KI-Toekomsforum
Titus-Dawson nooi almal uit na FGGW KI-Toekomsforum
'KI moet hoër onderwys dien,
nie andersom nie.
Ons moet gelykheid vooropstel en voorkom dat bestaande digitale ongelykhede verdiep.'
Beste kollegas
Ons het die FGGW KI-toekomsforum bekend gestel as 'n samewerkende ruimte vir deurdagte gesprekke oor die gebruik van kunsmatige intelligensie (KI) binne ons Fakulteit. Die forum het ten doel om kollegas van regoor die Fakulteit byeen te bring om gesamentlik te ondersoek hoe KI op maniere aangewend kan word wat die akademiese kernopdrag van die Fakulteit ten bate van sowel studente as personeel ondersteun.
Deur middel van hierdie inisiatief, hoop ons om:
- Fakulteitspesifieke praktiese riglyne vir die verantwoordelike gebruik van KI deur studente, personeel en navorsers te ontwikkel
- KI-verwante navorsing en innovering te bevorder en ondersteun
- 'n Gespreksruimte te skep waar kollegas krities oor konteksgebonde en etiese KI-praktyke kan besin
As personeellid van die Fakulteit sal ons jou deelname aan die Forum opreg waardeer. Uiteenlopende perspektiewe uit ons verskillende dissiplines sal help verseker dat die werk van die Forum die behoeftes en werklikhede van die Fakulteit weerspieël.
'n Belangrike uitgangspunt van die Forum is dat studente se stemme en vennootskap sentraal sal staan. Daarom wil ons hierdie uitnodiging ook aan ons studente rig om saam hierdie inisiatief te help vorm.
As jy daarin belangstel om by te dra tot die ontwikkeling van riglyne, gesprekke oor navorsing, of toekomsgerigte KI-inisiatiewe, teken asseblief hier in:
https://forms.office.com/r/hsx6vUsgdy?origin=lprLink
Ons sien uit daarna om hierdie toekoms saam te bou.
Vriendelike groete | Ngemibuliso emihle | Kind regards
Prof Simone Titus-Dawson | PhD
Departement Gesondheidsberoepe Onderrig
US Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe
OrcID: https://orcid.org/0000-0003-3599-8918
Prof Simone Titus-Dawson is medeprofessor in die Departement Gesondheidsberoepe-onderrig en lei die Fakulteit se fokusgebied vir Digitale Onderrig en Innovasie. Haar werk fokus op tegnologieverrykte leer, waaronder spelgebaseerde leer, virtuele werklikheid, uitgebreide werklikheid en die opvoedkundige toepassing van nuwe tegnologieë.
As ontvanger van 'n Teaching Advancement at Universities (TAU)-genootskap in 2025 lei sy navorsing wat vernuwende benaderings tot onderrig en leer in gesondheidsberoepe-onderwys ondersoek. Kunsmatige intelligensie vorm 'n toenemend belangrike deel van hierdie werk. Sy is betrokke by navorsing wat ondersoek hoe KI kulturele nederigheid en storievertelling in gesondheidsorg kan ondersteun.
Titus-Dawson beskou KI as 'n hulpmiddel wat leer meer persoonlik kan maak, samewerking kan versterk en meer outentieke assessering moontlik kan maak wat die werklikheid van die praktyk weerspieël. Sy beklemtoon dat KI gebruik moet word om die kernrol van onderrig te versterk, eerder as te vervang – naamlik om leerders te ontmoet waar hulle is en hulle in hul ontwikkeling te ondersteun.
Titus-Dawson is opgewonde oor KI se potensiaal, maar pleit vir 'n verantwoordelike en mensgerigte benadering. Sy beklemtoon die belangrikheid van gelykheid, etiese praktyk, deursigtigheid en praktiese bestuursraamwerke om te verseker dat die manier waarop ons KI aanwend, nie bestaande digitale ongelykhede verder verdiep nie.
"Ek is 'n tegnologie-optimis en ek sien hoe KI ons kan help om leer meer persoonlik te maak, samewerking te ondersteun en assessering te ontwikkel wat werklik by die praktyk aansluit. Maar laat ek dit duidelik stel: Ons is nie besig om iets nuuts uit te dink nie. Ons versterk bloot dit wat ons as dosente nog altyd gedoen het – om leerders te ontmoet waar hulle is."
"Ons moet egter versigtig wees. KI moet hoër onderwys dien, nie andersom nie. Ons moet gelykheid vooropstel en voorkom dat bestaande digitale ongelykhede verder verdiep. Ons het ook etiese, praktiese raamwerke nodig om KI verantwoordelik te gebruik. Ons moet doelgerig, deursigtig en mensgerig te werk gaan wanneer ons KI in ons klaskamers inbring."
Haar werk posisioneer KI nie as 'n tegnologiese einddoel op sigself nie, maar as deel van 'n breër verbintenis tot innovasie, insluiting en betekenisvolle leer in gesondheidsberoepe-onderwys.
Verken verder
Titus-Dawson, S. 2024. 'https://www.universityworldne…'. University World News, 22 Augustus 2024. https://www.universityworldnews.com/post.php?story=20240821075959556.
Titus-Dawson, S, Meyer, R en Hansen, A. 2025. 'AI: The ‘uninvited’ guest!!'. Medical Education, 20 Mei 2025. https://asmepublications.onlinelibrary.wiley.com/doi/10.1111/medu.15683?af=R.