Tiara omskep data in bruikbare oplossings
- Om komplekse inligting in praktiese besluite te omskep.
- Nuuskierigheid en aanpasbaarheid het haar reis gevorm.
- Mense en verhoudings speel ’n belangrike rol in die skep van nuwe geleenthede.
Van haar Datawetenskap-studies aan die Universiteit Stellenbosch (US) tot haar huidige rol in globale markte by die Standard Bank-groep, was Tiara Pillay se reis een van voortdurend leer, aanpas en groei.
Dit het alles begin met ’n Baccalaureusgraad in Datawetenskap (Statistiese Leer) wat Tiara in 2024 voltooi het. Sy het dié program gekies weens die unieke kombinasie van statistiek, programmering en werklike besluitneming.
“Ek het dit fassinerend gevind dat jy data kan gebruik nie net om te verstaan wat gebeur het nie, maar ook om te voorspel wat volgende kan gebeur en organisasies te help om beter besluite te neem,” sê sy.
Sy beskryf die US se Datawetenskap-program as goed gestruktureerd en afgerond.
“Die graad het my ’n sterk grondslag in statistiek, wiskunde, rekenaarwetenskap en masjienleer gegee, terwyl dit ook praktiese toepassing beklemtoon het. Daardie balans het my goed voorberei vir die werksplek, omdat dit my nie net die tegniese konsepte geleer het nie, maar ook hoe om krities te dink en werklike probleme met behulp van data op te los.”
Ná haar studies, het Tiara by die Standard Bank-groep se Datawetenskapmeestersprogram aangesluit.
“Dié program het my die geleentheid gebied om tussen verskillende afdelings van die bank te beweeg, wat my gehelp het om ’n sterk begrip te bou van hoe datawetenskap in verskillende kontekste toegepas word. Ek het blootstelling gekry aan beide kleinhandel- en besigheidsbankwese, wat waardevol was om my perspektief te verbreed.”
As deel van die program het sy ook aan 'n projek binne die Besigheids- en Kommersiële Bankwese-afdeling gewerk waar sy 'n kredietkaartmodel herontwikkel het.
“Dié projek was ’n belangrike mylpaal en ’n waardevolle geleentheid om my tegniese vaardighede op ’n werklike sakeprobleem toe te pas.”
Ná die voltooiing van die program het Tiara na haar huidige rol as ’n datawetenskaplike in die bank se Globale Markte-afdeling oorgeskakel.
“My werk fokus op die ontwikkeling van KI- en data-gedrewe oplossings oor verskillende bateklasse heen wat handels- en verkoopspanne help om groot volumes inligting meer doeltreffend te verwerk en te interpreteer.
“Markte verander vinnig, so die probleme wat ons oplos verander ook voortdurend, wat die werk interessant en uitdagend hou. Ek geniet dit ook baie om te sien hoe die modelle en instrumente wat ons bou deur spanne gebruik word om werklike handelsbesluite te ondersteun, wat die impak van my werk baie tasbaar maak.”
Sy sê een van die grootste lesse wat sy tot dusver geleer het, is dat jy nie alles hoef te weet of te verstaan wanneer jy jou reis begin nie.
“Dit is goed om verskillende areas te verken, ervaring op te doen en jou roete oor tyd te verfyn. Waardevolle duidelikheid ontstaan wanneer jy dinge self probeer, eerder as om alles van die begin af perfek te probeer beplan.”
Sy raai studente en gegradueerdes aan om nie die waarde van mense en verhoudings te onderskat nie.
“Die verhoudings wat jy bou, of dit nou met medestudente, mentors of kollegas is, speel dikwels ’n groot rol in jou groei en kan deure oopmaak wat jy nie verwag nie. Om proaktief te wees, vrae te vra en betrokke te raak, maak regtig ’n verskil.”
Die Durban-boorling sê sy voel dankbaar vir die reis wat sy tot dusver gehad het, maar glo daar is nog baie meer om te leer en te bereik.
“In vyf jaar sien ek myself as iemand wat ’n baie dieper begrip van beide die finansiële markte en die produkte binne Globale Markte ontwikkel het. Ek wil sterk domeinkennis saam met my tegniese vaardighede bou, sodat ek nie net modelle en KI-stelsels kan ontwikkel nie, maar ook die markkonteks waarin dit gebruik word, kan verstaan. My doel is om die gaping tussen tegnologie en markte te oorbrug.
“Ek sien daarna uit om nuwe uitdagings aan te pak en ’n betekenisvolle bydrae te lewer in alles wat ek doen.”