Amohetsoe Shale en haar maatskappy, NAVU Mobility, sal teen 135 maatskappye uit 133 lande vir die prys ter waarde van $1 miljoen meeding.
US-student neem prostetiese innovasie uit Afrika na die wêreldverhoog
- 'n Student in biomediese ingenieurswese gaan Suid-Afrika by die finale rondes van 'n wêreldwye kompetisie vir beginondernemings vir studente verteenwoordig.
- Amohetsoe Shale en haar maatskappy, NAVU Mobility, sal teen 135 maatskappye uit 133 lande vir die prys ter waarde van $1 miljoen meeding.
- NAVU ontwikkel bekostigbare prostetiese knietegnologie.
Sy is net 23, maar Amohetsoe Shale, 'n meestersgraadstudent aan die Universiteit Stellenbosch (US) en stigter van NAVU Mobility, kom eersdaags voor die grootste naelloop van haar lewe te staan: toegang tot 'n internasionale verhoog waar sy potensiële finansierders kan bereik sodat sy die gaping tussen innovasie en bekostigbare behandeling vir geamputeerdes kan oorbrug wat andersins nie toegang tot beweeglikheid kan kry weens koste en toeganklikheid nie.
Haar span gaan binnekort teen deelnemers uit meer as 130 lande om die gesogte Hult-prys meeding. Hierdie prys word allerweë as die wêreld se grootste kompetisie vir studente-beginondernemings beskou.
Dit daag studente uit om nuwe winsgerigte beginondernemings op die been te bring wat ten minste een van die Verenigde Nasies se Doelwitte vir Volhoubare Ontwikkeling (DVO’e) ondersteun. NAVU strook met ten minste drie van die VN se doelwitte: DVO 3 (Goeie Gesondheid en Welstand) deur mobiliteit te herstel; DVO 9 (Bedryf, Innovasie en Infrastruktuur); en DVO 10 (Verminderde Ongelykhede) deur toegang tot bekostigbare prostetiese sorg uit te brei.
Die wenspan sal saaikapitaal ter waarde van $1 miljoen ontvang om hulle onderneming uit te brei.
Verklein die gaping
Shale se reis tot hier het in die Oos-Kaap begin, waar sy die fisiese en ekonomiese impak van gestremdheid op die klein boeregemeenskap waar sy grootgeword het, gesien het.
Terwyl sy ortotika en prostetika aan die Walter Sisulu-Universiteit gestudeer het, is sy aan gesondheidsorg en rehabilitasie in landelike omgewings blootgestel. Wat sy daar ondervind het, het 'n blywende indruk gelaat.
"Ek was ontevrede met die gehalte van toegang, die gehalte van sorg en die komponente wat aan mense verskaf word," sê sy.
In haar vierde jaar het 'n twee week lange literatuuroorsig-opdrag dieper besinning oor haar kliniese ervarings met geamputeerdes in Mthatha aangewakker. Een insig het uitgestaan: Hoewel daar 'n paar navorsingsartikels was wat innoverende prostetiese knie-ontwerpe voorgestel het, is nie een daarvan in praktiese produkte wat kommersieel beskikbaar is, omgesit nie.
"Ek het besef daar is 'n gaping," sê sy. "En ek het geweet ek wil dit verander."
Daardie oomblik het 'n ambisie om 'n prostetiese knie te ontwerp wat mense kon bekostig en werklik in hulle daaglikse lewe kon gebruik, ontketen.
Om idees in produkte om te skakel
Shale was vasbeslote dat haar werk nie stof op 'n rak as net nog 'n akademiese tesis sou vergader nie. Sy het begin fokus op hoe om haar navorsing in 'n werklike oplossing te omskep. "Entrepreneurskap en kommersialisering is die voertuie wat dit moontlik maak," verduidelik sy.
Sy het deels vanweë die wêreldwye geleenthede gekies om haar meestersgraad in biomediese ingenieurswese aan die US te doen. Selfs nog voor sy op kampus aangekom het, het sy 'n internskap in Noorweë gekry – 'n ervaring wat sy as 'n "openbaring" beskryf.
