Prof Bernard Bekker lewer sy intreerede.
Prof Bernard Bekker wil SA se toekomstige kragstelsel help beplan
- Prof Bernard Bekker van die Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese het op 6 November 2025 sy intreerede gelewer.
- Hy gebruik modelle en simulasies om Suid-Afrika se toekomstige elektrisiteitstelsel te help beplan.
- Hy verskaf waardevolle inligting aan besluitnemers in die regering en die nywerheid.
Prof Bernard Bekker van die Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese in die Fakulteit Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch het sy intreerede op Donderdag 6 November 2025 gelewer. Die titel van sy lesing was “‘Dit hang af’: die gebruik van modelle om Suid-Afrika se toekomstige elektrisiteitstelsel te ondersteun”.
Bekker, wat ook die NNS-SARChi-leerstoel in Kragstelselsimulasie beklee, het met die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking gesels oor die belangrikheid van die gebruik van modelle en simulasies ter inligting van beplanning vir Suid-Afrika se toekomstige elektrisiteitstelsel deur besluitnemers in die regering en die bedryf.
Vertel ons meer oor jou navorsing en waar jou belangstelling in hierdie spesifieke vakgebied vandaan kom.
Ek en my studente bestudeer die impak van toenemend veranderlike hernubare energie-opwekking (meestal wind- en sonkrag), verspreide energieberging en veranderende kliëntegedrag op die tradisionele elektriese kragstelsel. Dis ʼn fassinerende studieveld omdat elektrisiteit ʼn kernbemagtiger van ons beskawing is en die beplanning en werking van die elektriese kragstelsel baie vinnig aan die verander is.
Hoe sou jy die toepaslikheid van jou werk beskryf?
Ons navorsingsaktiwiteite het uiteindelik ten doel om die stelselbestuur, netwerkbeplanning en langtermyn-beplanningsfunksies vir kapasiteitsuitbreiding in die Suid-Afrikaanse kragbedryf te ondersteun. Die belangrikste manier waarop ons hiertoe bydra, is deur modelle en simulasies te bou wat besluitnemers in die regering en die bedryf oor die gevolge van hulle besluite inlig, vertroue in innovasies skep, foutiewe storielyne uitlig, ensovoorts.
Kan jy voorbeelde gee van hoe jou navorsing in werklike kontekste toegepas word?
Ons modelle kan byvoorbeeld aantoon watter beheerbare faktore die grootste impak op die risiko van toekomstige beurtkrag het, of beplanners help om te besluit watter dele van die verspreidingsnetwerk waarskynlik die meeste oorlaai sal word in ʼn toekoms met baie elektriese voertuie.
Hoe word modelle gebruik om Suid-Afrika se toekomstige elektrisiteitstelsel te beplan?
Dis baie moeilik om vir die toekoms te beplan as jy net ʼn vae idee het van hoe jou besluite hierdie toekoms gaan beïnvloed. Modelle, oftewel vereenvoudigings van die werklikheid, vorm die grondslag vir die simulasie van moontlike toekomste, wat beter inligting oor die uitkoms van hulle besluite aan besluitnemers bied.
Op watter maniere kan die akademie help om elektrisiteitsbeplanning duideliker en in die openbare belang te maak?
Akademiese navorsing is onbevooroordeeld en op feite gegrond (of streef minstens daarna), en kan as sodanig ʼn onbelemmerde en onpartydige stem in die openbare debat oor elektrisiteitsbeplanning wees. So ʼn stem is nodig en in die openbare belang.
Watter ontwikkelings sien jy in jou kristalbal vir jou studieveld?
Ek het nie ʼn kristalbal nodig nie, want die ontwikkelinge is reeds hier en bied talle stimulerende probleme vir elektriese ingenieurs en navorsers om aan te werk! Dit kan opgesom word as die ‘vier D’s’: dekarbonisering, desentralisasie, deregulering en datafikasie.
Die hoëronderwysomgewing kan uitdagend wees. Wat hou jou gemotiveerd wanneer dinge moeilik raak?
Om met my nagraadse studente te werk is ongelooflik lonend.
Hoe bring jy jou vrye tyd deur?
My vrou en drie kinders (en golden retriever) is net so lief vir die buitelewe soos ek, dus is ons naweke gewoonlik gevul met aktiwiteite soos bergfietsry, velddraf, swem en om tyd in die wonderlike Wes-Kaapse natuur deur te bring.