Skip to main content
Ministerial delegation from Energy visits SU
Image by: Stefan Els

Onderskrif: (van links) Prof Sibusiso Moyo, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie; Prof Geo Quinot, Proviserektor: Regeringsvennootskappe; Prof Wikus van Niekerk, Dekaan van die Fakulteit Ingenieurswese en Proviserektor: Institusionele Doeltreffendheid; Dr Kubeshnie Bhugwandin, Bestuurder: Hernubare Energie by Eskom; Subesh Pillay, Waarnemende Direkteur-Generaal van die Departement Elektrisiteit en Energie; Prof Deresh Ramjugernath, US-Rektor en Visekanselier, en Prof Cristina Trois, Direkteur van die Sentrum vir Hernubare en Volhoubare Energiestudies (CRSES), voor die ministeriële skakeling en aanlyn voorlegging deur die Minister van Elektrisiteit en Energie, dr Kgosientsho Ramokgopa. 

 

Persverklaring Ingenieurswese en tegnologie

Universiteite deurslaggewend vir SA se energie-oorgang, sê Ramokgopa aan US

Anél Lewis
Senior journalist
14 Mei 2026
  • Die Minister van Elektrisiteit en Energie, dr Kgosientsho Ramokgopa, het met personeel en studente by die Universiteit Stellenbosch (US) geskakel as deel van die Departement van Elektrisiteit en Energie se uitreikprogram oor nasionale energievaardighede.
  • Suid-Afrika se energie-ambisies sal afhang van die vinnige uitbreiding van die land se ingenieurs- en tegniese vaardigheidsbasis.
  • Die US deur sy Sentrum vir Hernubare en Volhoubare Energiestudies (CRES) en die Fakulteit Ingenieurswese geïdentifiseer as ’n sleutelvennoot vir die regering se uitreikaksie om sy vaardigheidsbasis uit te brei.

Die Minister van Elektrisiteit en Energie, dr Kgosientsho Ramokgopa, sê dat Suid-Afrika se energie-ambisies sal afhang van die vinnige uitbreiding van die land se ingenieurs- en tegniese vaardigheidsbasis, met universiteite wat ’n kritieke rol speel in die voorbereiding van die volgende generasie spesialiste.

Tydens ’n skakeling met personeel en studente by die Universiteit Stellenbosch (US) as deel van die Departement van Elektrisiteit en Energie se uitreikprogram oor nasionale energievaardighede het Ramokgopa energie beskryf as “die suurstof wat lewe in die ekonomie blaas”. Hy het gewaarsku dat Suid-Afrika nie energiesekerheid en -soewereiniteit sal bereik sonder om in plaaslike kundigheid te belê nie.

“Die toekoms is hier,” het hy in sy virtuele voorlegging gesê, wat regstreeks uitgesaai is aan studente, personeel en lede van die ministeriële afvaardiging wat by die US se Fakulteit Ingenieurswese teenwoordig was.

As ’n vooraanstaande instelling van hoër onderwys, is die US deur sy Sentrum vir Hernubare en Volhoubare Energiestudies (CRES) en die Fakulteit Ingenieurswese geïdentifiseer as ’n sleutelvennoot vir die regering se uitreikaksie om sy vaardigheidsbasis uit te brei.

Met verwysing na die verband tussen toegang tot elektrisiteit en ekonomiese groei, het Ramokgopa gesê dat lae vlakke van energieverbruik dikwels swak ekonomiese prestasie weerspieël.

“As die ligte af is, is dit onwaarskynlik dat ons die ekonomie sal laat groei,” het hy gesê.

Hy het bygevoeg dat Suid-Afrika ’n wye reeks gespesialiseerde vaardighede regdeur die energiewaardeketting sal benodig om toekomstige groei te onderhou.

Ramokgopa het gesê die regering beplan om Suid-Afrika as ’n sleutelspeler in die wêreldwye groenenergie-oorgang te posisioneer deur die uitbreiding van die kragnetwerk, die integrasie van hernubare energie, die lokalisering van skoonenergietegnologieë en die insluiting van kernkrag in die raamwerk vir ’n Regverdige Energie-oorgang.

Hy het egter opgemerk dat Suid-Afrika tans nie oor die kundigheid beskik wat nodig is om kernreaktors onafhanklik te bou nie en op lande soos Frankryk, China en Korea sal moet staatmaak vir daardie vermoë.

“Ons moet die lewering van ingenieurs versnel,” het hy gesê, en bygevoeg dat die land reeds oor baie van die natuurlike hulpbronne beskik wat nodig is om sy energie-ambisies te ondersteun, insluitend kritieke minerale en die potensiaal vir hernubare energie.

Hy het ook geleenthede vir plaaslike vervaardiging uitgelig wat verband hou met die energie-oorgang, insluitend die produksie van kragmaste en transmissie-infrastruktuur.

Ramokgopa het gesê dat ongeveer 400 000 jaarlikse netwerk- en nie-netwerkaansluitings nodig sal wees sodat Suid-Afrika universele toegang tot elektrisiteit teen 2030 kan bereik. Hy het bygevoeg dat Suid-Afrika ook goed geposisioneer is om 'n aandeel in die groeiende wêreldwye belegging in datasentrums te verkry en om ’n toegangspoort na die Afrika-mark te word.

Ramokgopa het beklemtoon dat universiteite ’n deurslaggewende rol sal speel in die vorming van die menslike kapitaal wat nodig is om die land se toekomstige energiestelsel te ontwerp, te bou en te bedryf.

“Suid-Afrika is nie bloot besig met die oorgang van sy energiestelsel nie; hy is besig om die infrastruktuur-ruggraat van Afrika se toekomstige kragekonomie te bou.”

Prof Geo Quinot, Proviserektor: Regeringsvennootskappe by die US, het die ministeriële skakeling verwelkom en gesê Ramokgopa se aanbieding het vrae laat ontstaan wat sentraal staan tot die regering sowel as hoëronderwysinstellings.

Dit sluit in hoe om vaardighede te ontwikkel wat nodig is vir ’n veranderende energielandskap, hoe om navorsing met nasionale prioriteite te belyn, en hoe om te verseker dat hierdie oorgang regverdig én volhoubaar is, terwyl dit in diens van die samelewing staan.

“Ek wil u verseker dat ons by die US ons rol in hierdie verband baie duidelik sien. Deur ons Fakulteit Ingenieurswese, en spesifiek ons Sentrum vir Hernubare en Volhoubare Energiestudies, tesame met ons breër navorsingsekosisteem, is ons verbind daartoe om ’n betekenisvolle bydrae tot die land se energie-oorgang te lewer deur die volgende generasie ingenieurs, wetenskaplikes en beleidmakers toe te rus wat hier sal bly om ons land en ons kontinent te ontwikkel.”

Hy het ook die belangrikheid van samewerking beklemtoon en gesê dat geen enkele instelling hierdie uitdaging alleen die hoof kan bied nie. “Die omvang en kompleksiteit van Suid-Afrika se energie-oorgang vereis sterk vennootskappe tussen die regering, die akademie, die bedryf en die samelewing. U en u kollegas se skakeling met ons hier vandag word daarom nie net opreg verwelkom nie, maar is ook noodsaaklik.”

Ten slotte het Quinot gesê: “Ons hoop dat hierdie skakeling samewerking sal verdiep, ons gedeelde begrip van die lewering van vaardighede wat nodig is sal verskerp, en nuwe weë vir samewerking sal open ter ondersteuning van energiesekerheid en langtermyn-soewereiniteit.”

 

 

Verwante stories