Voedseldiensbestuur
Gemeenskapsinteraksie – Voedseldiensbestuur
Die dieetkundiges van Menslike Voeding in die Tygerberg Akademiese Hospitaal se Voedseldienseenheid lewer ’n deurlopende voedingsdiens aan hierdie noodsaaklike eenheid. Daarbenewens is voedseldiens-dieetkundiges van Menslike Voeding ook by opleiding in staatstrukture betrokke en dien ook op versoek as adviseurs in die bedryf en vir die staat.
Dienslewering
Konsultant: Nicolette Fredericks
Hoofdieetkundige
Nicolette Fredericks
Dieetkundige
Carla Lawrence
Die dieetkundiges by die Tygerberg Akademiese Hospitaal se Voedseldienseenheid lewer die volgende deurlopende dienste:
- Beplanning van spyskaarte vir terapeutiese en normale diëte (met winter- en somer-aanpassings)
- Bydrae om seker te maak dat die gehaltebeheer, aanvaarbaarheid en higiënestandaarde nagekom word
- Versekering van optimale voeding deur voedingswaardeontleding van spyskaarte
- Ontwikkeling en standaardisering van resepte
- Saamstel van weeklikse maaltydstatistiek
- Saamstel en gehaltebeheer van die terapeutiese spyskaarte vir die privaat saal in die hospitaal en die voorsiening van dieetkundige konsultasies aan die privaat pasiënte
- Die hantering van enige dieet-/voedselverwante probleme wat in die Voedseldienseenheid mag opduik
Op versoek dra die voedseldiensbestuurdieetkundiges by tot verskeie werksaamhede wat deur die Departement van Gesondheid (Wes-Kaap) gekoördineer word en het reeds die volgende insette deur hierdie deelname gelewer:
- Bydraes tot dokumente wat vir ’n opleidingshandleiding, die Voedseldiensriglyne 2006, saamgestel word
- Opleidingshandleiding: Terapeutiese diëte
- Beleid: Voedseldienste (Wes-Kaap)
- Aanbieding: Ouditverslag vir Voedseldienste
Daarbenewens het die dieetkundiges ook opleiding oor die volgende onderwerpe vir voedseldiensbestuurders (Wes-Kaap) aangebied:
- Oorsig van HACCP
- Inhoud van SANS 10049
Die dieetkundiges het ook aan die vestiging van ’n voedseldiensbestuursforum in die Wes-Kaap deelgeneem.
Diensleer
As deel van hulle praktiese opleiding in voedseldiensbestuur, word studente in hulle finale jaar vir agt weke in voedseldienseenhede in privaat hospitale in die Kaapse metropoolgebied geplaas. By hierdie eenhede is hulle, onder toepaslike toesig, by alle aspekte van die bedryfseenheid betrokke. Hulle kry die geleentheid om die praktiese implementering van die beginsels van voedseldiensbestuur te ondervind en meer daaroor te leer. Hulle lewer ’n diens deur aktiewe deelname aan daaglikse werksaamhede, met inbegrip van spyskaartbeplanning en terapeutiese aanpassings, gehaltebeheer, voedselveiligheid en ‑higiëne, resepontwikkeling en -standaardisering, voorraadbeheer en -bestelling, personeelbestuur en personeelopleiding.
In ’n paar provinsiale hospitale in die Wes-Kaap evalueer die vierdejaarstudente ook die implementering van die voedseldiensbeleid en voedselveiligheid in die betrokke voedseldienseenhede. Volgens die uitslae van die oudits fokus hulle op spesifieke probleme en bied lesings vir die personeel by die intermediêre sorgeenhede aan, waartydens hulle die geïdentifiseerde probleme uiteensit.