Bekendstelling van LaunchLab CERI Bio – Biotech se nuwe lanseerplatform in Stellenbosch gevestig
- Die Universiteit Stellenbosch (US) het die opening van LaunchLab CERI Bio, ’n biotegnologielaboratorium vir biotegnologie-loodsondernemings, aangekondig.
Die Universiteit Stellenbosch (US) het die opening van LaunchLab CERI Bio, ’n biotegnologielaboratorium vir biotegnologie-loodsondernemings, aangekondig. Hierdie fasiliteit is ’n uitbreiding van die dienste wat die US se sake-inkubator, die LaunchLab, aan entrepreneurs bied. Die inisiatief is daarop gemik om vooruitgang in die plaaslike biotegnologiesektor te versnel en die gaping tussen navorsing en werklike impak te oorbrug. Die laboratorium is spesifiek ontwerp om entrepreneurs van die nodige toerusting en inkubasieondersteuning te voorsien om hul biotegnologie-navorsing te kommersialiseer.
Biotegnologie het die potensiaal om van Afrika se dringendste uitdagings op te los, wat wissel van gesondheid tot voedselsekerheid en die ontwikkeling van volhoubare alternatiewe vir fossielbrandstowwe. Onder die US se huidige 35 afwentelmaatskappye is tien in die biotegnologiesektor. Innovus Tegnologie-oordragkantoor en LaunchLab het vyf biotegnologie-afwentelmmaatskappye suksesvol geïnkubeer – Fluorobiotech, Biocode, Phagoflux, Urobo Biotech en Immobazyme. Tydens die inkubasie van hierdie maatskappye is twee kritieke hindernisse geïdentifiseer: die hoë koste van materiaal sowel as laboratoriuminfrastruktuur. Anders as tradisionele akademiese of regeringsbiotegnologiefasiliteite, poog die LaunchLab CERI Bio om hierdie uitdaging op te los deur entrepreneurs te voorsien van bekostigbare, moderne laboratoriumruimte, toerusting en gespesialiseerde besigheidsondersteuning om hul biotegnologie-ondernemings te help bou. Die fasiliteit is ’n strategiese belegging om Afrika se biotegnologie-ekosisteem te versterk en meer beleggings in “deep tech”-ondernemings te lok.
“Ons het 'n ongelooflike fondament vir navorsing aan die Universiteit Stellenbosch en in Suid-Afrika in die algemeen. Ons het egter ’n gebrek aan biotegnologie-laboratoriuminkubators wat ons wêreldklas-wetenskap in produkte kan omskep,” sê prof Tulio de Oliveira, direkteur van die Sentrum vir Epidemiese Reaksie en Innovasie (CERI). Hy voeg by dat ons “tydens die pandemie die wêreld gelei het in die ontdekking van variante en kliniese proewe, maar ons was agter in die ry vir toegang tot diagnostiek, terapeutiese middels en entstowwe. Dit is een van die redes waarom ons in LaunchLab CERI Bio belê om Suid-Afrika te posisioneer as ’n wêreldleier in die produksie van biotegnologieprodukte wat lewens red en verbeter.”
Die kommersialisering van “deep tech” deur loodsondernemings het ’n hoë impakpotensiaal, veral in Afrika, omdat die vasteland minder hulpbronne het in vergelyking met die res van die wêreld. Ten spyte van Suid-Afrika se florerende loodsonderneming-ekosisteem, verkies beleggers om in sagteware, finansiële tegnologie en verbruikersgedrewe sektore te belê wat baie vinniger die mark bereik. Dit is dus byna noodsaaklik dat universiteite aktief deelneem aan ekosisteemgesprekke om te pleit vir verhoogde infrastruktuur en beleggingsvloei in wetenskapgebaseerde ondernemings met hoë kommersiële en globale impakpotensiaal.
Anita Nel, Hoofdirekteur van Innovasie en Kommersialisering aan die US, het die oorspronklike LaunchLab in 2015 gestig en die LaunchLab CERI Bio-projek gelei met ’n strategiese visie om ’n ruimte te skep wat beide sake-inkubasie en kommersiële samewerking ondersteun. Hierdie model was suksesvol, soos geïllustreer deur ondernemings soos CubeSpace, ’n lugvaart-afwentelmaatskappy op pad om Afrika se eerste universiteit-afwentel-eenhoring te word.
“Die LaunchLab CERI Bio, tesame met die LaunchLab-sake-inkubatorfasiliteit, is die begin van wat ons hoop meer samewerking in ons ekosisteem sal bevorder. US LaunchLab sal voortgaan om verskeie ekosisteemgeleenthede en -programme aan te bied in samewerking met Stellenbosch-netwerk en Innovus TTO. Hierdie aktiwiteite dryf altyd plaaslike beleggersteun, en die LaunchLab CERI Bio voeg diepte tot hierdie gemeenskap toe deur plaaslike en globale beleggers, en belanghebbendes wat gretig is om saam te werk, te lok,” sê Nel.
