Langtermynstudie toon omvang van sinergie tussen alkohol- en nikotiengebruik op babasterftes én lewensvooruitsigte van oorlewendes
- Die omvang van die impak van die gekombineerde gebruik van alkohol en nikotien, sowel as ander dwelms, tydens swangerskap word nou eers duidelik, danksy die Safe Passage-studie.
- Die sinergie tussen gekombineerde middelgebruik dra by tot groot probleme later in die lewe soos diabetes, metaboliese sindroom en hoë bloeddruk, wat gekoppel is aan hartaanvalle en beroertes later in die lewe.
- Swak sosio-ekonomiese toestande is belangrike risikofaktore vir gekombineerde middelgebruik.
Die omvang van die uitwerking van die gesamentlike gebruik van alkohol en nikotien asook ander dwelmmiddels tydens swangerskap op babasterftes en die lewenslange gesondheidsvooruitsigte van oorlewende kinders word nou eers duidelik, danksy langtermynopvolgnavorsing van die Safe Passage-studie (SPS).
“Dit toon dat die sinergie tussen die gesamentlike gebruik van middels tot groot latere probleme soos diabetes, metaboliese sindroom en verhoogde bloeddruk bydra, wat met hartaanvalle en beroertes in die latere lewe verband hou,” sê prof Hein Odendaal, emeritus-professor in die Departement Verloskunde en Ginekologie van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US).
Die studie toon voorts dat swak sosio-ekonomiese toestande soos armoede, gebrekkige skoling en swak indiensnemings- en toekomsvooruitsigte die grootste risikofaktore vir gesamentlike middelgebruik is. “Hierdie sosio-ekonomiese tragedie in talle van ons gemeenskappe moet dringend aangepak word om nie net babasterftes te beperk nie, maar ook die langtermyn-gesondheidsprobleme van oorlewende kinders wat hul hele emosionele en fisiese lewensvooruitsig kan bepaal,” benadruk Odendaal.
Die SPS is die grootste internasionale langtermyn- en prospektiewe studie van sy soort ter wêreld en werp veral lig op die sinergistiese effek van die gesamentlike gebruik van nikotien en alkohol op fetale ontwikkeling, stilgeboortes en skielikesuigelingsterftesindroom (wiegiesterftes of SIDS), maar ook op die langtermyn-gesondheidsprobleme wat by oorlewende kinders manifesteer en wat later in volwassenheid voorsien word.
Die SPS is deur die VSA se National Institutes of Health gefinansier en daar is al in 2006 met voorbereiding begin, werwing van deelnemers het tussen 2009 en 2016 plaasgevind en langtermynopvolgnavorsing is sedertdien in Suid-Afrika deur die US en die Universiteit van Kaapstad (UK) gedoen. Benewens die US en UK het navorsers van onder meer die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), die Universiteit van Harvard, die Boston-kinderhospitaal en die Universiteit van Noord- en Suid-Dakota aan dié internasionale studie gewerk.
Odendaal, leier van die Suid-Afrikaanse deel van die studie, vertel dat meer as 12 000 swangerskappe in twee Kaapstadse woonbuurte en in Noord- en Suid-Dakota in Amerika gevolg is, tot wanneer kinders een jaar oud was.
“Dié studie is uniek omdat ons die data prospektief tydens swangerskap ingesamel het en dit met die gesondheidsgegewens van die moeder, die fetus en later die baba en jong kinders vergelyk het. Opvolge deur middel van elektro-ensefalogramme (EKG’s) en magnetiese resonansbeelding (MRB’s) fokus op langtermynvooruitsigte, ʼn verdere studie aan die US is aan die gang en verdere opvolge word vir 2026 beplan.”
In die oorspronklike studie is swanger vroue gedurende verskillende fases oor hul alkohol- en nikotiengebruik gedurende die vorige maand uitgevra, is daaglikse verbruik aangeteken en het niegebruikers as die kontrolegroep gedien. Die uitwerking van die middels op babasterftes, asemhalingsregulering en lewensbelangrike funksies is hierdeur bepaal, terwyl opvolgnavorsing kinderontwikkeling lank ná geboorte en tot in volwassenheid ondersoek.
