landskappe die tegniese uitdagings van die sonkrag-aangedrewe reis én die deursettingsvermoë wat van elke spanlid vereis is. Dit vier ook die verbintenisse en interaksies tussen die span en die gemeenskappe wat hulle teëgekom het. "Ons kyk hier na die ervaring en die inspirerende stories," het Booysen gesê.
Seymour vang in sy dokumentêr, wat meer as 500 uur se redigering vereis het, die harde werklikhede van die ekspedisie vas. Deur verskroeiende hitte, wind en hael te trotseer, en onbekende en soms onveilige terrein te navigeer, het die span talle struikelblokke oor die verloop van 17 dae oorkom om hulle eindbestemming te bereik. In 'n finale toets van hulle uithouvermoë het hulle op die voorlaaste dag gekies om 1 000 km in 24 uur af te lê om die suidpunt van die vasteland te bereik.
"Toe ons die ekspedisie met groot fanfare op Stellenbosch voltooi het, het ons besef ons reis het momentum geskep," het Booysen gesê. Daardie momentum het vir breër institusionele en bedryfsondersteuning gesorg, wat die span in staat gestel het om die projek in 'n dokumentêre reeks vir 'n wêreldwye gehoor te omskep.
Nadat die span se pogings om die reeks aan stroomplatforms voor te lê onsuksesvol was, het hulle gekies om dit op YouTube vry te stel. Dít het baie wyer toeganklikheid as tradisionele verspreidingskanale verseker. Seymour het aan gaste by die première gesê dat deur die dokumentêr aanlyn te vertoon, sal 'n kind in 'n dorpie in Malawi dit ook kan kyk. "Die sukses van hierdie dokumentêr sal nie aan kykergetalle gemeet word nie, maar aan die betekenis daarvan en die mense wat dit aangeraak het."
Vennootskappe en werkbare oplossings
Prof Wikus van Niekerk, Dekaan van die Fakulteit Ingenieurswese, het voor die vertoning die krag van toegepaste navorsing en samewerking in die bedryf beklemtoon.
"Ingenieurswese is wonderlik omdat dit jou toelaat om goed te bou en te doen waaraan jy kan vat en mee kan speel," het hy gesê. "Dis gelukkig dat ons in 'n vakgebied werk waar ons hierdie dinge tasbaar kan maak." Hy het bygevoeg dat vennootskappe noodsaaklik is om ambisieuse idees in werkbare oplossings te omskep. "Ons kan nie as 'n fakulteit hierdie goed doen sonder bedryfsvennote nie."
Scatec het die sonpanele voorsien wat gedurende die ekspedisie gebruik is, terwyl battery-energieberging deur Balancell verskaf is. Die projek is ook deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Energieontwikkelingsinstituut (SANEDI) se LEAP-RE-projek ondersteun.
Die omskakeling van die Suzuki Carry is met die ondersteuning van twee korporatiewe vennote, HYDAC en Balancell, voltooi, wat bewys hoe samewerking tussen die akademie en die bedryf navorsing in werklike, Afrika-geleide skoonenergie-innovasie kan omskep.
Recharging Hope dokumenteer die uitdagings en prestasies van die tog om ses lande met niks anders as sonkrag te deurkruis nie. Dit beklemtoon die vindingrykheid, kreatiwiteit en vasberadenheid van Afrika se jong ingenieurs, terwyl dit die streek se natuurlike skoonheid ten toon stel, het Booysen gesê. "Ons kan deur hierdie dokumentêr ook wys hoe hernubare energie lewens kan verander, veral vir die kwesbaarstes en mees geïsoleerdes."
Om te kyk, besoek: Recharging Hope YouTube channel – https://www.youtube.com/@RechargingHope