Aangesien sy van die klein boeregemeenskap by Keiweg afkomstig is, het die blootstelling haar sin van moontlikheid gevorm. Dit was ook waar sy begin het om die entrepreneursdenkwyse te ontwikkel wat nou haar werk onderlê.
Terug by die US het Shale in haar navorsing op die ontwikkeling van 'n laekoste, passiewe polisentriese prostetiese knie gefokus. Die prostetiese knie is ontwerp om 'n natuurlike loopbeweging deur middel van 'n vierstaaf-skakelstelsel na te boots, terwyl alledaagse komponente heraangewend word om die prestasie daarvan te verbeter. Die ontwerp is daarop gemik om funksionaliteit en bekostigbaarheid te verbeter. Hierdie werk vorm onder leiding van prof Kristiaan Schreve, Direkteur van die Instituut vir Biomediese Ingenieurswese, Shale se gestruktureerde meesterskursus.
Wenpaaie
Ten einde die innovasie verder as die laboratorium te neem, het sy NAVU Mobility gestig. Die prototipe ondergaan tans laboratoriumvalidering, ondersteun deur medewerking met 'n maatskappy in Kaapstad en sagteware-analise. Vroeë resultate is belowend, maar werklike toetse bly van kritieke belang om duursaamheid, gemak en kostedoeltreffendheid te bepaal.
Dit is waar platforms soos die Entrepreneurskapontwikkeling in Hoër Onderwys- (EDHE-) intervarsitykompetisie en die Hult-prys 'n deurslaggewende rol speel.
Danksy die aanmoediging van die US se LaunchLab en die Innovus-tegnologieoordragkantoor, het Shale in die kategorie Navorsingskommersialisering aan die EDHE-kompetisie deelgeneem. In Maart vanjaar het sy die Hult-prys se Suid-Afrikaanse nasionale eindronde gewen.
NAVU Mobiliteit is nou een van 135 beginondernemings uit 133 lande wat om die wêreldwye prys sal meeding wat na afloop van die finale ronde in Londen aangekondig sal word.
Haar span van drie berei tans voor "soos 'n atleet wat vir 'n naelloop oefen", sê sy.
Maar vir Shale strek die werklike waarde verder as die kompetisie self.
"Die punt lê in die reis," sê sy. "Dit plaas jou maatskappy onder die soort druk wat jou dwing om te voortbou."
Dit sal baie betekenisvol wees om in die kompetisie te vorder, maar die geleenthede om vennootskappe te sluit, beleggings te lok en internasionale blootstelling te kry, is ewe belangrik.
"As ons Londen bereik, sal ons met potensiële kliënte en medewerkers kan skakel," sê sy. "Dis die grootste oorwinning."
Anita Nel, die US se Hoofdirekteur: Innovasie en Kommersialisering, sê: "Amo toon weer eens die hoë gehalte van entrepreneurs op die SU-kampus en die relevante navorsing wat by ons instelling gedoen word wat daarop gemik is om die wêreld 'n beter plek vir almal te maak. Ons is opgewonde om deel te wees van die NAVU-reis en bied uitstekende ondersteuning aan die beginonderneming."
Innovasie met impak
As een van sewe kinders wie se ouers doktorsgrade in onderskeidelik sake-ontwikkeling en taal het, is Shale geen vreemdeling vir dissipline en ambisie nie. Nou kanaliseer sy daardie dryfkrag om te bou aan wat sy as 'n Afrika-oplossing vir Afrika-uitdagings beskryf.
Sy is ook vasbeslote om persepsies oor innovasie op die vasteland uit te daag. Die idee dat produkte wat in Afrika ontwikkel is, nie kommersieel lewensvatbaar kan wees nie, is eenvoudig nie waar nie, sê sy.
Vir Shale is dit nie net die tegnologie wat 'n beginonderneming laat uitstyg nie, maar ook die onderneming se verbintenis met die gemeenskap wat dit bedien. "Moenie bang wees om vas te staan in jou agtergrond en jou waarheid nie," raai sy aan. "Ons is een van die min maatskappye wat prostetika op die vasteland bou, en dit is presies wat ons anders maak."
Haar boodskap aan aspirant-innoveerders is eenvoudig: Dink groot. "Ons moet nooit daarvan wegskram om oplossings vir onsself te bou nie."