Skip to main content
Deputy Minister of Higher Education Dr Mimmy Gondwe confirmed Stellenbosch University’s preparedness for the 2026 academic year during the first stop of a national readiness tour
Image by: Stefan Els
Persverklaring Institusionele nuus

Adjunkminister prys US se gereedheid vir 2026-akademiese jaar

Hannelie Booyens
Senior Writer, Corporate Communications and Marketing
28 Januarie 2026
  • Die adjunkminister van Hoër Onderwys, dr Mimmy Gondwe, het op die eerste stop van 'n nasionale gereedheidstoer die Universiteit Stellenbosch se gereedheid vir die nuwe akademiese jaar bevestig.
  • Finansiering, verblyf en NSFAS-verwante registrasieblokkering het 'n eerlike en oplossingsgefokusde skakeling met senior bestuur en studenteleiers oorheers.
  • Gondwe het die Universiteit se studente-gesentreerde benadering geprys en haar besoek as "baie suksesvol" beskryf.

Die Universiteit Stellenbosch (US) was Maandag die eerste stop op 'n nasionale gereedheidstoer deur adjunkminister van Hoër Onderwys en Opleiding, dr Mimmy Gondwe. Sy het bevestig dat die instelling goed voorbereid is vir die 2026-akademiese jaar, maar ook erken daar is steeds uitdagings rondom NSFAS-finansiering.

Gondwe, wat self 'n alumna van die US is, het gedurende 'n oggend lange byeenkoms by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) met die Universiteit se uitvoerende bestuur, studenteleiers en verteenwoordigers van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) vergader, waarna sy die US se tydelike registrasiesentrum by Coetzenburg besoek het. 

Die US se Rektor en Visekanselier, Prof Deresh Ramjugernath, het ter verwelkoming gesê die Universiteit heg baie groot waarde aan die begin van die akademiese jaar en die algehele studente-ervaring. Navorsing, het hy opgemerk, het getoon dat studente wat gedurende hulle eerste ses tot agt weke op universiteit ondersteun gevoel het, beduidend meer geneig was om sukses te behaal. 

"Ons fokus nie net op die akademiese reis nie, maar op studente se holistiese ontwikkeling as individue en burgers," het Ramjugernath gesê. Hy het die onlangse vestiging van 'n uitvoerende portefeulje vir 'n studentedekaan as 'n strategiese intervensie beklemtoon om studentewelstand, mede-kurrikulêre leer en ondersteuning buite die formele kurrikulum te versterk. 

Hoër onderwys onder druk 

Gondwe het gesê die doel van die nasionale besoeke was om institusionele gereedheid te evalueer en ontwrigtings aan die begin van die akademiese jaar te minimaliseer, veral in 'n hoër onderwysstelsel wat weens toenemende vraag en beperkte hulpbronne onder druk is.

"Ons ervaar ernstige druk in die sektor, veral rondom toegang tot hoër onderwys," het sy opgemerk. Om toegang uit te brei, het sy bygevoeg, sou 'n kombinasie van aanlyn en gemengde leermodelle, sterker vennootskappe met die privaat sektor en 'n duideliker openbare begrip van toelatingsvereistes vereis. 

Senior universiteitsamptenare het 'n gedetailleerde oorsig van registrasievordering, finansieringsdruk en verblyfreëlings by die vergadering gegee. Die US se Registrateur, Dr Ronel Retief, het verslag gedoen dat meer as 17 800 studente ten tyde van die besoek reeds vir voorgraadse en nagraadse programme geregistreer het, met meer as die helfte van eerstejaarstudente wat binne dae ná die opening van die stelsel hulle registrasie voltooi het. 

Retief het gesê finansiering en historiese studenteskuld bly die mees konstante uitdagings en raak NSFAS-gefinansierde studente en dié in die sogenaamde ‘verlore middel’. Om dit aan te spreek, het die Universiteit alle studente met uitstaande skuld gekontak en hulle uitgenooi om by 'n Studenteskuld-werkgroepfonds aansoek te doen. Dié fonds beoordeel gevalle volgens finansiële behoefte, akademiese status en huishoudelike inkomste met die doel om hierdie studente in staat te stel om te registreer en hulle akademiese reis voort te sit.