Die US-biotegnologie-afwentelmaatskappy, Fluorobiotech, het leiding geneem as ’n prominente projekvennoot in die fasiliteit se opknappings, ontwerp en implementering. Die span sal ook LaunchLab CERI BIO bestuur en bedryf onder ’n ooreengekome diensvlakooreenkoms met die US se Innovasie- en Kommersialiseringsafdeling (I&K). Die laboratoriumruimte sal gedeel word met hul afwentel-eweknieë Biocode en Phagoflux.
“Biotegnologie beleef ’n oplewing in Suid-Afrika, en LaunchLab CERI Bio is uniek geposisioneer om hierdie momentum te versnel – en biotegnologie-loodsondernemings te bemagtig om innoverende konsepte in impakvolle, bedryfsveranderende realiteite te omskep,” het die Fluorobiotech-span gesê.
Die gedeelde ruimte is ’n beduidende stap vorentoe vir Suid-Afrika se biotegnologie- en “deep tech”-bedrywe, wat meer biotegnologiemaatskappye in staat stel om op ’n wêreldverhoog mee te ding. Ten spyte van die deurslaggewende impak van die fasiliteit, erken die US se I&K-afdeling dat dit kapasiteitsbeperkings het, en met hul gewone visionêre benadering, beoog hulle om genoeg fondse in te samel om ’n groter fasiliteit te vestig wat selfs meer Afrika-biotegnologiemaatskappye kan akkommodeer. Die Universiteit beplan om LaunchLab en LaunchLab CERI Bio te herhaal, maar op ’n baie groter skaal, by The Bridge – ’n nuwe slimstad-ontwikkeling naby Stellenbosch – en soek vennote om in hierdie verband met hulle saam te werk.
In ’n laaste opmerking verklaar prof De Oliviera: “Dit is net die begin, ons is reeds in samewerking met groot befondsers en beleggers soos die Mastercard-stigting om ons te help om die ekosisteem uit te brei.”
Oor die Universiteit Stellenbosch (US) LaunchLab
US LaunchLab funksioneer as ’n integrale deel van die I&K-afdeling en werk nou saam met die Innovus Tegnologie-oordragkantoor om sake-inkubasieondersteuning aan US-entrepreneurs te bied. US LaunchLab bied verskeie dienste, insluitend studente-entrepreneurskapsprogramme, die skep van nuwe maatskappye, ondersteuning vir portefeuljemaatskappye en fondsbestuur. Deur die ontwikkeling van pasgemaakte inisiatiewe soos entrepreneuriese denkwyse-werkswinkels, fakulteitspesifieke opleidingskampe, hackathons en inkubasieprogramme, help US LaunchLab om die volgende generasie entrepreneurs by die US te ontwikkel. Die departement bied ook administratiewe, bestuurs- en strategiese ondersteuning aan afwentelmaatskappye, wat hul langtermyn sukses binne die US-ekosisteem verseker.
Oor die Sentrum vir Epidemiese Reaksie en Innovasie (CERI)
Die Sentrum vir Epidemiese Reaksie en Innovasie (CERI) is ’n wêreldwyd-erkende instituut gebaseer by die Universiteit Stellenbosch, toegewy aan die verbetering van epidemiereaksies deur middel van baanbrekersnavorsing en innovering. CERI is ’n gespesialiseerde genomika-fasiliteit van die WHO AFRO en die Afrika-sentrums vir siektebeer en -voorkoming en ’n opleidingsentrum vir Afrika. CERI is gebaseer by die Universiteit Stellenbosch. CERI het onlangs die African STARS Fellowship-program in vennootskap met die Mastercard-stigting van stapel gestuur om gevorderde opleiding en kapasiteitsbou in biotegnologie-innovering te bied om Afrika te help om sy eie epidemies en pandemies te beheer. Kontak ons by www.ceri.org.za en op X: @ceri_news en LinkedIn: www.linkedin.com/company/ceri-su/
Oor die Universiteit Stellenbosch se Afdeling vir Innovasie en Kommersialisering (I&K)
Die I&K-afdeling het die eksklusiewe mandaat om die US se intellektuele eiendomsportefeulje en ander sakegeleenthede, insluitend die gebruik van sy fasiliteite, te bestuur en te kommersialiseer in oorleg met relevante fakulteite en PASS-omgewings.
Deur sy verskeie afdelings speel die I&K-afdeling ’n deurslaggewende rol in die bevordering van innovering en entrepreneurskap, en die versekering van die volhoubare kommersiële groei van die Universiteit Stellenbosch.