Een van die ontledings van die data van 4 926 Suid-Afrikaanse swanger vroue het getoon dat slegs 17,8% geen middels gebruik het nie, 16,7% slegs alkohol, 17,5% slegs nikotien, en 36,6% beide alkohol en nikotien.
Babasterftes
Die jongste bevindings toon die omvang van gesamentlike blootstelling aan alkohol en nikotien op die risiko van wiegiesterftes. “Dit het die risiko vir SIDS byna vyftienvoudig verhoog, teenoor ʼn sesvoudige verhoging deur nikotiengebruik alleen en ʼn meer as viervoudige verhoging deur alkoholgebruik alleen,” sê Odendaal.
Die risiko van stilgeboortes was byna twee keer hoër by ma’s wat nikotien gebruik het, maar byna drie keer hoër by ma’s wat nikotien én alkohol gebruik het.
ʼn Insiggewende verband is ook gevind tussen ʼn serotoniendefek in die breinstam van babas wat weens SIDS gesterf het (sien artikel hiernaas).
Plasentagesondheid
Die ontleding van 5 809 swangerskappe in Bishop Lavis het getoon dat die vloeispoed in die uteriene arterie en umbilikale arterie (twee van die hoofvate betrokke by fetale voeding en groei) betekenisvol verminder het as vroue baie nikotien en alkohol gebruik het, sê Odendaal.
Die voorkoms van voortydige loslating van die plasenta, een van die grootste oorsake van stilgeboortes by die Tygerberg-hospitaal, was betekenisvol hoër onder nikotiengebruikers. By die vroue wat uitsluitlik alkohol gebruik het, was daar nie ’n groter kans van loslating nie. Die voorkoms van loslating was 0,11% by die 875 vroue wat nie nikotien of alkohol gebruik het nie (die kontrolegroep), maar 1,25% by die 2 804 vroue wat selfs min nikotien en alkohol gebruik het.
Die groei van die fetus, soos gemeet met ultraklank, is ook betekenisvol deur die gebruik van nikotien en alkohol beperk.
Gesondheidsvooruitsigte
Die gevolge van voorgeboortelike alkohol- en nikotienblootstelling strek veel verder as geboorte, benadruk Odendaal. In die studie is sowat 500 kinders se neurokognitiewe ontwikkeling en gedrag op 4-jarige ouderdom ondersoek en as die ma baie gedrink het, het die kinders gesukkel om gelyktydige of opeenvolgende take uit te voer, en het hulle laer tellings in taal- en senso-motoriese areas behaal en meer aandag- en omvattende ontwikkelingsprobleme getoon.
Voorts was die binneste twee lae van die slagare in die nek wat die brein van bloed voorsien dikker as hulle aan nikotien en alkohol blootgestel was, wat dui op ʼn groter risiko van hipertensie in latere lewe. Die niere en pankreas was betekenisvol kleiner as die ma nikotien gebruik het, wat op ’n groter risiko van onderskeidelik hipertensie en diabetes later in die lewe kan dui.
Breingesondheid
Verdere opvolging met magnetiese resonansbeelding (MRB) van 313 kinders het getoon dat die blywende impak van voorgeboortelike blootstelling aan nikotien ʼn verkleining meebring van die area van die brein wat van kardinale belang is vir uitvoerende funksies en die verwerking van beloning en straf. Die onderontwikkeling van hierdie breinarea kan betekenisvolle implikasies inhou vir kinders se vermoë om sosiale en emosionele reaksies dwarsdeur hul lewe te bestuur.
Blootstelling aan alkohol is geassosieer met ’n verkleinde struktuur van die mediale temporale lob, ʼn breinarea wat deurslaggewend vir leer en geheue is.
Voortgesette navorsing
Die bevindings van die SPS bied dwingende bewyse van die nadelige uitwerking van middelgebruik op fetus- en babasterftes, maar ook op gesondheidsgevolge wat tot in volwassenheid strek.
Odendaal wys op die belangrikheid van opvolgnavorsing en benewens die MRB- en EKG-studies deur die UK en US, word verdere navorsing deur navorsers van die Tygerberg-hospitaal nog ontleed.
Die Departement Psigiatrie aan die US beplan ʼn verdere studie in 2026 oor die sinergistiese uitwerking van gesamentlike alkohol- en nikotiengebruik deur ma’s wat in swak sosio-ekonomiese toestande leef op die latere voorkoms van depressie en angs by adolessente.