"Dit is 'n baie doelbewuste en gestruktureerde proses," het Retief gesê. "Ons doel is om toegang moontlik te maak sonder om die Universiteit se langtermynvolhoubaarheid in gevaar te stel." 

'Dit is nodig dat die stelsel werk' 

Die instelling se waarnemende Bedryfshoof, prof Nicola Smith, het by die vergadering gesê studenteskuld by die Universiteit het die afgelope dekade met meer as 25% toegeneem, deels weens NSFAS-toelaeperke en breër ekonomiese druk op gesinne. Sy het gesê vertraagde NSFAS-betalings plaas aansienlike druk op die institusionele kontantvloei, met uitstaande gelde wat honderde miljoene rand beloop. 

Ramjugernath het hierdie bekommernisse beaam en beklemtoon dat voorspelbare en tydige NSFAS-prosesse krities is vir institusionele stabiliteit. "Ons doen alles in ons vermoë om studente deur geldinsameling en vennootskappe te ondersteun, maar dit is nodig dat die stelsel werk," het hy gesê. 

Verblyf was nog 'n belangrike onderwerp van bespreking. Die Adjunkregistrateur, dr Celeste Nel, het gesê die Universiteit bestuur tans 8 400 koshuisbeddens regoor die Stellenbosch- en Tygerberg-kampusse wat 99% vol is, tesame met ongeveer 4 000 beddens in private verblyf. Hierdie getal, het sy gesê, sal na verwagting teen einde Maart tot sowat 6 000 styg.

Die waarnemende Studentedekaan, dr Leslie van Rooi, het verduidelik dat die Universiteit ook minstens 90 beddens vir noodverblyf aan studente beskikbaar gestel wat sonder verblyf op kampus aangeland het. Hierdie verblyf was egter slegs as 'n korttermynmaatreël bedoel, met die meeste koste wat deur die instelling gedek is. "Geen student word weggewys omdat hulle nie kan betaal nie," het Van Rooi gesê en bygevoeg dat die fokus was om binne dae permanente verblyf te verseker. 

Gondwe het haar kommer uitgespreek oor die jaarlikse herklassifikasie van die US se verblyfstatus deur NSFAS en het aangevoer dat die hoë lewenskoste op Stellenbosch 'n stabieler metro-klassifikasie regverdig. Sy het onderneem om verder met NSFAS oor die kwessie te skakel. 

Studenteleiers, verteenwoordig deur die US se tussentydse Studenteraad (SR), het gemeld dat die dringendste kwessies op kampus steeds finansiering, verblyf en registrasieblokkering gekoppel aan historiese skuld is. 'n NSFAS-verteenwoordiger, Mpho Matlala (Senior Bestuurder: Strategiese Bemagtiging), het studente aangemoedig om so gou moontlik te appelleer en nie tot die laaste dag van die afsnytyd te wag nie.

'Ek is baie beïndruk'

Die Adjunkminister is aan die einde van haar die besoek aan die Coetzenburg-registrasiesentrum deur Retief en Adjunkregistrateur Ashmind Daniels op 'n toer van die fasiliteit geneem, waar sy met studente, ouers en personeel gesels het. Gondwe het die besoek as konstruktief en bemoedigend beskryf. "Ek het vanoggend goeie interaksie met die Universiteitsbestuur gehad. Daar is steeds 'n paar kwessies rondom NSFAS en finansiering om uit te sorteer, maar oor die algemeen is ek baie beïndruk. Die Universiteit Stellenbosch is gereed vir die akademiese jaar," het sy verklaar. 

Die US is baie na aan haar hart, het sy bygevoeg. "Die Universiteit het my potensiaal en wie ek kan word, raakgesien. Dit is waar ek ontdek het wie ek bedoel is om te wees."

Verwante stories