Skip to main content
A photo of Yanga Keva
Image by: Supplied
Institusionele nuus

Yanga se reis van leer, leierskap en groei

Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge
08 Junie 2026
  • Teologie en regte: ’n ongewone kombinasie.
  • Studenteleierskap het hom selfvertroue en deursettingsvermoë geleer.
  • Hy gryp elke geleentheid vir groei aan.

Yanga Keva, ’n alumnus van die Universiteit Stellenbosch (US), se storie is gevorm deur ’n strewe na kennis, ’n bereidwilligheid om uit foute te leer, en die moed om geleenthede vir groei aan te gryp.

Sy akademiese pad by die US sluit ’n Baccalaureus in Teologie in, gevolg deur ’n LLB-graad. Hierdie ongewone kombinasie het die hoeksteen van sy benadering geword – in sy alledaagse lewe én sy regsloopbaan.

"Redelik toevallig het teologiese studies vóór die regte 'n groot dryfveer vir my loopbaan geword," verduidelik hy. “Teologie het my geleer om abstrak en filosofies te dink, terwyl die regte my geleer het om te redeneer en te oortuig."

By Maties het Yanga hom in studenteleierskap verdiep en by meer as 30 studentekomitees en taakspanne aangesluit. Sy rolle het ingesluit mentor, hoofmentor en lid van die Huiskomitee in die Olympus pendelstudentegemeenskap, voorsitter van die US Verenigingsraad, sekretaris van die Prim Komitee, hoofverkiesingsbeampte en voorsitter van die Studenteverkiesingskommissie, asook lid van die Dissiplinêre Appèlkomitee van die Universiteit se Sentrale Dissiplinêre Komitee.

"Studenteleierskap was een van die mees lonende ervarings wat ek by die US gehad het. Dit het my werksetiek, deursettingsvermoë, selfvertroue en interpersoonlike vaardighede gevorm, terwyl dit my 'n beter waardering vir my sterkste punte en beperkings gegee het."

In sy tweede jaar het hy die Dekaan se Toekenning vir Akademiese Uitnemendheid van die Fakulteit Teologie ontvang.

"Toe ek by die US aangekom het, het my vriende vir my 'daai praatjie' gegee: 'jy is hier vir een doel – om jou kwalifikasie te kry'. Ek het daardie filosofie ywerig nagejaag, en ek is beloon vir my harde werk."

Een van die hoogtepunte van Yanga se studentejare was om deel te wees van die wenspan in die 31ste Christof Heyns Afrika Menseregte-skynhofkompetisie. As iemand wat ernstige angs ervaar wanneer hy in die openbaar praat, het dit hom ver buite sy gemaksone geneem.

Die eindronde het studente van verskillende universiteite en taalagtergronde bymekaar gebring. Hulle het slegs ses uur gehad om hul slotbetoë voor te berei. "Ons moes Google Translate gebruik vir basiese kommunikasie terwyl ons probeer het om gesofistikeerde regsargumente in verskeie tale te formuleer. Dit het my geleer om aanpasbaar te wees, saam te werk en positief te bly wanneer dinge moeilik raak."

Na sy graduering aan die US is hy by ’n groot internasionale regsfirma in diens geneem. “Ek het onskatbare ervaring in geskille op internasionale en oorgrensende skaal opgedoen.”

In 2025 het hy by een van Afrika se voorste regsfirmas, Bowmans, aangesluit, waar hy as ’n kommersiële geskilbeslegtingspraktisyn werk.

"Die werk is intellektueel stimulerend omdat ek worstel met kommersiële beginsels en nywerhede waarmee ek dikwels nie vertroud is nie. Elke dag bring 'n nuwe legkaart om op te los en geleenthede om wêreldwyd van toonaangewende professionele mense in die bedryf te leer."

Vroeër vanjaar is Yanga as prokureur by die Hooggeregshof van Suid-Afrika toegelaat. "Alles waarvoor ek hard gewerk het gedurende my ses jaar by die US en twee jaar se artikels het tot daardie oomblik gelei," sê hy. "Ek kan nie aan 'n beter manier dink om al daardie harde werk te erken as met 'n eed om betekenisvol tot die samelewing by te dra nie."

Yanga volg tans 'n LLM aan die Universiteit van Pretoria en sê om werk en studies te balanseer is moeilik, maar lonend.

Een van sy grootste leerkurwes was om meer vergewensgesind te wees teenoor sy eie foute. "Die oomblik wat jy ophou om foute te maak, word jy nie meer uitgedaag om te ontwikkel nie. Ek moes leer om elke misstap in ’n les te omskep en om meer op oplossings as op die oorsprong van ’n probleem te fokus."

Terwyl Suid-Afrika Jeugmaand vier, besin hy oor die opofferings van die jeug van 1976 en wat hul nalatenskap vandag van die jeug vra. "Die helde van 1976 het nie bedoel om martelare te wees nie. Hulle wou bloot met waardigheid behandel word, sonder gebrek leef, en ’n voorspoedige lewe hê.

"Toe politieke bewegings verbied is, het skoolkinders die stryd vir ons vryheid weer aangevuur. Hul opoffering bly 'n kragtige herinnering dat jongmense 'n tsoenami van verandering kan wees."

Sy raad aan studente en onlangse gegradueerdes is eenvoudig: "Wees avontuurlustig met jou passies, wees onwrikbaar in jou betrokkenheid by die gemeenskap, en moenie jou geloof prysgee dat jy enigiets kan bereik waarop jy jou hart sit nie."

Verwante stories