Prof Herman Kamper van die Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese lewer sy intreerede.
Prof Herman Kamper ondersoek hoe mens en masjien taal leer
- Prof Herman Kamper van die Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese het Dinsdag 21 Oktober 2025 sy intreerede gelewer.
- Hy fokus op metodes wat masjiene in staat stel om gesproke taal outonoom te leer.
- Hy poog om beter spraak- en taaltegnologie te ontwikkel.
Prof Herman Kamper van die Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese in die Fakulteit Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch het Dinsdag 21 Oktober 2025 sy intreerede gelewer. Die titel van sy lesing was “Die wetenskap en ingenieurswese van taalverwerwing by mense en masjiene”.
Kamper het met die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking gesels oor die wetenskaplike en ingenieursvoordele van die ontwikkeling van metodes wat masjiene in staat stel om gesproke taal outonoom te leer, met minimale toesig.
Vertel ons meer oor jou navorsing en waarom jy in hierdie spesifieke veld belanggestel het.
In my groep probeer ons masjienleeralgoritmes ontwikkel wat gesproke taal op hulle eie kan leer, met baie min leiding. Dit is baie soortgelyk aan die probleme waarmee babas te kampe het wanneer hulle hulle moedertaal aanleer.
Wat dit so ’n interessante uitdaging maak, is dat dit alles van seinverwerking en toegepaste wiskunde tot kognitiewe wetenskap, linguistiek en selfs filosofie dek.
Hoe sou jy die relevansie van jou werk beskryf?
Ons leef in ’n tyd waarin baie mense vra hoe kunsmatige intelligensie en masjienleer die toekoms van die mensdom sal beïnvloed. Maar ek dink dit is dalk selfs meer relevant om te vra of masjienleer ons ook iets kan vertel oor wat ons menslik maak.
Waarom is dit belangrik om metodes te ontwikkel wat masjiene in staat stel om self gesproke taal te leer?
Die wetenskaplike rede is dat ons hoop om meer te leer oor hoe mense taal aanleer. Ons weet steeds nie hoeveel insette babas van hulle versorgers moet kry nie, of hoe die lewe in ’n veeltalige omgewing taalleer beïnvloed nie. As ons modelle gehad het wat die taalverwerwingsproses naboots, sou ons hierdie vrae kon begin beantwoord. Ons sou dalk ook vroeër taalontwikkelingsprobleme by kinders kon begin identifiseer.
Uit ’n ingenieursperspektief weet ons dat babas taal baie doeltreffender leer as enige masjienleeralgoritme vandag. Die hoop is dus dat ons beter spraak- en taaltegnologie kan ontwikkel deur insigte uit babas se taalleer in te bring.
Kan jy voorbeelde gee van hoe jou navorsing in werklike kontekste toegepas word?
In ’n onlangse projek het ons modelle ontwikkel wat probeer om taalontwikkelingsprobleme by baie jong kinders op te spoor deur stories wat hulle vertel het, te verwerk. In ’n ander projek het ons stemomskakelingstelsels ontwikkel deur insigte uit ons baba-geïnspireerde modelle te gebruik. Hierdie stemomskakelingstelsels kan gebruik word vir alles van die generering van kunsmatige stemme vir karakters in speletjies tot om ’n gebruiker wat hakkel te help om vlot spraak in hulle eie stem te kry.
Wanneer jy in jou kristalbal kyk, watter ontwikkelings sien jy op jou vakgebied?
Dit is ’n opwindende en angswekkende tyd vir ons veld. Op korter termyn sien ek baie meer spraaktegnologieë vir opvoedkundige en gesondheidstoepassings. Terselfdertyd is ek ook skepties oor hoe vinnig ons modelle sal kan ontwikkel wat so doeltreffend soos mense kan leer. Maar ek het nooit gedink ek sou tegnologie soos GPT (’n tipe groot taalmodel) in my leeftyd sien nie, so ek het moeg geword om voorspellings te maak (ten spyte van die vorige sin).
Die hoëronderwysomgewing kan uitdagend wees. Wat hou jou gemotiveerd wanneer dinge moeilik raak?
Dis ’n vreugde en plesier om klas te gee, veral voorgraads. Om by my nagraadse studente te leer, is ’n ware eer. Om ’n navorser te wees, is ’n voorreg, want jy kan opregte diep vriendskappe met mense oor die wêreld heen hê.
Terselfdertyd kry dinge jou soms regtig onder. Dan is vriendskappe noodsaaklik: ek het geleer om voor vriende te huil, wat jou altyd beter laat voel.
En dan is dit regtig nuttig om elke nou en dan ’n tree terug te gee en te vra: “Hoekom is ons hier?” Die antwoord is om net verwonder te staan voor hierdie wonderlike skepping – dit wil sê, waarvoor ons gemaak is. En in die akademie word jy betaal om dit te doen.
Vertel ons iets opwindends oor jouself wat mense nie sou verwag nie.
Ek het eenkeer Linkin Park voor ’n paar duisend mense in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum gerap.
Hoe bestee jy jou vrye tyd?
Veldwedlope, agter die kinders aanhardloop, lees, kitaar speel, braai, brood bak (nie die deftige soort nie), nóg lees, en TV-reekse kyk (indien die kinders my toelaat).